SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Kos en Wyn
As die skaal jou skel

Daar klim ek op die skaal en skrik so ampertjies my eetlus vir die hele September weg toe ek sien wat die winter se kos en wyn aan hierdie lyf gedoen het. Ek het so mooi by die laekoolhidraat-eetpatroon gehou, maar het die afgelope koue maande al hoe meer warm pastas geëet, koeke gebak (en geëet) en rooiwyn gedrink. Die resultaat is op die skaal – ’n hele drie kilogram swaarder. O vet. Die vet spat!

Druk ‘reset’-knoppie

Ek het onmiddellik vir Vickie de Beer, skrywer van My low carb-kombuis, gebel en haar van my penarie vertel, en haar eerste woorde was: “Anél, druk jou reset-knoppie en gooi eerstens al die koolhidrate uit jou huis.”

Ek het gaan kyk en pastas, rys en suiker het intussen weer staanplek op my kombuisrakke gekry. Oy vey. Koebaai liefste penne en macaroni.

Begin deur een maaltyd in ’n lae-koolhidraat-maaltyd te verander

Vickie gee verder raad: “Jy ken jou lewenstyl, so besluit watter maaltyd die maklikste sal wees om in ’n laekoolhidraat-maaltyd te verander. Vir ons was dit ontbyt; dit was maklik om graankos met spek en eiers te vervang. Maar ’n gekookte ontbyt neem langer om voor te berei, en daarom maak ek oor die naweek ritssluitsakkies vol geras­perde kaas, hamrepies en tamatieskyfies om vinnig en maklik omelette te maak.”

Skakel al die slegte peuselhappies uit

Dit is vir my byna onmoontlik om die geroep van tjips, koekies en warm samoesas te ignoreer, en Vickie sê ek moet dit bloot nie koop nie. Omdat ek gedurig aan die gang is, stel sy voor dat ek peuselhappies soos biltong, droëwors en neute in my handsak hou om die hongerpyne te stil. “Sny ook alle ongesonde gaskoeldranke uit. Gaskoeldranke bevat reuse-hoeveelhede suiker – tot nege teelepels in net een blikkie.” Jô!

Naweekbeplanning is ’n moet

Vickie sê sy gaan naweke deur die yskas en koskaste en maak die basiese inkopielys vir die week. “Ek beplan ons maaltye vir die week en voeg die vars produkte, suiwel en vleis by die inkopielys. Ons gaan koop Saterdagoggende kruideniersware, en terwyl ons dit uitpak, sorteer ons kos in die yskas en koskaste sodat dit gereed is vir die week wat voorlê. Saterdag bak ek vinnig laekoolhidraat-broodrolletjies en ’n snoephappie soos bruintjies.

“Sondagoggende, terwyl ek Sondagmiddagete maak, is ’n goeie tyd om nog voorbereiding vir die week te doen, aangesien ek reeds in die kombuis doenig is.

“Ek maak ’n veelsydige vleiskragsop; dit prut die hele dag op sy eie sonder enige moeite. Soms sal ons ook ’n groot pot bolognaise of ’n klomp vleiskoekies vir die week maak,” vertel Vickie.

Verander meer maaltye in laekoolhidraatmaaltye

Wanneer jy jou weeklikse maaltydplan uitgewerk en ’n lys bestanddele neergeskryf het, is dit tyd om nog ’n maaltyd in ’n laekoolhidraat-maaltyd te verander. “Vir ons was dit aandete. Ek het opgehou om pasta, rys en aartappels voor te sit en dit met ’n verskeidenheid veselrige groen groentes, pampoen, murgpampoentjielinte en skorsies vervang. Kos soos fyngemaakte pampoen en blomkool-rys het baie meer smaak en geur.

“En toe ons gewoond was aan daardie soort kosse, en ons nuwe gunsteling-kombinasies vir aandete gevind het, het ek laekoolhidraat-broodrolletjies, muffins en kolwyntjies vir middagetes begin bak,” sê Vickie.

My reset-knoppie is nou gedruk, so ek hoop die kilo’s val dié keer af en nie terug op die gruwelooslike skaal nie.

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpotgieter.com

anelpot@telkomsa.net


RESEP: Sjokoladekoek

Vir ’n dubbellaagkoek, verdubbel die resep en bak die koek in 2 x 17 cm-koekpanne.

  • 300 g amandelmeel
  • 60 ml weiproteïenpoeier
  • 45 ml kakaopoeier
  • 10 ml bakpoeier
  • 5 ml koeksoda
  • ’n knippie sout
  • 250 ml suurroom
  • 80 ml xilitol, gemaal
  • 2 eiers
  • 2,5 ml vanieljegeursel
  • 100 g 70%-donkersjokolade, gesmelt
  • ’n hand vol geroosterde neute vir versiering, indien verkies

Sjokoladeversiersel:

  • 80 g botter, saggemaak
  • 180 ml roomkaas
  • 125 ml room
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 45 ml xilitol, fyngemaal
  • 30 ml kakaopoeier
  • knippie fyn kaneel

Voorverhit die oond tot 160 °C. Voer ’n koekpan met ’n deursnee van 20 cm met bakpapier uit.

Meng die amandelmeel, weiproteïenpoeier, kakaopoeier, bakpoeier, koeksoda en sout tot goed gemeng. Klits die suurroom, xilitol, eiers en vanieljegeursel in ’n aparte bak saam tot goed gemeng. Voeg die suurroommengsel en gesmelte sjokolade by die droë bestanddele en meng goed. Giet die mengsel in die koekpan en bak vir 35 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom.

Versiersel: Meng die botter, roomkaas, room en vanieljegeursel tot lig en donsig. Voeg die xilitol, kakaopoeier en kaneel by en meng goed. Smeer die versiersel oor die koek wanneer dit heeltemal afgekoel het en versier met die geroosterde neute, indien verkies.


RESEP: Lasagne

Genoeg vir vyf, met oorskiet

  • pastavelle
  • 2 eiers
  • 120 g roomkaas
  • 150 g gerasperde mozzarellakaas
  • 30 g gerasperde parmesaankaas

Vir die sous:

  • 45 g botter
  • 250 ml room
  • 125 ml crème fraîche
  • 120 g mengsel gerasperde mozzarella- en cheddarkaas
  • 5-10 ml psilliumvesel
  • 1 kg gaar maalvleis bolognaise

Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n 22 x 33 cm-bakplaat met bakpapier uit. Klits die eiers en roomkaas saam tot goed gemeng. Vou die mozzarella- en parmesaankaas in.

Smeer die mengsel op die uitgevoerde bakplaat en bak vir 20 minute of tot effens goudkleurig. Laat afkoel, en sny dan in drie ewe groot velle. Haal die bakpapier uit. Maak die witsous. Smelt die botter in ’n klein kastrol en voeg die room, crème fraîche en kase by. Roer terwyl dit oor lae hitte prut totdat al die kaas gesmelt het. Strooi die psilliumvesel oor die sous en klits goed sodat geen klonte vorm nie.

Om die lasagne aanmekaar te sit, gebruik ’n reghoekige oondbak van sowat 25 x 15 cm. Skep van die bolognaise in die bak en plaas een van die pastavelle bo-op, gevolg deur nog ’n laag vleis. Giet ’n laag van die witsous oor, gevolg deur die vleissous. Herhaal die lae, en eindig met ’n dik laag witsous. Bak in die oond vir 25 minute tot goudkleurig.

Foto:
  • Resepte en kos­foto’s uit My low carb-kombuis deur Vickie de Beer. Uitgewer: Quivertree Publications.
Meer oor:  Lasagne  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.