Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Anél Potgieter: Rooibostee met ’n warm skop

Rooibostee met ‘n warm skop.
Is die koronavirus besig om jou te tap? Wel, dit tap my tot in my diepste wese!

Só wanneer ek heeltemal moedeloos en verlore voel, sit ek die ketel aan, trek Ma Babs se mooiste blou Sondag-teekoppies nader en gaan sit in die sonne­tjie met ’n koppie rooibostee.

Ek geniet dit veral op Sondae met die Rapport in die hand.

Ek glo ’n koppie lekker sterk rooibostee is die antwoord op baie van ons probleme.
Rooibos is kalmerend

Ek glo ’n koppie lekker sterk rooibostee is die antwoord op baie van ons probleme. Rooibos het ’n kalmerende uitwerking op die liggaam, wat kan help om spanning te verlig en sodoende beter slaap te bevorder, wat noodsaaklik is om kop bo water te hou met die huidige gesondheids- en ekonomiese wêreldkrisis. Ek glo ’n paar koppies per dag is wat ek nodig het om my gemoed aan die gang te hou.

’n Natuurlike wapenrusting in die winter

Rooibostee word al meer as ’n eeu lank gebruik om verkoue en griep te bekamp. Antioksidante in die tee bevorder die liggaam se immuunstelsel en beskerm dit so teen ongewenste virusse gedurende die winterseisoen.

Adele du Toit, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Rooibosraad, sê as ’n mens op soek is na ’n natuurlike manier om verkoue- en griepsimptome te verlig, is rooibostee die antwoord.

“Dit is propvol polifenole wat die produksie van vrye radikale in jou liggaam beveg. Vrye radikale is nadelig vir jou liggaam en veroorsaak onder meer inflammasie.

“Aspalatin – ’n unieke antioksidant wat slegs in rooibostee aangetref word – kan help om jou immuniteit te verhoog,” sê sy.

’n Seer keel, wat kenmerkend is van verkoue en griep, kan ook baat vind by ’n koppie of twee rooibostee.

Hoe dan so? Wel, die tee hou jou keel klam en terselfdertyd streel dit jou keel om irritasie te verlig.

Rooibos hou jou liggaam gehidreer

Een van die belangrikste genesende funksies van rooibostee is dat dit die liggaam gehidreer hou.

Wanneer jy siek is, is ’n mens geneig om baie vloeistowwe te verloor. Dit kan wees omdat jy meer sweet (tipies wanneer jy koorsig is) en as gevolg van ’n verhoogde metabolisme, aangesien die liggaam sy interne aktiwiteitsvlak verhoog om die infeksie te beveg.

Maak seker jy drink baie rooibostee, probeer vir ses koppies per dag, vir die maksimum voordele.

Hier sit ek nou weer vanoggend met my lekker soet koppie rooibostee en die beste koerant in ons land, Rapport natuurlik, in die hand.

Saam met ’n titseltjie heuning hou dit my gemoed kalm en my liggaam gesond.

Groete uit my kombuis

Anél

anelpot@telkomsa.net

  • Besoek www.sarooibos.co.za vir meer inligting oor die gesondheidsvoordele van rooibos.

Rooibostee met ‘n warm skop.
Rooibostee met ’n warm skop

Genoeg vir 1

Bestanddele

1 k sterk rooibostee

1 t suurlemoensap

1 t heuning

½ t verkieslik vars gemmer (probeer ’n volle teelepel as dit nie vir jou te sterk is nie)

knippie rooipeper

So maak mens

Gooi kookwater in ’n beker en voeg een rooibosteesakkie by en laat dit minstens 5-6 minute lank trek. Verwyder die sakkie en roer die res van die bestanddele by.

Rooibos-aarbei-en-lemoengladdejantjie.
Rooibos-aarbei-en-lemoen-gladdejantjie

Genoeg vir 1

Bestanddele

1-2 rooibosteesakkies

125 ml kookwater

225 g bevrore aarbeie

½ lemoen, geskil en in stukkies gesny

125 g sagte tofu

1 E vanielje-proteïenpoeier

1 t heuning (opsioneel)

So maak mens

Sit die rooibosteesakkies in ’n teepot en giet kookwater oor. Laat dit vir 8-10 minute trek, verwyder teesakkies en laat afkoel. Gooi die tee, aarbei, tofu en proteïenpoeier in ’n voedselverwerker en verwerk tot glad. Versoet na smaak met heuning. Giet in glase en sit dadelik voor.

Gemmer-en-kaneel-rooibostee (‘hot toddy’)
Gemmer-en-kaneel-rooibostee (‘hot toddy’)

Genoeg vir 4

Bestanddele

sap van 1 lemoen

sap van 1 suurlemoen

1 liter rooibostee gemaak met 6 sakkies

2 kaneelstokkies

1 duimgroot stuk gemmer, geskil en fyn gekap

heuning na smaak

So maak mens

Meng al die bestanddele saam en sit die tee onmiddellik voor, terwyl dit nog warm is.

Groen rooibostee-gladdejantjie.
Groen rooibostee-gladdejantjie

Genoeg vir 1

Bestanddele

1 klein appel, gekerf

5 cm komkommer

1 selderystingel, blare ingesluit

¼ k pietersielie, stingels ingesluit

1 k babaspinasie

1/8 skyf suurlemoen, skil ingesluit

10 ml suurlemoensap

1 kiwi, geskil

¼ k rou amandels

1 E chia- of sonneblomsaad (opsioneel)

1 k groen rooibostee gebrou, verkoel

6-8 ysblokkies

So maak mens

Meng al die bestanddele, uitsluitende die ysblokkies, in ’n voedselverwerker.

Meng goed tot glad.

Voeg ysblokkies een vir een by totdat dit heeltemal gemeng is.

Sit die drankie dadelik voor en geniet dit yskoud.

Meer oor:  Anel Potgieter  |  Covid-19  |  Rooibostee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.