Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Avokado kry nuwe pasmaats
Kostelik:

’n Foto van ’n avokado met ’n goue karameljassie oor, op die hoogaangeskrewe internasionale kostydskrif Saveur se webblad (saveur.com), het my aandag getrek. Eers het ek na die foto van die halwe avokado met die krakerige soet bolaag gekyk en my kop geskud.

“Is die mense dan gek?”, het ek gewonder. Dit wou sin maak, maar dit wou ook nie. Maar tog het die Cupido-pyltjie my koshart getref en ek moes dit net uittoets.

Avokado en karamel

Avokado word al hoe meer in soet geregte gebruik, soos avokado­sjokolademousse en avokadobruintjies – maar ek is nie ’n groot fên nie. Die sjokolade oordonder die delikate geur van die avokado.

Maar die avokado en karamel is ’n ander storie – die botteragtige, romerige tekstuur en sagte avokado-smaak werk op ’n magiese wyse met die bittersoet karamel en soutvlokkies. Ek is smoorverlief. Die nuwe twee pasmaats is ideaal as nagereg op sy eie of saam met roomys. Saveur beveel ook aan dat jy dit op roosterbrood eet, maar ek het nie daarby uitgekom nie – dit is te vinnig in my keelgat af.

Die gereg is amper te eenvoudig om ’n resep genoem te word, maar dit is ’n heerlike en verrassende smaakontdekking.

Avokadoslaai met BBQ-sous

My vriendin Mirriam Toni het ook ’n avokado-resep met my gedeel wat my kop op ’n goeie manier deurmekaar gemaak het – avokado met ’n warm braaisous.

Weer eens het ek gedink: “Mirriam jy is darem nou lekker laf!” Maar, die romerige smaak kry ’n lekker hupstoot met die BBQ-sous, en die neute gee daai krakerige tekstuur waarna ’n mens so smag. Dis iets wat ek definitief weer gaan maak.

Ek weet vir baie klink my avokado-stories vandag vreemd, maar partykeer moet jy net sê: Wat de hel, kom ek probeer dit!

En hoekom nie? Die lewe is te kort om avokado’s op hul gewone slaai- en broodbaadjie te takseer.

Hierdie twee geregte is twee smaak-eksperimente wat ek nooit gedink het sou werk nie, maar wat iets baie opwindends opgelewer het nie. Probeer gerus en laat weet my wat julle dink.

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpot@telkomsa.net

Avokadoslaai met warm BBQ-sous

Mirriam se avokadoslaai met warm braaisous.Foto:

(Resep: Mirriam Toni)

8-10 porsies

3-4 ferm ryp avokado’s

suurlemoensap

30 ml gesoute kasjoeneute of gemengde neute, grofgekap

Sous

2,5 ml hoenderaftrekselpoeier

100 ml water

50 ml tamatiesous

5 ml Worcestershiresous

25 ml suurlemoensap

25 ml bruinsuiker

groot knippie rissiepoeier

’n paar druppels Tabascosous

Meng die bestanddele vir die sous in ’n klein kastrol en bring tot kookpunt.

Haal van die stoof af en sit eenkant tot benodig. Skil die avokado’s net voor opdiening, sny dit in agtstes en plaas op ’n opdienbord. Verf of bedruip met suurlemoensap en strooi die neute oor. Verhit die sous ’n klein bietjie voor opdiening en giet oor die avokado’s. Sit dadelik voor.

Avokado met karamel en soutvlokkies

Avokado met karamelsous klink dalk vreemd, maar dis heerlik. Foto’s: Anél Potgieter

(Resep: Aangepaste resep van saveur.com)

2 ryp avokado’s

1/2 koppie suiker

maldonsout (vlokkies)

Rangskik die avokadohelftes, snykant na onder, op individuele borde of ’n groot opdienbord.

Gooi die suiker in ’n nie-klewerige pannetjie en verhit tot medium hoog. Skud die pannetjie af en toe totdat al die suiker gesmelt en ’n amberkaramelkleur gekry het. Moet dit nie roer nie. Gooi die warm karamel dadelik oor die avokado’s en sprinkel die sout oor. Laat die karamel afkoel sodat dit verhard, sit net so of met roomys voor.

Sondagmiddag is vir familiekos

Ek het onlangs by Klein Roosboom (’n boetiekwynplaas en restaurant) tussen die heuwels van die Durbanvillevallei gaan kuier. En was dit nou nie lekker nie!

Eers het ons aan heerlike pryswenner-wyne geproe en daarna by die kontemporêre restaurant Jéan vir middagete aangesit. Karin de Villiers is die kreatiewe en passievolle eienares en gasvrou, en soos sy is die oestafelmiddagete sonder fieterjasies.

Bakke vol kos word op jou tafel neergesit (soos ’n Sondagmiddagete by jou huis) en almal om die tafel help hulself. Ons het begin met varsgebakte geroosterde tamatie-focaccia met labneh.

Daarna het ons tafel gekreun onder fior di latte (’n tipe vars mozzarella-kaas) en vye, geroosterde Marokkaanse gort-tabbouleh, gebraaide hoender met lemmetjie en spekbotter en 13 uur lange gebraaide beesborsstuk met balsamiese tamaties en salsa verde.

Ek kon nie lekkerder gekuier het nie. Dit was ’n geurontploffing en ons is met ’n groot boks brakkiesakkies huis toe. Die kos is nie-pretensieus – sonder “schmears” en skuim – kreatiewe huiskos wat al die gaste beïndruk het.

Jéan-restaurant by die Klein Roosboom-boetiekwynplaas is langs die M13 (Tygerbergvalleiweg) in Durbanville. ’n Sondagmiddagete kos R350 per persoon.

Meer oor:  Anél Potgieter  |  Kostelik  |  Resensie  |  Kos  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.