Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
As pap melk word

Ek het grootgeword met bottels melk wat deur die melkman douvoordag by ons voordeur afgelewer is. Ma het die aand voor die tyd koepons in die leë glasmelkbottels gegooi, die bottels buite die voordeur gesit en die volgende oggend was daar heerlike vars melk op die stoep. Ek glo ook nie daar was te veel melk gepasteuriseer nie. Dit was so vars en ek is seker daardie melk het direk van die koei se speen in die bottels beland.

Hawermoutmelk werk wel saam met koue koffie en whiskey. Hoera!

Die melk was ook nie afgeroom nie – die dik geel room het bo-op gelê en ons het daardie romerige melk behaaglik gedrink en met ’n roomsnorretjie ná die tyd gespog. Melk was ’n groot deel van ons dieet – soggens het ons pap en melk gekry vir ontbyt, ná middagete het ons ’n glas melk gekry om te drink en tussenin het ons melk en koekies as versnapering geniet. Toentertyd het melk nie vet gemaak nie, ook nie cholesterol verhoog nie, en niemand wat ek geken het, was allergies daarvoor nie.

Alternatiewe vir koeimelk

Deesdae is daar ’n verskeidenheid suiwelvrye melk beskikbaar wat veral om gesondheidsredes gebruik word. Hier dink ek veral aan mense wat suiwel-intoleransie het, want kyk, hulle moet ’n hele paar rande vir alternatiewe opdok. Vat nou maar klappermelk: Dit kos ongeveer R50 per liter! Amandelmelk kos R47, en rysmelk R44 per liter. Ja! *grootoog-emoji*.

Nogal ’n duur storie, so, ek het gaan kyk hoe ons dit self by die huis kan maak en het op die koop toe ’n baie interessante melk, hawermoutmelk, ontdek. Onthou net dat die melk wat jy by die huis maak nie altyd so romerig soos die winkelmelk is nie, want die vervaardigers voeg allerhande preserveermiddels by om dit romeriger te maak en om dit langer te laat hou.

Hawermoutmelk

Hawermoutmelk is deesdae wêreldwyd op almal se lippe en is nog nie juis op ons rakke beskikbaar nie. As jy dit wel in ’n gesondheidswinkel raakloop, sal dit jou so R35 per liter uit die sak jaag. Pinterest voorspel dat dit in 2019 al hoe meer in aanvraag gaan wees – dit is suiwelvry, neutvry, goedkoop en maklik om self by die huis te maak.

Hoe proe hawermoutmelk?

Dit is ryk en romerig, met ’n natuurlike hawermoutgeur. Ek het so ’n klein bietjie vanieljegeursel en ’n lepeltjie heuning bygevoeg en dit oor ys gedrink. Dit was regtig verfrissend lekker en het so drie dae in my yskas gehou. Wanneer jy dit weer wil gebruik, moet dit net goed geroer word.

Werk dit in koffie of tee?

In koffie en tee werk dit nie vir my nie, maar ek dink dit sal goed werk in koeke en ander gebak as jy melk wil vervang.

My lekk erste whiskey-en-hawermoutmelk-skemerkelkie

Hawermoutmelk werk wel saam met koue koffie en whiskey. Hoera! Ek het die heerlikste skemerkelkie gemaak met Amerikaanse whiskey (bourbon), koffie, Kahlúa, heuning en hawermoutmelk. Ek verkies die bourbon omdat dit subtiele karamel- en vanieljegeure van die houtvate waarin dit verouder, bevat.

Hawermout en die whiskey trou op die ys in die martini-glas en dit is ’n lieflike somerskemerkelkie wat ná ete bedien kan word.

Groete uit my kombuis

Anélanelpotgieter.com

Hawermoutmelk

Foto’s: anél potgieter

1 koppie hawermout

1 liter water

Blits die hawermout en water vir minstens 3 minute in ’n voedselverwerker. Gooi die mengsel deur ’n melkdoek sodat dit al die klein hawermoutdeeltjies kan opvang. Druk dan al die vloeistof met jou hande uit. Dit neem ’n bietjie tyd, maar dit is die moeite werd. Verkoel in yskas.

Anél se whiskey-en-hawer-moutmelk-skemerkelkie

(Maak twee skemerkelkies)

3 e bourbon (Amerikaanse whiskey)

2 e Kahlúa

¼ koppie koffie

4 e hawermoutmelk

1 e heuning

knippie sout

Skud al die bestanddele goed saam. Bedien saam met kleiner ysstukke in ’n martini-glas.

Nog suiwelvrye melk

Klappermelk

Ek gebruik klappermelk net in Thai-groenkerriegeregte of om roomys mee te maak. Dit word meestal in blikkies verkoop, maar is ook vars beskikbaar.

Maak só jou eie: Blits 1 koppie onversoete gedroogde kokosneutvlokkies (nie klapper nie – die vlokkies is by gesondheidswinkels beskikbaar) met 2 koppies kookwater en laat dit vir 5 uur staan. Gooi die mengsel deur ’n melkdoek sodat dit al die klein klapperdeeltjies kan opvang. Verkoel.

Rysmelk

Rysmelk is hoog in koolhidrate en dit bevat minder proteïen as ander suiwelvrye melk. Die rysmelk wat jy in winkels koop, word gewoonlik verdik om dit ’n romeriger smaak te gee.

Maak só jou eie: Kook 1 koppie bruinrys met 3 koppies water, 1 t kaneel en 1 t heuning. Wanneer dit gaar is, blits met 4 koppies water en gooi die mengsel deur ’n melkdoek sodat dit die rysdeeltjies opvang. Verkoel.

Amandelmelk

Amandelmelk is seker die gewildste suiwelvrye melkalternatief. Dit het ’n wonderlike neutgeur en werk goed in gebak en warm aanddrankies.

Maak só jou eie: Week een koppie amandels oornag of vir 8 tot 12 uur. Spoel die amandels af en verwyder die bruin skilletjies. Gooi saam met 1 liter water in ’n voedselverwerker en blits vir ’n paar minute tot glad. Gooi die mengsel deur ’n melkdoek sodat dit al die klein amandeldeeltjies kan opvang. Maak ook amandelmeel van die amandelpulp deur dit te droog en fyn te blits.

Meer oor:  Kostelik  |  Melk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.