Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Braaibroodjies bly bobaas

Om die einste broodjie met sy twee gebotterde kante met heerlike bestanddele te vul en dan goudbruin te rooster oor die kole van jou houtvuur is hoe ek voel jy die lewe moet vier – jy leef immers net een keer en daarom kan jy netsowel voluit lewe.

Hul bestanddele is eenvoudig – dinge wat jy in enige supermark kan koop. Die voorbereiding is vinnig en maklik, wat beteken jy hoef eers te begin werskaf nadat jy die vuur aangesteek het en sal nogtans reg wees om te braai teen die tyd dat die vuur uitgebrand het en die kole gereed is.

In teenstelling met ’n groot stuk vleis wat jy ure lank oor die kole moet balanseer totdat hy gaar is in die middel, maar nie verkool aan die buitekant nie, is braaibroodjies maklik om te braai.

Met braaibroodjies is daar net een vangplek: Hulle moet so gereeld as moontlik omgedraai word. Braaibroodjies is draaibroodjies.

Witbroodjie-braaibroodjie

Die braaibroodjie is nie net die beste ding sedert gesnyde brood nie – dit is beter as gesnyde brood en heel toevallig bevat dit ook snye brood. Daar is ’n paar uitsonderings by van die meer eksotiese resepte in my boek, maar ’n braaibroodjie proe amper altyd die beste wanneer jy gewone, gesnyde witbrood gebruik.

Toe ek ’n kind was, is brood in een stuk verkoop en daar was dan altyd ’n broodsnymasjien in die bakkeryafdeling of naby die kassiere. Die masjien het die hele brood in eenvormige snye gesny wat dunner was as wat jy dit met ’n mes by die huis sou doen.

Deesdae verkoop die meeste supermarkte ’n paar kommersiële tipes gesnyde witbrood. Dit is wat ek amper altyd koop om braaibroodjies mee te maak. Ek sê “amper altyd” omdat reeds gesnyde brood soms nie beskikbaar is nie en dan koop ek noodgedwonge iets anders.

My kennis van gesnyde witbrood strek nie so ver dat ek weet waarom sommige kommersiële broodverskaffers ’n ekstra-groot weergawe maak nie. Na my mening is dit onnodig en geheel onvanpas wanneer jy braaibroodjies maak.

Die ekstra-groot snye werk nie lekker vir ’n braaibroodjie nie en is ook nie stewig genoeg as jy hom van die snyplank na jou rooster skuif nie.

Die onegalige vorm van ekstragroot brood veroorsaak ook dat jy hom nie netjies op ’n braairooster kan pak nie. Dus is dit beter om sulke brood eerder te vermy.

Kommersiële broodverskaffers verkoop ook aan supermarkte brood wat baie soos witbrood lyk, maar nie heeltemal wit is nie en allerhande stukkies graan in het. Hulle noem dit bruinbrood.

As jy my vra, is dié beskrywing heel optimisties, want dis beslis nie bruin nie. Dit sou meer akkuraat wees om dit vaal-wit-met-spikkels te noem. Ek dink dis walglik en kan net raai dat dit ’n misplaaste poging is om brood gesonder te maak.

Om meer diplomaties te wees, vir my lyk, proe en voel dit onaangenaam.

Ek is nie ’n dieetkundige nie en daar is geen mediese grondslag vir enigiets wat ek sê nie, maar ek glo wel dat as sogenaamde bruinbrood jou laaste hoop is om genoeg vesel in jou spysverteringstelsel te kry, is jy reeds in die moeilikheid.

Moenie dat braaibroodjies wat met pragtige, perfekte snye witbrood gemaak word, deel van die probleem raak nie.

Eet jou vrugte en groente in hul natuurlike staat en geniet jou braaibroodjies behoorlik – gemaak van gesnyde witbrood.

Bygesê, ek het geen probleem met regte volgraan- en ander brood met persoonlikheid, smaak en ’n donkerder kleur nie.

Ek hou regtig baie van ordentlike brood – skakerings van karamel of bruin, soos suurdeegbrood, al hoe donkerder tot Duitse Schwarzbrot. Net nie as deel van ’n braaibroodjie nie.

Nogtans, in ’n noodgeval sal absoluut enige brood werk as deel van ’n braaibroodjie, want enige braaibroodjie is beter as geen braaibroodjie.

Braaibroodjies is draaibroodjies. Jy moet braaibroodjies gereeld omdraai en jy braai hulle in ’n toeklaprooster.Foto: NB-uitgewers

RESEP

Die tradisionele braaiboodjie

Die braaibroodjie is die hoogtepunt van menige braai. Mense wat nog nie vry is van die idee dat jy altyd vleis by ’n braai moet hê nie, braai dikwels vleis as ’n verskoning om by die braaibroodjies uit te kom. Dié resep gee die tradisionele of oorspronklike manier om ’n braaibroodjie te bou.

Die boek bevat ook ’n klomp ander braaibroodjieresepte, elkeen briljant in eie reg. Maar daar is net een oorspronklike resep vir braaibroodjies: Hulle het blatjang, uie, tamatie, kaas, sout en peper binne-in en botter aan die buitekante.

Jy laat nie een van die bestanddele weg nie, en raak nie eens betrokke in ’n gesprek met ’n oningeligte persoon wat die brood aan die binnekant pleks van die buitekant wil botter nie.

Jy benodig

(vir 6 braaibroodjies)

12 snye brood

botter

blatjang

240 g cheddarkaas (gesny of gerasper)

2 of 3 tamaties (gesny,

2-3 per braaibroodjie)

1 ui (in ringe gesny)

sout en peper

Laat waai

1. Bou die braaibroodjies: Botter elke sny brood aan een kant (dis die kant wat buitentoe sal kyk wanneer jy die braaibroodjie aanmekaar gesit het).

Sit die helfte van die snye brood op hul botterkante neer, smeer blatjang oor en verdeel die kaas, tamatie en uie eweredig bo-op. Maal sout en peper oor. Bedek met die oorblywende snye brood, botterkante bo.

2. Braaibroodjies is draaibroodjies. Jy moet braaibroodjies gereeld omdraai en jy braai hulle in ’n toeklaprooster. As jy nie een het nie, koop een – verkieslik ’n verstelbare rooster sodat jy elke broodjie reg kan vasknyp. Jy wil matige hitte hê en die rooster moet redelik hoog bo die kole wees. Jou doelwit is om die kaas gesmelt en die res van die vulsel lekker warm te hê teen die tyd dat die buitekante goudbruin is. Om te keer dat die braaibroodjies vassit, help dit as jy die rooster telkens oop-en-toemaak ná die eerste paar kere se omdraai.

3. Sodra die braaibroodjies reg is, sny jy elkeen in die helfte.

Ek glo die regte manier om ’n braaibroodjie te sny, is diagonaal, en die regte tyd om dit te eet, is onmiddellik.

Die supermodel

RESEP

Supermodel

Vir die voorblad van die boek het ons ’n super­model nodig gehad. Nou, anders as met glanstydskrifte in die dae toe skoonheids- en modetydskrifte nog bestaan het, kan jy nie sommer net ’n paar braaibroodjie-agente bel en hoor wie beskikbaar is nie. Die mooiste en glansrykste braaibroodjies in die wêreld is almal in die boek wat jy in jou hande het en dis die einste “katalogus van modelle” waarvoor ons ’n voorblad moes skep. Toe besluit ek en my kollegas om ons eie supermodel te skep wat op die voorblad kan pronk. Hier is sy.

Jy benodig:

(vir 6 braaibroodjies)

12 snye brood

botter of olyfolie

1 rooi ui (gesny)

1 groen soetrissie (gesny)

1 geel soetrissie (gesny)

2 skywe (omtrent 150 g)

fetakaas (gekrummel)

240 g cheddarkaas (gesny of gerasper)

3 groot rooi tamaties (gesny)

sout en peper

1 sopie pietersielie (fyngekap)

Laat waai

1. Bou die braaibroodjies: Smeer botter of olyfolie aan een kant van elke sny brood (dis die kant wat buitentoe sal kyk wanneer jy die braaibroodjie aanmekaar gesit het). Sit die helfte van die snye brood op hul botterkante neer, smeer roomkaas oor en verdeel die rooi uie, soetrissie, fetakaas, cheddarkaas en tamaties eweredig tussen hulle. Maal sout en swartpeper oor en strooi die pietersielie oor. Bedek met die oorblywende snye brood – botterkante na bo.

2. Jy moet braaibroodjies gereeld omdraai en jy braai hulle in ’n toeklaprooster. Jy wil matige hitte hê en die rooster moet redelik hoog bo die kole wees. Jou doelwit is om die kaas gesmelt en die res van die vulsel lekker warm te hê teen die tyd dat die buitekante goudbruin is.

3. Sodra die braaibroodjies reg is, sny jy elkeen in die helfte. Eet onmiddellik.

Spanakopita-braaibroodjie

RESEP

Spanakopita-braaibroodjie

Direk uit die Grieks vertaal, beteken spanakopita spinasiepastei.

Dis ’n baie bekende en gewilde dis.

Verder is daar ook ’n sterk verband tussen lamsvleis en Griekeland. In Suid-Afrika is die kombinasie van lamtjops en braaibroodjies ook nogal ikonies.

Dus is dit geen verrassing nie dat ’n braaibroodjie met spinasie en feta ’n wenner is.

Die bestanddele hieronder gelys is heel standaard vir ’n spanakopita, behalwe dat ons die tradisionele Griekse filo- of pasteideeg met snye brood vervang.

Die stappe stem baie ooreen met die oorspronklike spanakopitaresep, selfs wat die lagie botter of olyfolie buite-op betref.

Jy benodig:

(vir 6 braaibroodjies)

12 snye brood

botter of olyfolie

1 ui (opgekap)

2 knoffelhuisies (gekneus en opgekap)

400 g babaspinasie (of gewone spinasie, fyngesny)

200 g fetakaas (gekrummel)

240 g cheddarkaas (gesny of gerasper)

sout en peper

Laat waai

1. Verhit olie of botter in ’n vuurvaste pan of gietysterpot en braai dan die ui en knoffel tot sag. Gooi die spinasie by en braai vir ’n paar minute totdat dit verlep en met die helfte verminder het en enige oortollige water wat dit vrystel, weggekook het.

2. Haal van die hitte af, gooi die gekrummelde feta by en meng deeglik. Gooi sout en peper oor.

3. Bou die braaibroodjies: Smeer botter of olyfolie aan een kant van elke sny brood (dis die kant wat buitentoe gaan kyk wanneer jy die braaibroodjie aanmekaar gesit het). Sit die helfte van die snye brood op hul botterkante neer en verdeel die spinasiemengsel en cheddarkaas tussen die snye.

Bedek met die oorblywende snye brood – botterkante na bo.

4. Jy moet braaibroodjies gereeld omdraai en jy braai hulle in ’n toeklaprooster.

Jy wil matige hitte hê en die rooster moet redelik hoog bo die kole wees. Jou doelwit is om die kaas gesmelt en die res van die vulsel lekker warm te hê teen die tyd dat die buitekante goudbruin is.

5. Sodra die braaibroodjies reg is, sny jy elkeen in die helfte.

Eet onmiddellik.

Jan Braai is terug met ’n splinternuwe boek, Braaibroodjies en Burgers. Dié keer ondergaan die nederige braaibroodjie ’n gedaantewisseling of twee. Die resepteboek bevat liplek-lekker hoender­-, beesvleis-­, vegetariese en veganistiese braaibroodjie-­ en burgerresepte wat jou gesin sal laat terugkom vir nog.

Die resepteboek word deur NB Uitgewers uitgegee teen ’n voorgestelde prys van R370.

Volg ook vir Jan Braai op Facebook, Instagram en Twitter by @janbraai. Gebruik die hutswoord #braaibroodjiesandburgers om foto’s van jou ervarings met braaibroodjies en burgers te deel.

Pasop vir hoeksnyers

Soos jy weet (of behoort te weet) behels die tradisionele braaibroodjiemetode dat ’n mens botter op albei buitekante smeer en ’n vulsel van kaas, tamatie, uie, sout, peper en blatjang binne-in sit.

As jy afwyk van dié resep, is dit presies wat dit is – ’n afwyking. Die duidelikste teken van so ’n afwyking is om ’n hoekie van ’n braaibroodjie af te sny.

Daar is mense met spesiale behoeftes in die wêreld – nie medies nie, maar in die sin dat hulle glo hul behoeftes is spesiaal. Hulle dink hulle is nie in staat om ’n braaibroodjie te eet soos wat hy oorspronklik bedoel is nie.

Tipiese voorbeelde is karakters wat vra dat jy hul braaibroodjies sonder blatjang bou, of dat die tamatie of ui weggelaat word.

Alles wat ek hier sê, en in die res van die boek, moet jy met ’n knippie braaisout neem.

En terwyl ons nou nie te ernstig is nie, wil ek jou sê, spesiale sneeuvlokkie met jou af-oor braaibroodjie, dat dié benadering jou nie net help om jou “veilige” maaltyd uit te ken nie. Dit verkondig ook oop en bloot dat jy moeilik is.

Wanneer jy in die fase van jou lewe is dat jy op die uitkyk is vir ’n lewensmaat, is ’n sosiale braai ’n uitstekende geleentheid vir dié opwindende soektog.

Pasop vir die een wat die braaibroodjie eet waarvan die hoeke afgesny is.

Sulke mense (en ek veralgemeen nou) is moeilik. Om in enige verhouding met so iemand betrokke te raak, sal waarskynlik meer moeite verg as ’n verbintenis met iemand wat ’n braaibroodjie op die gewone manier eet.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.