Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Braaibroodjies, die lieflinge van die Suid-Afrikaanse rooster

Wanneer Suid-Afrikaners begin praat oor braai, word hulle maklik ergerlik. Elkeen het sy voorkeur en glo (half opstandig) dat daar net één manier is om die beste resultate te verkry.

Watter soort hout, hoe jy dit pak, ’n toeklap- of oop rooster, vlamme wat lek of warm kole, ribtjops of lendetjops, stadige staanrib of gemarineerder sousrib, sout en peper of braaisout.

Dan kom ons by braaibroodjies. Noem net die woord “braaibroodjie” en mense smelt in ’n beswyming. Hulle onthou hul beste kinderdae, vergeet van hul Banting-voorkeure, raak liries oor witbrood en gooi snobisme in die snippermandjie.

Die nederige braaibroodjie het menige harte al verower: ’n goudbruin en bros stapeltjie winkelbrood, liefderik en geduldig gerooster oor die laaste lou kole tot die kaas in die middel lawa raak en die tamatieskyfies hul warm klammigheid aan die sagte binnekant van die brood in stuur. Hy moet kraak as jy hom byt, en die kaas moet in stringe trek – ’n hemelse lekkerte.

In my huis het ons altyd ’n entoesiastiese produksielyn gevorm vir die maak van ’n hele brood se braaibroodjies: Elkeen moes iets doen en die makers sny vindingryk ’n hoekie af of maak ’n kode-kepie in die middel om jou te laat weet watter een is joune.

Daar is soveel maniere om “tradisionele” braaibroodjies te maak en daar is geen rede om daaroor te baklei nie. Braaibroodjies is mos die lieflinge van die rooster en boonop allemintige samesynskeppers.

So, as jy jou brood buite én binne wil botter, dan maak jy so. As jy eerder bruinbrood wil gebruik, as jy hom met mayon­naise en blatjang wil maak, of ’n soetetjie met appelkooskonfyt en ekstra kaas – doen so voort.

Dan is daar selfs dié wat oor die tou trap en nuwe dinge probeer. Wat van ’n hoender-mayonnaise-braaibroodjie op rogbrood, ’n salami-en-appelkooskonfyt- braaibroodjie op suurdeegbrood of ’n feta-en-spinasie-tramezzini-braaibroodjie?

Hier is ’n resep vir ’n “oor-die-tou-trap-braaibroodjie” met Ita­liaanse swier. Ek het wel die tradisionele Suid-Afrikaanse blatjang en uie behou.

Afritaliaanse braaibroodjies

Probeer die Afritaliaanse braaibroodjie om iets nuut uit te toets.Foto: VERSKAF

Wat jy benodig

(lewer een braaibroodjie, pas hoeveelhede aan)

  • twee snye goeie kwaliteit ciabatta (Italiaanse styl platterige, langwerpige brood)
  • botter, om te smeer
  • 5-10 ml (1-2 teelepels) vrugteblatjang
  • 2 snye fior di latte (vars mozzarella)
  • 2 snye ryp tamatie
  • ’n paar dun skyfies uie
  • sout en varsgemaalde peper, na smaak
  • ’n paar vars basilieblare

Maak dan só

Smeer die binnekante van die snye met botter en dan met blatjang. Pak die fior di latte op een sny, gevolg deur tamatie en uie. Geur met sout en peper, plaas die basilie bo-op.

Pak die ander gebotterde sny met die botterkant na binne bo-op (jy kan ook die basiliekruid opsit na jy die broodjie gebraai het).

Braai in ’n toeklaprooster oor louerige kole aan albei kante (draai dit gereeld) tot die broodjie goudbruin en bros is buite, die tamatie warm is en die kaas heeltemal gesmelt is. Bedien dadelik.

Nota: Kies ’n ciabatta wat nie te veel gate het in die binnekant nie, of jy mag dalk van jou bestanddele verloor oor die kole. ’n Gehaltesuurdeegbrood werk ook baie goed.

Meer oor:  Braai  |  Braaidag2018  |  Braaibroodjie  |  Braaidag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.