Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
KOSTELIK
Anél Potgieter: Superbessie-lekkernye

Wêreldwyd is daar ’n onversadigbare behoefte aan die swartblou, soetsuur supervrug bloubessies. Ek weet die klein vruggie is nie goedkoop nie, maar dit is propvol heilsaamheid en dit is iets wat ek gereeld by my dieet insluit.

Bevat antioksidante

Bloubessies bevat meer antioksidante as ander bessies soos aarbeie, bosbessies of braambessies. Antioksidante is belangrik vir jou gesondheid – dit reinig jou bloedstroom van vrye radikale en bied ook beskerming teen sonskade.

Beveg inflammasie

Bloubessies kan inflammasie help beveg, wat goeie nuus is vir mense wat sukkel met artritis.

Goed vir jou vel

Dit bevat vitamien A en C, wat met jou vel se gesondheid verbind word. ’n Dieet ryk aan bloubessies sal dus sorg vir ’n gladder, egaliger vel. Hoera!

Bloubessie-en-heuning-een-koppie-plaatkoekies

Dit is die maklikste plaatkoekies om te maak – jy het nie ’n skaal nodig om die bestanddele te weeg nie. Al wat jy benodig is ’n koppie of ’n beker. Solank jy dieselfde beker of koppie gebruik om die meel en die melk te meet!

Bloubessie-kaneelrolletjies

As jy tyd het, maak asseblief hierdie rolletjies. Hulle is sag, veerlig en bloubessie-lekker!

Gelukkig Vrouedag!

Anél

anelpot@telkomsa.net


Foto’s: Anél Potgieter

Basiese een-koppie-plaatkoekiebeslag

(Resep Anél Potgieter)

Maak +- 12-15 plaatkoekies

  • 1 eier
  • 1 koppie melk
  • 1 koppie bruismeel
  • groot knypie sout

Vir gaarmaak

botter of kleefwerende kossproei

So maak ’n mens

Klits die melk en eier saam. Klits dan die meel en sout by. Klop alles saam tot ’n gladde beslag. Sit ’n groot, kleefvrye pan op medium tot hoë hitte en smelt die botter in die pan. Kantel die pan versigtig om die botter eweredig te versprei. Skep eetlepels beslag in die pan en laat genoeg ruimte tussen elkeen sodat hulle effens kan uitsprei, sonder om aan mekaar te raak. Elke lepel maak een plaatkoekie, en jy moet dit in sarsies braai. Draai ná 1 tot 2 minute, of totdat daar klein borrels op die oppervlak verskyn en die onderkant goudkleurig is. Bak tot bruin aan die ander kant.


Bloubessie-en-heuning-plaatkoekies

Maak die een-koppie-plaatkoekiebeslag

200 g vars bloubessies

Vir bediening

heuning

So maak ’n mens

Vou die bloubessies deur die beslag en bak soos hierbo. Sit voor saam met heuning.


Heerlike veerligte bloubessie-kaneelrolletjies.Foto:
Bloubessie-kaneelrolletjies

Maak 12

Deeg

  • 1 ¼ koppie melk, louwarm
  • ¼ koppie botter, gesmelt
  • 2 ¼ t. gis
  • 1 eier, teen kamertemperatuur
  • ¼ koppie suiker
  • 3 ½ koppie meel
  • ¾ t. sout1 k
  • vars bloubessies

Vir vulsel, room alles saam:

  • 2 en 'n kwart koppie donkerbruinsuiker
  • 1 e. kaneel
  • 3 e. botter gesmelt

Vir versiersel, meng alles saam:

  • 2 ¼ koppie versiersuiker
  • 3 e. water

So maak mens

Sif al die droë bestanddele saam en voeg dan die nat bestanddele by en vorm ’n deeg.

Hou die bloubessies eenkant.

Knie vir minstens 5 minute.

Plaas in ’n geoliede bak, maak toe en laat rys tot dubbel in grootte.

Rol die deeg so 1 cm dik in ’n langwerpige vorm uit. Smeer die vulsel oor en rol op. Sny in 12 stukke. Plaas in ’n voorbereide bakplaat – los bietjie spasie tussenin.

Maak toe en laat vir nog ’n uur rys.

Voorverhit die oond tot 175 °C en bak vir 40-45 minute of tot goudbruin. Laat rus vir so 5-10 minute, skep dan versiersel oor en geniet.


Alkoholvrye wyn-spritzer

Die Duchess Drinks Studio is bekend om hul alkoholvrye jenewerdrankies. Nou bied hulle jou nóg ’n voortreflike alkoholvrye drankie: die Duchess Spritz – ’n wyn-spritzer. Ek het dit self geproe en dit is heerlik verfrissend met vrugte- en blomgeure, maar met die smaak van wyn.

Aanvraag vir alkoholvrye wyne

“Die Duchess Spritz is gebore uit die snelgroeiende aanvraag vir alkoholvrye wyne,” vertel Johannes le Roux, stigter van The Duchess. “Ons besluit toe om self een te skep, maar met ’n kinkel. Ons het met die natuurlike soet smake van vrugte- en plantekstrakte geëksperimenteer en uiteindelik die perfekte vermenging gekry om te pas by die suurgehalte van die wyn. Die resultaat daarvan is ’n ongelooflik verfrissende wyn-spritzer.”

In 2016 het The Duchess die wêreld se eerste alkoholvrye jenewer en tonikum bekend gestel. “Ons het altyd The Duchess alkoholvrye jenewer en tonikum gesien as die verpersoonliking van die elegante, gesofistikeerde en deftige dame, maar nou is dit tyd vir die Duchess om ontslae te raak van die borstrok,” sê die bemarkingshoof Talita Calitz.

The Duchess Spritz sal beskikbaar wees in twee variasies, naamlik Spritz Berry Rosé en Spritz Elderflower White.

Eersgenoemde is lig en propvol bessies met ’n verfrissende suurheid wat afgerond word deur die soetigheid van die acai-bessie, ’n vrug afkomstig van palmbome in Sentraal- en Suid-Amerika.

Spritz Elderflower White is gemaak van chardonnay. Dis vars en verfrissend met die ondertone van vlierblom (elderflower).

Hoe word dit gemaak?

Eers word al die alkohol verwyder deur ’n herdistilleringsproses. Die alkohol verdwyn, nie die wyn se geur, struktuur of balans nie.

Dit word dan deurtrek met natuurlike botaniese ekstrak en afgerond met bruiswater om die vars, ligte struktuur te skep. The Duchess Spritz is beskikbaar by Yuppiechef en Spar-winkels.


Wen

Drie lesers kan elk ’n kis van 24 botteltjies The Duchess Spritz ter waarde van R399 wen. SMS die woord “duchess” met jou naam en adres na 34581. Sluitingsdatum: 14 Augustus 2020.

Baie geluk!

Hulle wen elk ’n eksemplaar van Landbouweekblad beste gebak: JoanPerold (Milnerton), Helene Davidtsz (Hillcrest) en Anita Hern (Middelburg, Mpumalanga).

Meer oor:  Anél Potgieter  |  Plaatkoekies  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.