Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Beurtkrag se moses, ons eet ontbyt!

As beurtkragjou dalk kniehalter om ’n koppie koffie voor werk te geniet, of jou arme bloedjies verhoed om voor skool hul daaglikse eier-op-’n-broodjie te eet, hoef jy nie verwese die strate van Port Elizabeth te fynkam vir ’n koffiewinkel wat dalk oop is nie.

Die gewilde Eggs Benedict, ’n gunsteling-ontbyt by die Ground Floor Café. Foto: Verskaf

Die Ground Floor Café aan die onderkant van Stanleystraat in Richmond Hill open reeds douvoordag sy deure, juís om dié vroeë opstaners tegemoet te kom en hul kragopwekker staan gereed om donkerte af te weer!

Daar kan jy jou buite onderdak, waar seile die wind afweer, of binne tuismaak.

Volgens Cayla-Paige Nortje, die dogter van Janey Nortje, eienaar van dié pikante klein koffiewinkel, is haar ma ’n ewige opportunis en geen probleem is te groot vir haar om op te los nie.

“My ma floreer eintlik in ongelooflike besige omstandighede,” verklap Cayla-Paige, wat self dikwels ’n handjie bysit.

“Sy is nou juis aan die reël vir haar koswaentjies en tuk-tuks – met dieselfde naam en spyskaart as die koffiewinkel – se volgende geleentheid.”

Alhoewel Janey nie altyd in die koffiewinkel kan wees nie, het sy ’n bekwame span wat namens haar die stuur daarvan oorneem.

Van dié mense loop reeds jare die spysenieringspad saam met haar.

Cayla-Paige Nortje by ’n pizza en toebroodjie. Foto: Willemien Green

Janey, wat al meer as 26 jaar in die spysenieringsbedryf doenig is, het voorheen twee ketting-koffiewinkels bedryf.

“My ma het toe besluit om eerder haar eie plekkie oop te maak waar sy haar stempel kon afdruk,” sê Cayla-Paige.

Die dekor kan as antiek-modern beskryf word.

’n Groot houtraam met pragtige loodglasvensters versier die gedeeltelike ruwe baksteenmuur en oudhede word oral uitgestal.

Moderne beligting verleen ’n artistiese gevoel aan die winkel.

Volgens Cayla-Paige kan Janey as uiters tegemoetkomend beskryf word.

Of jy nou besluit om ’n onverwagte huweliksonthaal daar aan te bied of iewers stil in ’n hoek wil sit en werk aan jou volgende groot roman, jy sal geakkommodeer word.

“Die huweliksonthaal het werklik plaasgevind,” vertel Cayla-Paige.

Die paartjie het hulle vriende na die restaurant genooi en daar en dan hulle meegedeel dat hulle pas getroud was. Nie eens Janey was vooraf bewus dat sy eintlik gaste op ’n huweliksonthaal sou trakteer nie. Maar soos blits het sy die tafels getooi en die vonkelwyn is geskink!

Janey Nortje, eienaar van Ground Floor Café. Foto: Verskaf

Moet ook nie dink dis net vroue wat daar inloer vir koek en tee nie. Volgens Cayla-Paige is daar ’n groepie afgetrede omies wat weekliks daar ontmoet en heerlik saamkuier, en sakemanne hou ook graag daar informele vergaderings terwyl hulle tientalle koppies koffie drink.

Doen gerus ook daar aan as jy jou brakkie vir ’n wandeling neem; julle albei sal ewe welkom daar wees.

Die spyskaart is kort en kragtig, maar wat daar bedien word, is smaaklik. Google maar gerus “Eggs Benedict Port Elizabeth” en jy sal verbaas wees hoeveel komplimente aan dié smaaklike dis by die Ground Floor Café toegeken word.

“Dis is verseker die gewildste ontbyt, en is al as een van die tien bestes wat by restaurante in Port Elizabeth bedien word, aangewys,” se Cayla-Paige trots.

As jy van pizza hou, sal jy dol wees op die effense twist waarmee dit hier bedien word. Dié lekkerny met sy effense krakerige basis met die vulsel van jou keuse word langwerpig op ’n houtbord bedien.

Probeer gerus ’n gewone toebroodjie propvol smaaklikhede – en dis goeie waarde vir geld

Of geniet ’n romerige cappuccino met ’n pannekoek, wat veral ’n reënerige dag net soveel meer spesiaal sal maak.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Naweek  |  Restaurant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.