Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Aspersie in tert, op kole, as ontbyt

Lente se vrugte- en groente-natuurgeskenke kom in die baldadigste kleure voor – dink net aan bloedrooi aarbeie, oranje papajas, pers beet, pienk koejawels en daardie slanke grasgroen aspersies. Aspersies is in ’n smaakliga van sy eie en ek en my Ier gaan in ’n totale lente-aspersiekoors in. As kind het ons net geblikte aspersies geken, en as Ma Babs grênd wou wees, het sy dit met gekoopte mayonnaise en gerasperde gekookte eiers bedien. Ek wil vandag my oë rol vir dié storie, maar ek mog nie, want toe het ons almal gedink dit is hemels!

My Ier se aspersiekoors

My Ier gooi die aspersies oor die kole en bedruip dit met olyfolie en suurlemoensap. Hy maak ook ontbyt met geblansjeerde aspersies, geposjeerde eiers en hollandaise-sous. Ja, hy kan, hoor!

Aspersies is nou in seisoen. Ek en my Ier kan nie genoeg kry nie.

Driekaas-aspersietert

My gunsteling-aspersiegereg is my drie-kaas-aspersietert! Ek kan die hele tert alleen opeet! Daardie romerige kaas . . . mmm. Umami saam met die aspersie laat my van al die kaas-kalorieë vergeet. Dit is boonop maklik en vinnig om te maak. Ek is lief om filodeeg te gebruik, maar blaardeeg werk net so goed.

Palmier-broodpoeding

Van aspersies tot broodpoeding. Ek het die afgelope week die lekkerste vorm van ’n “broodpoeding” geproe – ’n palmier-broodpoeding. Die brood word vervang met palmier-beskuitjies – ek het grootgeword met die naam varkore. En julle?

Dié heerlike poeding word in stede soos Dubai geëet en Google het my gelei na ’n maklike resep wat ek aangepas het.

Dit is my poedingontdekking van die jaar en ek raai julle almal aan om dit vir jou volgende Sondagmiddagete-soetbelustigheid te maak.

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpot@telkomsa.net

Japanse Konro-tafelbraai

Só braai die Japannese. Foto’s: Anél Potgieter

Ek het dié sexy klein Konro-tafelbraai vir die eerste keer op Instagram gesien en het dadelik navraag gedoen – dit was toe nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie, maar is nou aanlyn te koop.

Dié braaiertjies word gemaak van diatomiet, ’n fossielneerslag wat in die See van Japan gemyn word.

Dit is ’n splinternuwe en opwindende manier van eet – elke gas aan tafel kry sy eie rooster en warm kole en maak dan sy eie klein stokkiekos of groente gaar. Jy as gasvrou kan voor die tyd ’n verskeidenheid klein rou happies soos stukkies hoender, steak, garnale en groente op die tafel uitpak – amper soos ’n fondue, maar jy braai net jou kos gaar, en dit is natuurlik gesonder. Dit is ook lekker interaktief en val so reg in ons braaimal nasie se kraal.

Die halloumi-stokkies met druiwe is heerlik en werk perfek vir die roostertjie.

Gebraaide halloumi-en-druiwe-stokkies

reguit en ferm roosmaryntakkies, haal die onderste gedeelte van die takkie se blaartjies af (hou die blare)

halloumi-kaas in blokke gesny

pitlose druiwe

roosmarynblare, gekap

’n handvol pietersielie, gekap

’n handvol tiemie, gekap

’n handvol origanum, gekap

’n knoffelhuisie, gerasper

olyfolie

swartpeper na smaak

Meng al die kruie en knoffel in ’n bak en bedek met olyfolie. Geur met peper.

Voeg die halloumi en druiwe by, meng goed en marineer vir ’n uur. Ryg die halloumi en druiwe op die roosmaryntakkies en braai oor medium kole totdat die halloumi aan alle kante bruin is.

Driekaas-aspersietert

Aspersies werk heerlik in ’n tert. Foto: iStock

4 filovelle of 1 pakkie blaardeeg

olyfolie

250 g ricottakaas

125 g gladde laevet-maaskaas

50 g parmesaankaas, fyngerasper

1 knoffelhuisie, gerasper

sout en gemaalde swartpeper

400 g groen aspersies, geblansjeer

nog ’n bietjie olyfolie

nóg 50 g parmesaankaas, fyngerasper

sout en gemaalde swartpeper

Voorverhit die oond tot 180 °C. Borsel ’n vierkantige oondbak van 20 cm met olyfolie. Sny die filovelle in die helfte. Plaas ’n laag filo in die bak. Borsel met olie en herhaal met die oorblywende lae. Indien jy blaardeeg gebruik, voer jou tertpan met blaardeeg uit. Meng die ricotta, maaskaas en parmesaankaas om ’n dik pasta te vorm. Voeg die knoffel by en geur na smaak. Skep die kaasmengsel op die deeg en maak die bokant glad. Druk die geblansjeerde aspersies in die kaasmengsel in. Geur weer met ’n bietjie sout en sprinkel ’n bietjie olyfolie en die ander 50 g parmesaankaas oor. Bak vir 30 minute of totdat die deeg goudbruin en deurgebak is.

Sit warm of teen kamertemperatuur voor.

Palmier-broodpoeding

Palmier-broodpoeding. Foto:

(Resep: Anél Potgieter)

500 g palmier-beskuitjies (varkore)

1 liter melk

100 g suiker

1 koppie room, geklop tot medium pieke

½ koppie geroosterde haselneute, grofgekap

½ koppie pistasieneute, grofgekap

½ koppie sultanas of rosyne (of gemeng)

Voorverhit die oond se roosterelement tot 200 °C. Breek so driekwart van die palmier-beskuitjies in die helfte en rangskik dit in lae met die neute en sultanas in ’n bakpan. Gooi die melk en suiker in ’n pot en bring tot kookpunt – roer totdat die suiker opgelos is.

Giet die kokende melkmengsel oor die beskuitjies. Plaas nou die res van die beskuitjies bo-op. Dit sal ’n ekstra krakerige bolaag skep.

Smeer die geklopte room egalig oor om die hele oppervlak te bedek. Plaas die skottel in die middel van die oond onder die roosterelement en bak totdat dit langs die kante borrel en die bokant goudbruin word; ongeveer tien minute. Bedien met ekstra geklopte room of roomys.

WEN

Een leser kan ’n Japanse Konro-tafelbraai ter waarde van R1 050 wen. SMS die woord Japan, jou naam en ’n afleweringsadres na 34581. Grills of Japan (www.grillsofjapan.com) voer die unieke braaiers in en bied ’n groot verskeidenheid wat wissel in grootte.

Meer oor:  Anél Potgieter  |  Kostelik  |  Groente  |  Vrugte  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.