Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Aromatiese edelsteen

Van steen na chenin blanc. Al het die naam verander, bly dié druifsoort steeds koning, skryf Melvyn Minnaar.

In 1792 keer die VOC se skip Flute de Hoop terug na Nederland nadat hy 219 soldate by die Kaap van Goeie Hoop afgelaai het met, onder meer, ’n besending wyn aan die Here XVII.

Volgens dokumente was daar 20 lêers wit “steenwyn”, prys: 960 gulden, aan boord.

“Steenwyn”, oftewel wyn van chenin blanc-druiwe, was dus een van Suid-Afrika se eerste uitvoerprodukte.

Daardie besending het bestaan uit ongeveer 12 000 liter en sou vandag sowat R100 000 gekos het, dus R6,25 ’n bottel – amper soveel soos sogenaamde grootmaat-wyn deesdae!

En, natuurlik was die steendruif vir enigiets van soet-, droë-, laatoeswyn en brandewyn ingespan. Eksperimentering en verwerking is dus in sy natuur.

Vandag klink daardie pragtige inheemse en historiese naam vir chenin blanc, “steen”, selde op, maar die druif self sorg dat Suid-Afrikaanse wynmakers nou van die beste wyn ter wêreld daarvan maak. Chenin blanc is inderwaarheid ’n edelsteen in ons kelderkroon.

Vanjaar was daar 149 chenin-inskrywings vir die jaarlikse SA Jongwynskou (toevallig een van die oudstes in die wêreld) en Sawis het pas rapporteer dat vanjaar se verkope van chenin tussen Januarie en Mei met 62,7% gegroei het teenoor dieselfde tyd verlede jaar. Skote Petoors! soos hulle sê.

Gewild, veelsydig en lekker

Maar waarom hierdie opwinding oor die geliefde steen, 225 jaar ná Flute de Hoop se reis?

Wat chenin vandag so in die kollig hou, is die merkwaardige vaardigheid waarmee wynmakers die druiwe tot individuele persoonlikhede omskep. Die ironie is dat die druif nie moeilik en moedswillig in die wingerd is nie. Inteendeel, chenin is relatief maklik om te versorg én dit kan uitstekende opbrengste lewer.

Dit is een van die redes waarom dit aanvanklik so vroeg en wyd aangeplant is. Chenin is steeds Suid-Afrika se mees aangeplante druifsoort. Einde 2017 was daar 17 593 hektaar, wat 18,5% van die nasionale wingerd verteenwoordig.

En, natuurlik was die steendruif vir enigiets van soet-, droë-, laatoeswyn en brandewyn ingespan. Eksperimentering en verwerking is dus in sy natuur.

Die onlangse 'herontdekking' van chenin kan aan die voete van mense soos Ken Forrester, een van die stigter-motiveerders van die plaaslike Chenin Blancvereniging, gelê word.

Dit is dus twee aspekte wat chenin, ten spyte van mark- en keldermode, aantreklik maak. Die druif is geanker in ons wynkultuur, maar word juis deur avontuurlike jong wynmakers as uitdaging vir die perfekte wyn gesien.

Die afgelope paar jaar het gewys dat daardie jonges van die beste wyne ter wêreld van ouderwetse steen kan maak, wyne wat naby aan volpunte in kompetisies haal.

Chenin blanc is inderdaad die land se vlagskipwitwyn, en daarvoor staan ’n handvol kelderkunstenaars man.

As jy hul wenwyne naas mekaar proe, sal die uiteenlopende individualiteit van elkeen jou bekoor. Een van die redes vir hierdie kunstige welslae is dat min van die tradisionele wyndruiwe so presies die gekonsentreerde geure wat die smaak “wyn” suggereer, onder daardie skil in daardie sonryp korrel, vasvang.

Steen is steen is chenin blanc is wyn en kan uithaler-wyn wees.

Die onlangse “herontdekking” van chenin kan aan die voete van mense soos Ken Forrester, een van die stigter-motiveerders van die plaaslike Chenin Blancvereniging, gelê word. Dan is daar wynmakers soos Johan Joubert, Teddy Hall, Adi Badenhorst en Ginny Povall vir wie die allure van steen die uitdaging vir hul talent is. Ander fakkeldraers is jonger wynmakers soos Chris Alheit, Tertius Boshoff, Wade Metzer, Stephanie Wiid . . . Die lys groei.

Baie van hierdie avontuurlustiges gaan aanstaande Julie in Angers, Frankryk, vir die eerste keer die vlag laat wapper op ’n wêreldwye konferensie van die Académie du Chenin.

Steen se persoonlikheid

Chenin blanc is die wynmaker se druif. Die geure van die jong, geparste korrels – tropies, appels, pere, perskes en soms sweempies kaneel en naeltjie – kan in talle variasies uitgebou, beklemtoon of verwerk word.

Oorsprong verskaf gewoonlik ’n minerale karakter, dus veelsydig in die kelder. Harmonie met goeie natuurlike suur en suiker wat van ongerepte rypwording kom, gee tekstuur. Alles in plek verseker gewoonlik uitstekende veroudering – met sekondêre, diep geure wat jou na ’n ander plek neem.

Wat sê die kenners?

  • Ken Forrester, chenin-profeet:

“Ons maak verskeie wyne van chenin wat sy ongelooflike veelsydigheid illustreer. Hanteer die druif reg en hy blom. Ons Old Vine Reserve kom van dieselfde wingerd sedert 1994. Die 2007, te kry by die kelder, is merkwaardig.”

  • Attie Louw, Opstal se kelder­kuns­tenaar:

“Moet vir niemand vertel nie, maar dis vir my van die maklikste wyne om te maak. Die diepte en dimensies van hierdie wyn lê opgesluit in die kompleksiteit van die 35 jaar oue wingerd. Die sleutel is om die regte plukdatum te kies en dan moet ek net terugstaan en die sap toelaat om sy ding in ou Franse eikevate te doen.”

  • Ina Smit, bestuurder van die SA Chenin Blanc-vereniging:

“Suid-Afrikaanse chenin blanc het in onlangse jare in statuur gegroei en steeds gaan hierdie veelsydige druifsoort van krag tot krag. Die wyne ryg toekennings, plaaslik en internasionaal, in en is besig om die Suid-Afrikaanse wynbedryf in die regte rigting te stuur.”

Melvyn se keuses

    Leeuwenkuil.
    • Leeuwenkuil 2018 (R50)

    Swartland-druiwe wat deur slim en verfynde keldertegniek in taamlike grootmaat tot die lieflikste, bekostigbaarste drinkwyn omskep word. Fris, tropiese geure met ’n minerale ondertoon. Huis- én banketwyn.

      Stellenrust
      • Stellenrust 2018 (R75)

      Tertius Boshoff se meesterskap in ’n verfynde, elegante wyn wat ongelooflike waarde vir geld is. Talle vrugtegeure in harmonie, pragtige lengte, volmaak in die mond. Vir dink en drink.

        Grande Provence.
        • Grande Provence 2017 (R90)

        Krokant en fris, met al die somergeure wat jy verwag van ’n fyngeslypte wyn sonder aanwendsels. Hier gaan dit ook om die mondgevoel en digtheid wat talm.

          Ken Forrester
          • Ken Forrester Old Vine Reserve 2017 (R105)

          Van ’n ou Helderberg-wingerd, dieselfde houtvate as in 1994, dieselfde wynproses gee aan hierdie wyn grasie en status. In vele opsigte die bakermat-wyn. Vir stadig drink en wegpak.

            Opstal
            • Opstal Carl Everson 2017 (R180)

            Attie Louw het van sy Opstal-wingerde in Slanghoek uitgetrek vir nog chenin. Reeds van meet af het hierdie enkelwingerd uitstekende karakter vir sy 35 jare gewys. Natuurlike gisting (vier maande lank) en ou houtvate sorg vir perfekte afronding en wydsheid. Wegpak-wyn.

            Nederburg
            • Nederburg The Anchorman 2017 (R190)

            Met druiwe uit verskillende streke (die Paarl, Darling en Durbanville) en ’n tikseltjie hout-aanslag, is hierdie wyn ’n uitstekende voorbeeld van die wynmaker se kreatiewe spel in die kelder. Harmonie en lengte.

              Metzer.
              • Metzer 2016 (R240)

              Van die Bosrand-wingerd op Stellenbosch, in 1964 geplant, onder Wade Metzer se hand gemaak. Tipiese chenin-komplesiteit met appel, sitrus, perske, maar veral die tekstuur in die mond is tintelend.

                Donkiesdraai
                • Donkiesbaai Steen 2018 (R240)

                Van die De Tol-plaas in Piekenierskloof het Roelof Lotriet hierdie ongewone, uitgesproke en elegante wyn gemaak. Lieflike kalkagtige gevoel neffens pynappel, karamel en neute.

                Meer oor:  Chenin Blanc  |  Wyn
                MyStem: Het jy meer op die hart?

                Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

                Ons kommentaarbeleid

                Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

                Stemme

                Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.