Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Bak ’n blommekoek

As kind het ons elke naweek ’n groot sjokolade- of vanieljekoek gebak. Ons het laasgenoemde sommer ’n witkoek genoem. Die versiersel is met die hand van plaasbotter en versiersuiker gemaak en geklop tot lig en romerig.

Vir die sjokoladekoekversiersel is kakaopoeier bygeklop, en vanieljegeursel het die witkoekversiersel daardie unieke smaak gegee. Die koeke is dan in ’n baie rustieke styl met ’n kombuismes se draaie en swaaie aanloklik geklee en dit het lieflike teksture aan die versiersel gegee. Dit was altyd my Sondag-teetyd-trots!

Later het dit oudmodies geraak en almal wou gladde, perfekte skoukoeke voorsit. Maar ek kan vandag goeie nuus meedeel: Daardie 1970’s en ’80’s se koekversiertendense is nou weer hoogmode!

Perfek afgewerkte koeke sing hul laaste swanesang en ek slaak saam met almal ’n massiewe sug van verligting, want ek kon nog nooit die perfekte afrondingstorie regkry nie.

Versier jou koek rofweg sodat daar baie tekstuur is. Foto: iStock

Koekversiertendens 1: Tekstuur

“Hou op om jouself af te sloof om die perfekte skerp randjies en die perfekte gladde tekstuur te skep. Gebruik ’n versierselmes en met vinnige op- en af- en sirkelbewegings gaan dit tekstuur en beweging aan jou koekskepping gee,” sê Grace Stevens, een van ons land se voorste koekversierfoendi’s.

Dis nou hoogmode om ’n koek met vars blomme te versier. Foto: Anél Potgieter

Koekversiertendens 2: Blomme

Grace sê verder dat vars, eetbare blomme op koeke die wêreld aan die gons het. Gebruik eetbare blomme soos viooltjies, petunias, magrietjies, rose, kappertjies en komkommerkruidblommetjies.

“Moet ook nie die blare van die blomme vergeet nie,” sê Grace. “Jy het die groenigheid nodig om die blommekoek af te rond. Almal is baie lief om klimop (ivy) te gebruik, maar ek sal dit liefs afraai, aangesien dit eintlik giftig is om te eet.”

Dis nou hoogmode om ’n koek met vars blomme te versier.

Koekversiertendens 3: Halfnaaktekoek met blomme

Die “halfnaakte”-koek is al ’n jaar of twee hoogmode, maar as jy nou in die koekkol wil wees, moet jy dit met vars blomme versier. Ek plaas ’n foto van ’n koek wat ek twee jaar terug gemaak het – ek was toe al in die kol vir 2019 lyk dit my.

Komkommerkruidblommetjies is ook eetbaar. Foto: Anél Potgieter

Blommebroskoekies

My vriendin Melandie het nou die dag ook blomme gebruik en het pragtige blommebroskoekies gebak.

Dié soethappies is pragtig en perfek vir die lente.

Sy gee ook die wenk dat indien jy nie ’n koekiedrukker het nie, jy dit met ’n gewone drinkglas kan uitdruk. Die deeg kan vooraf gemaak word en tot twee dae in die yskas gehou word.

Lekker bak en versier! Uiteindelik weer sonder die stres van perfekte verwagtinge van hoe dit moet lyk, behalwe natuurlik lip-lekker-, kan-nie-wag-nie-versoekings.

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpot@telkomsa.net

Vanieljesponskoek

Die halfnaakte koek met blomme wat Anél twee jaar gelede gebak het. Foto: Anél Potgieter

(Resep deur Grace Stevens)

3 groot eiers

250 ml strooisuiker

250 ml volroommelk

125 g botter

440 ml koekmeel

15 ml bakpoeier

5 ml vanielje-ekstrak

Botterroomversiersel

125 g botter

300 g versiersuiker

45 ml melk

pulp van drie grenadellas

Vir versiering

vars eetbare blomme

Koek: Voorverhit die oond tot 180 °C en voer twee ronde koekpanne van 20 cm met bakpapier uit.

Plaas eiers en suiker en vanielje-ekstrak in die bak van ’n koekmenger en klits op hoog tot lig en dik. Verhit die melk en botter tot die botter gesmelt is. Moenie kook nie. Sif die meel en bakpoeier saam. Draai die menger tot op die laagste spoed en voeg ’n derde van die meel en ’n derde van die melk by, herhaal met die oorblywende melk en meel. Eindig met meel.

Verdeel die beslag tussen die twee koekpanne. Bak vir 25 tot 30 minute. Haal dit uit die oond en verwyder die koeke dadelik uit die koekpanne. Verkoel op ’n draadrak.

Botterroomversiersel: Plaas die botter in die bak van ’n koekmenger. Klop met die ‘K’-klopper tot bleek. Voeg versiersuiker by en klits goed. Gooi die melk en grenadellapulp by en meng goed saam.

Versier koeke met die botterversiersel en rond af met vars blomme.

Blommebroskoekies

Melandie se pragtige blommebroskoekies. Foto: Verskaf

(Resep: Melandie Esterhuizen)

100 g versiersuiker

200 g botter

300 g koekmeel

gerasperde skil van 2 lemoene (opsioneel)

5 ml vanielje-ekstrak

eetbare blomme

1 eierwit

Voorverhit die oond tot 180 °C. Plaas versiersuiker, botter, koekmeel, skil en vanieljegeursel in ’n groot bak. Vryf die botter met jou vingerpunte in die meelmengsel in totdat dit ’n deeg begin vorm.

Bedek die deeg met kleefplastiek en laat rus vir 30 minute in die yskas. Rol die deeg liggies tot 5 mm dik uit en druk die gewenste vorm uit. Borsel elke koekie met bietjie eierwit. Plaas ’n eetbare blom op elke stukkie deeg en borsel die blom ook met eierwit. Plaas op ’n uitgevoerde bakplaat en bak vir 8-10 minute of tot die randjies goudkleurig begin raak. Laat afkoel.

Woon gerus een van Grace Stevens se koekversier-werkseminare by. Vir meer inligting besoek haar webtuiste - gracestevens.co.za

Hulle wen: Elkeen wen ’n eksemplaar van Teepartytjie deur prof. Elain Vlok. Rina Oosthuizen (Wesselsbron), H.J. Roets (Pretoria), Christa de la Rosa (Zeerust), Jennifer Streso (Humansdorp) en Bettie de Beer (Klerksdorp).

Meer oor:  Blomme  |  Bak  |  Koek  |  Resep  |  Kostelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.