Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
‘Besoek’ steeds jou gunstelingkelders só

Met die staat van inperking in volle gang, het kelders baie innoverend begin dink om steeds vir hul kliënte ervarings te skep.

Laat die kelders jou gedurende inperking vermaak met video’s van kos en wyn. Foto: iStock

Van video’s waar wynmakers oor hul wyne gesels tot resepte uit die restaurant – noem dit op en dit is daar.

Al kan jy nie nou jou hande op hierdie wyne kry nie (of miskien het jy ’n bottel of twee daarvan in die huis), is dit steeds lekker kyk- en leesstof op stil dae gedurende die inperking.

Boonop kan jy van die geleentheid gebruik maak om solank ’n lysie van wyne te maak wat jy ná die inperking kan aanskaf.

Hier is wat ’n paar Wes-Kaapse kelders aanbied:

  • By Delheim bied die span daaglikse video’s aan waar hulle meer van die wyne in hul portefeulje praat. Die video’s word op YouTube gelaai en dan op hul Facebook-blad gedeel, so jy kan dit kyk wanneer dit jou pas. Nie net leer jy meer oor die spesifieke wyn van die dag nie, maar ook meer oor die plaas, jy ontmoet die personeel én jy skerp jou wynkennis op.Facebook: Delheim Wines (@delheim)
  • Overhex is ook slaggereed om kykers aanlyn te leer oor hul Survivor- en Balance-wyne. Hulle bied virtuele proeë vir Survivor Wines (’n wynreeks uit die Swartland) op Woensdae en Vrydae en Balance Wines se proeë word Donderdae op hul sosiale media uitgesaai. Die video’s sal bestaan uit lighartige gesprekke en feite oor wyn.Facebook: Overhex Winery (@overhexwinery), Survivor Wines (@SurvivorWines) en Balance Wines (@BalanceWines).
  • As jy op soek is na resepte om saam met ’n glasie wyn te geniet, is Elgin Vintners se blog vir jou. Hulle gaan elke week ’n nuwe resep oplaai om saam met hul wyne te geniet. Daar is ook twee video’s op hul Facebook-blad waar die wynmaker oor van die wyne gesels. Blog: www.elginvintners.co.za Facebook: Elgin Vintners (@ElginVintners)
  • Skakel vanaand om 18:00 in op Neethlingshofse blad om ’n aand van musiek, wyn en pizza te geniet. Aangesien jy nie die plaas kan besoek nie, bring hulle Wine Down Wednesday na jou sitkamer met Juan Casey wat gaan optree. Jy sal egter jou eie pizza moet maak, maar hulle sal die resep met jou deel. Hulle gaan ook elke Maandag vir die volgende paar weke resepte oplaai. Die restaurant se hoofsjef gaan die resepte vir disse op die huidige en vorige spyskaarte deel. Daar is weekliks ’n prys op die spel vir dié wat saam kook en foto’s van die dis oplaai.Facebook: Neethlingshof (@neethlingshof)Webtuiste: www.neethlingshof.co.za
  • Vir daaglikse wyninhoud kan jy Du Toitskloof se bemarkingsbestuurder, Ed Beukes, op Instagram volg. Hy en sy vrou maak kort, prettige video’s waarop hulle elke dag op ’n ander druifsoort fokus en dan onder meer oor die kelder se wyne gesels. Die video’s word ook op Du Toits­kloof se platforms gedeel.Instagram: @edbeukesFacebook: Du Toitskloof Wines (@dutoitskloofwines)
  • Ook Benguela Cove se sosiale media is die volgende paar weke ’n blad wat jy wil besoek. Hulle gaan gereeld verskillende resepte deel saam met die wynpasmaat vir elkeen. Hulle het ook ’n rits resepte wat reeds op hul webtuiste gepubliseer is wat jy kan uittoets.Facebook: Benguela Cove (@BenguelaCoveEstate)Webtuiste: www.benguelacove.­co.za
  • Bellevue se videoreeks word ook op hul Facebook-blad gedeel en beoog om mense meer van hul wyne te leer. Hulle gaan elke Maandag en Vrydag hierdie video’s oplaai waar die wyn gewys, geproe en oor gesels word.Facebook: Bellevue Wine Es­tate (@bellevuewines)
  • Om ’n bietjie interaktiwiteit te bevorder, het Kleinood ’n #WineCluedo-veldtog wat binnekort op hul Instagram gaan begin waar volgelinge self deur middel van skermgrepe ’n wyn kies om meer van te leer. Kort video’s word ook opgelaai van kalmerende oomblikke op die plaas sodat jy ook kan voel asof jy buite is.Instagram: @kleinood_farmFacebook: Kleinood (@TamboerskloofWines)
  • By Lord’s Wines is hulle hard aan die werk in die kelder én ook om video’s vir kykers te maak. Hulle gaan die volgende paar weke kort, insiggewende, tong-in-die-kies videobrokkies deel van onder meer ’n keldertoer en video’s met temas soos skemerkelkies en resepte deel.Facebook: Lord’s Wines (@lordswines1)
  • Vir resepte en meesterklasse, is Rickety Bridge se blad vir jou. Hulle deel daagliks ’n resep wat jy kan uittoets. Elke paar dae word daar ook ’n meesterklas gelaai waar jy meer leer oor wyn, watter wyndruiwe in die Franschhoek-streek goed groei en nog meer.Facebook: Rickety Bridge Winery (@ricketybwinery)
  • Lanzerac probeer ook om kykers besig te hou met ’n rits video’s wat hulle gaan oplaai. Hulle gaan in die video’s vir jou leer om onder meer mengeldrankies te maak (soos ’n mojito) en daar gaan video’s oor kos vanaf die sjef en wyn vanaf die wynmaker wees om na uit te sien.Facebook: Lanzerac Wine Es­tate (@LanzeracWineEstate)
Meer oor:  Wyn  |  Versnit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.