Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Braai, en onthou ook ou vriende

Pas ook jou hart op – hy werk harder as enige ander spier. 

Dit was hartseer om te hoor Chester Williams is op die jong ouderdom van 49 aan ’n hartaanval dood.

Rus in vrede, Jean Nel, en dankie vir die braairesepte.

In die kosgemeenskap is een van ons groot name, die braaireus Jean Nel, op 1 September aan hartversaking dood. Ek het Jean jare terug by Stellenbosch se Slow Market leer ken – hy het daar sy heerlike braaiburgers verkoop.

Hy het ook al ’n paar kookboeke uitgegee. More Braai the Beloved Country was sy laaste.

Jean was ’n lieflike mens, ’n passievolle kok en het sy liefde vir braai met die hele Suid-Afrika gedeel.

Pete Goffe-Wood, die MasterChef SA-beoordelaar, skryf op sy Facebook-blad: ?“One less light around the fire – we are deeply saddened by your passing but we’re all the better for having had you in our lives. Your friendship, professionalism and ascorbic wit will be missed but never forgotten. RIP.”

Jou hart

Ons hart doen meer werk as enige ander spier in ons liggaam. Dit klop 100 000 keer op ’n dag en pomp daagliks 7 200 liter bloed deur die liggaam. Pas jou hart op en wees lief vir jou hart.

Hou jou hart gesond

Ek het by my vriend dr. Darren Green gaan hoor hoe om jou hart op te pas en hy stel die volgende voor:

  • Ken jou familiegeskiedenis van hartsiektes, veral wat familielede jonger as 50 jaar getref het.
  • Beheer die volgende risikofaktore:

Hou op rook – dit is ’n sneller vir slagaarverkalking.

Dr. Darren Green

Voorkom hoë bloeddruk – voortdurende hipertensie beskadig die struktuur van die hart en die bloedvate. Dit kan dus die niere en brein ook later aantas.

Eet minder sout Z dit lei tot hoë bloeddruk.

Verlaag jou cholesterol – daar is ’n sterk verwantskap tussen hoë cholesterolvlakke en verstopte slagare, veral as jy boonop suikersiekte en hoë bloeddruk het.

Voorkom en beheer suikersiekte – diabetes veroorsaak dat jou are en slagare nie behoorlik kan werk nie en veroorsaak sodoende komplikasies met wondgenesing en kan jou sig, niere en brein aantas.

Gebruik alkohol matig – te veel daarvan tas jou hartritme en jou hartspier aan. Uiteindelik het jy net ’n groot, pap hart.

Wees aktief – sit is net so erg as rook.

Hou jou gewig dop – ons bevolking in Suid-Afrika is ongelukkig van die vetste in die wêreld en daarby sluit ons ook die kinders in.

Hartfiksheid

As ’n mens net rustig stap, kan jy baat vind as stresverligting en meer, maar jy moet ten minste jou harttempo tot 80% van die maksimum opstoot om te begin om aan jou hart se fiksheid te werk. Al begin jy eers net vir tien minute lank drie keer per week en werk dan op tot 30 minute drie keer per week.

Werk só jou maksimum harttempo uit:

220 minus jou ouderdom = mans se maksimum harttempo

200 minus jou ouderdom = vroue se maksimum harttempo

Jean, ek braai met hartseer vandag vir die laaste keer saam met jou in Rapport. Rus in vrede.

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpot@telkomsa.net

Spesery-lamstjops

Bestanddele

Lamstjops met speserye. Foto:

12 lamstjops

3 knoffelhuisies, fyngemaak

2 takkies vars roosmaryn

60 ml olyfolie

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Vir die speserymengsel

15 ml bruinsuiker

15 ml sout

15 ml varsgemaalde swartpeper

15 ml gemaalde komyn

15 ml gemaalde koljander

15 ml mosterdpoeier

Vir bediening

natuurlike jogurt

koljanderblare, gekap

Só maak mens

Meng die bestanddele vir die speserymengsel in ’n klein bakkie.

Marineer die tjops in die knoffel, roosmaryn en olyfolie. Gooi die speserymengsel oor die tjops en smeer goed in die vleis in.

Braai die lamstjops op ’n goed geoliede rooster vir vyf tot ses minute oor medium tot hoë hitte om dit medium gaar te maak. Haal van die braai af en sit voor met natuurlike jogurt en gekapte koljander.

Lendeskyf met Tabasco-botter

Sirloinsteak met Tabasco-botter. Foto:

Bestanddele

  • 4 lendeskywe (, ongeveer 200 g elk

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Tabasco-botter

125 g ongesoute botter

15 ml groen of rooi Tabasco-sous

1 knoffelhuisie, fyngemaak

30 ml platblaar-pietersielie, gekap

30 ml kruisement, gekap

30 ml koljanderblare, gekap

Vir bediening

suurlemoenwiggies om te bedien

Vra vir jou slagter vir ’n groot lendestuk. Sny dit by die huis in dik steaks.

Plaas al die bestanddele vir die botter in ’n bak en meng goed. Lê ’n vel kleefplastiek op ’n werkoppervlak uit. Skep die bottermengsel in die middel om ’n wors van ongeveer 10 cm lank te maak. Draai die botter toe. Verkoel tot benodig.

Braai die steak op ’n geoliede rooster op medium tot hoë hitte vir drie minute per kant vir ’n mediumrou resultaat. Geur met sout en peper. Plaas die steaks op ’n bord en bedek losweg met foelie om te rus.

Sny die botter in muntstukke en sit op warm steaks voor met die suurlemoenwiggies langs die kant.

Foto:

Meer oor:  Gesondheid  |  Braai  |  Hart  |  Resepte  |  Kostelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.