Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Armand gee raad: Goeie koolhidrate vs. slegte koolhidrate
Armand Aucamp
Armand Aucamp

In VIA (DStv-kanaal 147) se kosprogram nooi die akteur Armand Aucamp bekende gaste na sy kombuis om keto-resepte en raad te deel wat jou sal help gewig verloor én laat beter voel.

Nuwe episodes van Armand kook kaal wys elke Maandag om 17:30 met heruitsendings op Saterdae om 15:30.

Dié artikel weerspieël Aucamp se mening. Hy is nie mediese ’n dokter of dieetkundige nie en enige verandering van leefstyl moet eers met ’n mediese praktisyn bespreek word.

Alles begin met inkopies. Wat jy koop, gaan àlles bepaal. Daardie uitstappie na jou naaste winkelsentrum kan die maak of breek wees van goeie en slegte keuses en of jy werklik kan toepas waarna jy steef.

Die internet is ’n wonderlike ding. Alles wat jy ooit kon droom om te weet is letterlik ’n kliek weg. Van hoe jy ’n huis met tandestokkies kan bou, tot hoe jy in Russies kan vloek en selfs vliegtuigkaartjies na Bora Bora kan bespreek. Dit is alles daar.

Maar wat dieet betref, is daar soveel menings dat dit erg verwarrend raak. Watter een is die beste? Die beste vir gewigverlies? Die beste vir spierbou? Die gesondst? Die maklikste? Die vinnigste?

Dit het my jare geneem om te besef dat daar geen reg of verkeerd is nie. My liggaam is nie joune nie en wat vir my werk, werk nie noodwendig vir jou nie.

Ek leer steeds elke dag. Ek is nuuskierig en dit is vir my lekker om te eksperimenteer; om te lees, te luister en te probeer.

Die kos wat ons vandag kan eet, was selfs 100 jaar gelede nie so vryelik beskikbaar nie.

Tussen al die nimmereindigende feite deur, besef ek een ding egter terdeë: Die kos wat ons vandag kan eet, was selfs 100 jaar gelede nie so vryelik beskikbaar nie. Ander soorte kos het nog nie eens bestaan nie (dink maar aan margarien, Coco Pops, Coco Cola, bevrore pizza).

Ek wil nie preek nie, maar soos ander mense daar buite, deel ek net ’n mening.

Vir my werk ’n lae-koolhidraat of Keto-dieet. Dit maak ook vir my sin. Eet soos ons jare en jare gelede geëet het en dink na oor “goeie” koolhidrate vs. “slegte” koolhidrate. Vir my is dit eenvoudig: geen suiker of graan nie (Ook nie sekere olies nie, maar ek sal later daarby kom).

Die “slegte”:

Suiker in die vorm van vrugte (nie vrugtesap nie!) is okei, maar onthou, in die natuur kry jy vrugte net in die somer. Daar was in die ou dae nie toegang tot 147 soorte vrugte 365 dae van ’n jaar nie. Vrugte is ook oor die jare gekweek om groter en soeter te wees.

Ek vermy geraffineerde suiker (wit/bruin/goue stroop) ten alle koste. Ek eet net vrugte soos tamaties, avo en bessies wat ’n lae suikerinhoud het.

Suiker in die vorm van stysel is iets waar matigheid toegepas moet word

Suiker in die vorm van stysel is iets waar matigheid toegepas moet word. Enige groente wat onder die grond groei soos aartappel, wortel, beet en patat stoor suiker in die vorm van stysel. Dié groentes is ook al so deurmekaar gekweek dat alles groter en soeter is. Eet liewer dié groentesoorte by uitsondering.

Grane soos koring, hawermout, gort en rys het ook ’n baie hoë styselinhoud (m.a.w. suiker) en gewoonlik gluten-inhoud (behalwe rys, quinoa en bokwiet).

Baie mense het ’n gluten-intoleransie sonder dat hulle dit besef. Ek het onlangs die storie gehoor van ’n man wat sy hele lewe nog gluten geëet het. In sy vroeë 60’s het hy skielik aan erge geheueverlies begin ly en dooie kolle het op skanderings in sy brein gewys. Sy vrou het hom op ’n dieet van lae koolhidrate gesit en ’n jaar later was sy breinskandering normaal – anekdoties, maar tog interessant)

En omdat die voedingswaarde van grane bitter laag is, verkies ek om dit heeltemal te vermy. Dit geld natuurlik al die vorms van grane soos pasta, brood, koekies en meel.

Sekere olies soos canola-olie, sonneblomsaadolie, mielieolie (corn oil) ens vermy ek ook. Die olies word “industriële” olie genoem omdat dit onmoontlik is om te maak sonder erge prosesse. Dink nou net hoeveel mieliepitte of kanola-sade moet gedruk word om ’n eetlepel olie te maak. Dit gaan deur talle chemiese en verhittingsprosesse om dit te maak. Safflower-olie was tot en met die ’60’s gebruik as ’n element in kommersiële verf… kom nou!

Druk ’n olyf en daar kom olie uit. Reguit uit die natuur uit.

Die “goeie”

Kom ons hou dit eenvoudig. Kies vrugte met ’n lae suikerinhoud soos hierbo genoem. As dit by groente kom, kies groen blaargroentes soos spinasie, kool, brokkoli, blomkool, brusselse spruite en krulkool (kale). Ander goeie koolhidraat-groentes is murgpampoentjies, pampoen en sampioene.

Olie soos olyf-, neut-, avokado- of enige ander “cold pressed”-olies is fantasties. Jy kan mos dink: druk ’n olyf en daar kom olie uit. Reguit uit die natuur uit.

Nou goed, ek wil julle nie belaai met allerlei ditte of datte nie. Maar ek leef en eet volgens bogenoemde reëls en dit werk vir my.

Die geheim van enige leefstyl is om dit eenvoudig te hou. En wanneer jy voel dinge raak te gekompliseerd of oorweldigend, gaan terug na die basiese en vra jouself wat het mense lank-lank gelede geëet.

Meer oor:  Gesonde Eetgewoontes  |  Via  |  Slegte Koolhidrate  |  Koolhidrate  |  Tv-Program
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.