Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Beleef: Vark in die kruiwa

Gelukkig bring ons era varkribbetjie makliker na ons tafel toe.?.?.

So sit ek en my liewe ma onlangs en klets oor die plaaslewe toe sy my met ’n kishou sprakeloos slaan met die volgende storie: “Jy sien, my kind, die storie van Hitler en die varke kom uit die tyd van die oorlogsjare. Hitler was ’n ou en lui perd op die plaas (hulle het buite Kroonstad op Middelplaas gebly). Die arme ding was nie baie op en wakker nie en het altyd lui-lui tussen die vrugteboorde, mielielande en die veld gedraal.

“Sy vel het een of ander probleem gehad en het natuurlik baie gejeuk. Ek onthou so goed hoe hy altyd sy lyf teen die bome geskuur het. Wel, eendag skuur ou Hitler so lekker aan ’n boom en stamp onwetend aan ’n byekorf.

“Jy kan jouself net indink wat toe gebeur het. Die bye was bedonderd en het briesend op hom afgepyl. Hitler het sy luiheid net daar en dan weggeskrik en gehardloop vir die plaasdam.

“Om by die dam uit te kom moes hy verby die draadvarkhokke hardloop. Die helfte van die bye is toe agter Hitler aan dam toe en die ander helfte het besluit om vark se kind by te kom. Dit was ’n verskriklike geskree en aaklige affêre.

“Jou oupa en sy handlanger, Jan, het varkhokke toe gehardloop en die draad geknip sodat die varke kon uit. Die natuur is ’n wonderlike ding, my kind, want die varke is toe ook al skreeuend dam toe en so is oupa-hulle ook agterna. Dit was nou vir jou ’n komieklike drama om te aanskou. Jou oupa en Jan met die varke en Hitler in die dam met omtrent net almal se ore wat uitsteek.”

Ek lag so uit my blaarpensie vir Ma se storie en pols haar toe ook oor varkslag op Middelplaas: “As daar vark geslag is, is die vark doodgesteek en nie geskiet nie (terwyl ma so praat, gril ek myself tot in ’n ander bloedgroep in). Die vark is in die kruiwa gelaai, Ouma het dan kookwater oorgegooi en dan is die ou skoon gekrap. Die kookwater maak die hare los sodat die hare makliker afgekrap kan word.”

Genade! Hoewel dit ’n praktiese oplossing in daardie jare was, is ek maar alte dankbaar ek leef in ’n era waar ek my stukkie vark by ’n slaghuis kan koop en dat ek nie die kruiwa-skrop hoef te aanskou nie.

Varkrib oor die kole

Varkrib (spare ribs) is vir my een van die lekkerste goed om te braai, maar dan moet dit sag, klewerig (sticky) en soetsuur wees. Ek het altyd ’n jammerlappie op my skoot om te help met die vingers- en die mondskoonmaak. Om die ribbetjies sag te kry moet dit lank op baie lae hitte gebraai word. Ek is deesdae te haastig en maak dit eers gaar en dan braai my Ier dit vinnig oor die kole en verf dit met die lekkerste BBQ-gla­suursel. Ek weet die braaipolisie gaan my nou weer bykom, want volgens hulle “kook jy nie ribbe nie”, maar om prakties te wees, soos julle gelees het, is in my gene.

Hoe kry jy ribbe sag?

Baie ribbe wat jy deesdae in die winkels koop is klaar gaar (hulle noem dit pre-

cooked

), maar indien nie, kan jy ’n paar metodes gebruik om dit sag te kry: Sit dit saam met ’n bietjie water in ’n oondbak, bedek dit met foelie en bak vir 90 minute.

Anders gooi dit in ’n pot, bedek met water en kook ook so anderhalf tot 2 uur of tot sag. Ek koop ribbe wat in my stoompot pas (die kleiner ribbes is vir my ook lekkerder) en stoom dit vir so 25 minute.

Ek verkies die stoompot, dit is vinnig, behou die geur van die vleis – en ja inderdaad, dit is die metode wat die meeste sjefs in restaurante ook gebruik. Just saying. So, daar is niks daarmee verkeerd nie.

Die groot geheim is dan jou glasuursel, en moet nou asseblief nie ’n bottel Jimmy’s oor die duur ribbe gaan staan en gooi nie. Ek doen altyd moeite en maak my eie – dit is vinnig en maklik om te maak en regtig die moeite werd.

Ek het vandag aan ou Hitler en die bye en die varke gedink . . . so het ek my ribbe met ’n glasuursel van heuning en aromatiese speserye geverf. Ek kwyl sommer weer terwyl ek daaraan dink . . .

Groete uit my kombuis,

Anél

lifeisazoobsicuit.com | anelpot@telkomsa.net

Anél se BBQ-varkrib

Foto’s: Anél Potgieter

2 kg varkrib

sout en peper na smaak

Glasuursel

1 ui, fyngekap

15 ml kanola-olie

15 ml fyn komyn

15 ml fyn koljander

10 ml komynsaadjies

10 ml gerookte paprika

30 ml tamatiepuree

45 ml worcestersous

300 ml appelasyn (of gewone witasyn)

250 ml appelsap

180 ml heuning

Voorverhit oond tot 180 °C. Gooi twee koppies water in oondpan, pak ribbe in, geur met sout en peper, bedek met foelie en bak vir anderhalf uur. Of jy kan dit vir anderhalf uur in ’n pot water kook tot sag – of stoom dit vir so 25 minute in ’n stoompot.

Glasuursel: Braai die ui in die olie tot gekaramelliseer. Voeg al die speserye by en braai ’n paar minute tot geurig. Roer die res van die bestanddele by en prut tot dikkerig – so 20 minute. Roer aanhoudend. Verwyder die ribbe uit die oond en verf met die marinade. Braai aan albei kante tot klewerig, deurwarm en sag. Verf glasuursel oor ribbe terwyl jy braai. Hou ’n bietjie van die glasuursel vir bediening.

Kleurvolle koolslaai 

¼ rooikool, fyngesny

¼ witkool, fyngesny

2 wortels, geskil en gerasper

1 appel, geskil en opgesny

1 selderystingel, fyngekap

4 sprietuie, fyngesny

handjievol vars koljander, gekap

1 brandrissie (opsioneel) – fyngesny

100 g mayonnaise van goeie gehalte

2 teelepels Dijonmosterd

sout, na smaak

swartpeper, na smaak

Meng al die bestanddele saam en bedien saam met die varkrib.

Meer oor:  Anél Potgieter  |  Vark  |  Kostelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.