Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Anél Potgieter: Ria se roly poly
Smeer konfyt oor die gekoopte, gerolde deeg. Foto’s: Anél Potgieter

Ek het ’n brief van Wesna Badenhorst van Kimberley ontvang en sy skryf: “Ek geniet jou kosrubriek in Rapport baie. Het jy dalk vir my ’n maklike en vinnige mosselresep? Dis vir mossels wat nie meer in die skulp is nie. Mooi week vir jou.”

Mosselbobotie vir Wesna

Wesna, ek het my vriendin Isabella Niehaus se mosselbobotieresep by haar gaan bedel. Dit is verruklik lekker en gebruik net mosselvleis. Sien die resep op die blad. Sy beveel ten sterkte aan dat jy haar masala-mengsel maak.

Mossels met salsa verde

Ek verkies goeie kwaliteit bevrore mossels wat nog in die halwe skulp is. Ek ontvries nie die mossels nie, gooi net ’n klein bietjie water onder in die pot, gooi die mossels in, sit die deksel op en laat dit kook-stoom vir so 5-7 minute of tot net gaar. Moet dit nie langer kook nie, dit krimp en verloor te veel vog en smaak.

Gebruik asseblief vars knoffel vir die knoffelbotter en nie die crushed garlic­gemors wat jy in bakkies koop nie.

Terwyl die mossels stoom, slaan vinnig ’n salsa verde of knoffelbotter aanmekaar. Bedien die mossels net so in ’n groot bak met die souse en ’n lang Franse baguette aan die kant. Neem ’n mossel in die skulp, sleep-skep hom deur die knoffelbotter of salsa verde en eet hom so uit die skulp.

Gebruik asseblief vars knoffel vir die knoffelbotter en nie die crushed garlic­gemors wat jy in bakkies koop nie. Ek gebruik so ’n halwe koppie gesmelte botter en drie groot gerasperde knoffelhuisies. Man, dit is nou regtig koningskos.

Skilferkorsdeeg vs. brosdeeg

Ek het ook ’n e-pos van Ria Burger van Kaapstad ontvang. Sy skryf: “Ek lees graag jou rubriek in Rapport en word dan sommer lus en maak alles! Ek vra raad: Ons eet graag roly poly, maar ek is so lui om deeg aan te maak. Kan ek gekoopte skilferkorsdeeg (puff pastry) gebruik? Wat is die verskil tussen gekoopte brosdeeg (short pastry) en skilferkorsdeeg?”

Hier is my antwoord: Die verskil tussen skilferkorsdeeg en brosdeeg is die verhouding meel tot botter. Vir eersgenoemde is die verhouding 1:1 (so 100 g meel en 100 g botter) en vir die brosdeeg is die verhouding 2:1 (dus 200 g meel en 100 g botter).

Vars uit die oond.
Roly poly

My ma het altyd roly poly uit Kook en geniet gemaak en ek het dit gou weer aanmekaar geslaan. Dit was lekker, net soos ek dit onthou.

Maar ek het toe óók ’n roly poly met gekoopte skilferkorsdeeg gebak. En?

Wel Ria, ek verkies die roly poly met ’n skilferkorsdeeg – dankie vir die inspirasie! Die tekstuur is heeltemal anders – ’n bietjie taai en vir my baie interessanter en lekkerder. So ek doop die resep nou “Ria se roly poly”.

Groete uit my kombuis

Anél, anelpot@gmail.com

Bedien Ria se roly poly met vla.
Ria se roly poly

1 pak skilferkorsdeeg (puff pastry), in yskas ontvries

+- ½ k fyn appelkooskonfyt

Sous

2 k. kookwater

1 k. suiker

2 e. botter

Voorverhit die oond tot 180 °C. Vou die deeg oop. Smeer appelkooskonfyt oor. Rol op en sny in nege dik skywe en plaas in ’n gesmeerde oondbak. Meng die sousbestanddele saam totdat die suiker opgelos is en giet oor die deeg. Bak 45 min tot 1 uur tot effens bruin bo-op. Sit voor met vla.

Salsa verde

250 ml pietersielie, fyngekap

125 ml vars basiliekruid

1 knoffelhuisie, gekap

sap en gerasperde skil van ’n groot suurlemoen (proe en voeg by indien jy meer verkies)

80 ml goeie olyfolie

sout en varsgemaalde swartpeper

Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en verpulp by hoë spoed tot glad. Geur goed met sout en peper.

Knoffelbotter

½ k. botter, gesmelt

3 knoffelhuisies, gerasper

Meng alles saam.

Mosselbobotie

(Aangepaste resep uit Duinhuis deur Isabella Niehaus)

1 kg mosselvleis

Vir die bobotiemengsel

1 e. botter

2 e. olie

3 knoffelhuisies, fyngekap

4 e. masala-mengsel (sien resep bo)

2 uie, fyngekap

2-3 k. klapperroom

1 e. appelkooskonfyt

sap en skil van 1 suurlemoen

sout, na smaak

8 eiergele, goed geklits

kerrieblare, om voor te sit

So maak mens

Voeg die botter en olie in ’n pan en braai die knoffel oor medium-hitte.

Krap eenkant toe in die pan. Voeg die masala-mengsel by en braai liggies. Voeg die uie by, gevolg deur die klappermelk, appelkooskonfyt asook suurlemoensap en -skil. Laat prut.

Proe en geur met sout of selfs nog ’n bietjie van die masala-mengsel.

Voorverhit die oond tot 180 °C. Voeg die mosselvleis by die bobotiemengsel. Laat staan vir so 10 minute om af te koel en die geure te laat ontwikkel. Voeg die geklitste eiergele by. Meng goed deur.

Gooi in ’n oondpan en bak vir ongeveer 1 uur tot ferm.

Sit voor met kerrieblare.

Masala-mengsel

(Aangepaste resep uit Duinhuis deur Isabella Niehaus)

2 e. komynsaad

2 e. fenegriek

½ e. vinkelsaad

½ e. mosterdsaad

1 e. swartpeperkorrels

½ t. sumac (opsioneel)

4 e. koljandersaad

1 e. papawersaad

1 e. sesamsaad

1 naeltjie

3 droë lourierblare

3 droë kerrieblare

1 kaneelstok

Rooster alles droog oor lae hitte. Maal alles in meule tot fyn poeier.

Die dag as jy die kerrie maak

1-2 rooi rissies

3 knoffelhuisies

¼ duim vars gemmer

2 duim vars borriewortel

olyfolie

3-4 e. masala-mengsel

Kap alles (behalwe masala) fyn in ’n voedselverwerker. Roer masala-mengsel by.

Meer oor:  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.