Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Baie vissies in die strandmeer
Jan Braai braai forel by die ­Mosaic Lagoon Lodge. Foto’s: Guillaume Bosch

Duskant Hermanus kry jy die dorp Stanford. Rustiger, stiller; nader aan die Baardskeerdersbosgebied se rooikransbraaihoutbronne en nader aan die Gansbaaihawe se visbraaibronne.

Die strandmeer tussen die twee dorpe se naam is die Kleinrivierstrandmeer.

Nou so min of meer oorkant die Kleinrivierstrandmeer van Hermanus af sit die Mosaic ­Lagoon Lodge.

Die selfsorgeenhede het kaggels in die woonkamer en ’n heerlike braaiplek in die tuin. As jy iemand soek om jou pantoffels voor die bed reg te skuif en jou leesbril te poets, is daar ook ’n duurder opsie.

Maar as jy met randelas betaal, stel ek voor jy gaan vir die selfsorghuisies, want ek dink dit is heel luuks om so in die skadu van ’n melkhoutboom te staan en braai met die oorvloed droë hout wat voorsien word.

Die plek het ’n interessante geskiedenis. In die 1850’s het die Skot Duncan McFarlane die gebied rondom die strandmeer as plaasgrond gekoop en in 1892 het sy kleindogter Henrietta en haar man die ikoniese kalksteenhuis op die skiereiland gebou.

Maar Henrietta was lief vir partytjie hou in die watergate van Hermanus en het gevind dat ry met ’n boot op ’n winderige aand te woes is, en ry met ’n ossewa al om die strandmeer te ver.

Een aand in die laat 1800’s ry Henrietta toe een laaste keer per boot oor die strandmeer Hermanus toe, met haar kind in die een arm en haar gunstelingmat oor die ander skouer. Die kalksteenhuis het dekades lank leeg ­gestaan.

Die Amerikaanse egpaar Breese en Kathryn Johnson het die plaas toe in 2002 gekoop en in 2007 met die restourasie van die oorspronklike kliphuis begin.

Hulle was daar tydens my besoek en is loshande twee van die aangenaamste mense met wie ek nog te doen gehad het.

Twee goed wat jy móét doen:

1. Sit aan vir ontbyt en eet die piesangbrood-french-toast.

2. Doen een ding met Vitalis Chingo as jou gids. Om ’n uur lank na sy mooi stem en stories te luister maak jou heerlik rustig.

Braai 'n vars forel

As jy lus voel om vir aandete ’n vars forel te braai, gaan kry jy een by die Kleinrivier-forelplaas, net rivierop van die lodge af.

Jy benodig (vir 6 mense)

1 vars forel, skoongemaak van skubbe en binnegoed

1 sopie olyfolie

1 sopie growwe sout

1 teelepel swartpeper

3 huisies knoffel (geskil en gekap)

3 vars suurlemoene

1 bossie vars vinkel

Maak so

1. Sny ’n paar dwars kepe aan albei kante van die vis. Smeer die hele binne- en buitekant van die vis met olyfolie.

2. Smeer ook die hele vis van binne en buite met growwe sout en ’n bietjie swartpeper.

3. Stop die kepe en binnekant van die forel met vars vinkel ­sowel as stukkies knoffel.

4. Bedruip die hele vis met suurlemoensap, en sit ’n paar suurlemoenskywe in sy maag.

5. Plaas die vis in ’n toeklaprooster en braai hom vir so 10-15 minute oor warm kole.

6. Soos hy van die vuur af kom, bedruip jy hom met nog vars suurlemoensap, en jy sit hom voor met ’n strooisel sout en ’n koue glas wyn.

* Die Jan Braai vir erfenis-TV-reeks, wat al Jan se braai-avonture met die nasie deel, is Vrydae om 18:30 op ­kykNET (DStv-kanaal 144). Hierdie week kuier hy by die Mosaic Lagoon Lodge en die Kleinriverkaasplaas.

Meer oor:  Stanford  |  Jan Braai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.