Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Dié appel is vir Eva

Die slegte deel

Nie net het Zuma hierdie maand ’n riller van ’n week gehad nie, maar ek ook. My hondekind, Robbie, moes ’n noodoperasie aan sy pootjie kry (hier wil ek nie eens praat oor veeartse en hul rekeninge nie, want dit is nou vir jou iets waaroor ek al hoe meer bedonderd raak). Op pad terug huis toe het my kar gaan staan en moes ek en Miemie (’n engelvrou wat my gesien sukkel en gestop het) die kar uit die pad stoot terwyl agter-die-boerewors-gordyn-mans in hul groot 4x4’s verby ry en op hul toeters lê omdat ons die pad versper. En ja, ek hét my middelvinger gebruik.

Anél het gaan appels pluk en proe op die Oak Valley-appelplaas in die Elginvallei.

Dit was nie al nie, ek werk aan ’n nuwe TV-program en ons het beplan om in Struisbaai ’n visvang-insetsel te skiet. ’n Oproep van die vissermanne ’n dag voor die tyd dat daar ’n stormwind gaan waai, het ons gedwing om die hele insetsel te skuif (en storielyne te verander) na ’n gebied sonder wind.

In die TV-bedryf kanselleer jy nie sommer ’n shoot nie, jy máák dit werk, want jy het klaar die produksiespan bespreek en dit kos geld. Alles is toe geskuif na Franschhoek en ten spyte van al die spanning is die insetsel geskiet.

Die lekker, deel een

Maar daar was ook lekker tye in daardie week. Inderdaad, daar is altyd ’n silwer randjie! Jacob Zuma het bedank! Wie sou ooit kon glo dat die drommel my silwer randjie (mense noem dit nou ’n Cyril-randjie) sou word? Hoera! Ek het die boodskap van sy bedanking op my selfoon gekry toe ons op Oak Valley in Elgin ’n appel-insetsel geskiet het. Daar staan ek toe soos Eva met die lekkerste, mooiste en soetste Bigbucks-appel in my hand en dink: “Hel, sonder ou Showerkop bly ons mos nou in ’n Afrikaparadys.”

Bigbucks is ’n nuwe en beter kloon van die Gala-familie. Buks Nel, Tru-Cape se kultivar-deskundige, het die juweel op 18 Januarie 2011 in ’n boord op die Oak Valley-landgoed in Grabouw ontdek.

Nel sê: “Daar bestaan ’n mite dat rooier vrugte minder geurig is, maar dis sommer ’n wolhaarstorie. Bigbucks is pragtig om na te kyk en heerlik om te eet.” Ek glo jou, Buks!

As ek Eva was en Bigbucks aan die boom gesien het, sou ek hom ook gepluk en in sonde verval het. Die appel is die pragtigste dieprooi, as jy dit byt is dit krakerig, die sop spat en die appelsmaak is uniek. Dit is definitief die heel lekkerste en geurigste appel wat ek al in my lewe geëet het. Dit is nie ’n kookappel nie, maar ’n appel wat jy blink vryf en hom so uit die vrugtebak met skil en al eet.

Die lekker, deel twee

So, toe pres. Cyril Ramaphosa die Vrydagaand sy staatsrede lewer, was ek moeg, gatvol en het met ’n stywe whiskey soos ’n ou vrot vel op die bank gelê. Ek moet erken ek was dankbaar dat my rillerweek verby was, en ek het vir die eerste keer in jare die volle staatsrede woord vir woord geluister. Ek kry nou nog hoendervleis as ek daaraan dink.

Anél se staatsrede-aandete. Foto’s: anél potgieter

Koue vleis en eiers

Vir aandete het ek sommer kouevleis, ’n paar varkworsies en gekookte eiers gemaak en dit met vars rolletjies bedien. Dit is so eenvoudig en ons vergeet soms hoe lekker dit is.

Moet dit asseblief tog net nie op jou gewone wit eetstel bedien nie. Maak dit spesiaal en gebruik ’n mooi opdienbord.

Appeltert met brandewynroom

Appel-geïnspireerd het ek tog krag gehad om my gunsteling-appeltert te bak. Dit is die maklikste appeltert; jy het net ’n pak skilferkorsdeeg, appels, suiker, amandelgeursel en amandels nodig en jy maak dit sommer in ’n japtrap.

Ek het dit saam met brandewynroom (ja!) voorgesit en dit was die perfekte tikkie soet om ’n rowwe week mee af te sluit.

Ek is seker Ramaphosa gaan nog baie appeltjies met Zuma skil, maar vir eers is die ergste seker verby. En vir eers sit ons hele land met ’n heerlike soet smaak in die mond. Smaak lekker, nè?

Groete uit my kombuis

Anél

lifeisazoobsicuit.com | anelpot@telkomsa.net

Anél se oop appeltert 

100 g strooisuiker

100 g amandelvlokkies

150 g botter, sag

1,25 ml amandelgeursel

1 pak skilferkorsdeeg

2-3 Granny Smith-appels

Brandewynroom

100 ml room

45 ml strooisuiker

30 ml brandewyn

2,5 ml vanielje-ekstrak

Voorverhit die oond tot 180 °C. Plaas die botter, strooisuiker, amandelvlokkies en geursel in ’n voedselverwerker. Meng alles goed tot ’n gladde pasta. Sny die skilferkors in ’n groot sirkel (of hou dit vierkantig) en sit op bakpapier op ’n bakplaat. Smeer met die amandelsmeer. Was en skil appels en verwyder die pitgedeelte met ’n pit-uithaler (ek hou van ongeskilde appels). Sny appels in dun skyfies en pak op deeg in ’n sirkel.

Plaas die tert in die oond en bak vir ­

25-30 minute of totdat die kors bruin en die appels sag is. Bedien warm met geklopte brandewynroom.

Meer oor:  Anél Potgieter  |  Kostelik  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.