Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Brandewynglorie

Die deure van die trofeekabinette van Suid-Afrikaanse brandewynprodusente kan al weer nie toe nie ná die medalje­aankondiging van die twee vooraanstaande internasionale spiritualieëkompetisies.

In slegs vier weke het Suid-Afrika nie minder nie as 49 medaljes asook die prys vir beste brandewynprodusent losgeslaan.

“Ons brandewyndistilleerders het weer eens getoon dat hulle op die hoogste vlakke kan meeding, en teen die beste ter wêreld die silwerware huis toe bring. Wat veral belangrik is, is dat ons dit jaar ná jaar doen – ’n ongelooflike prestasie.

“Hedendaags is daar ook baie meer erkenning onder Suid-Afrikaners wat verkies om ’n kelkie te geniet of hul etes met ’n Suid-Afrikaanse brandewyn af te sluit,” sê Christelle Reade-Jahn, direkteur van die Brandewynstigting.

Van Suid-Afrika se beste brandewyne is vanjaar met verskeie pryse vereer.Foto: VERSKAF

By die internasionale wyn-en-spiritualieë-kompetisie (IWSC) in Londen is 31 medaljes aan Suid-Afrikaanse brandewyne toegeken. Inskrywings word van meer as 90 lande ontvang.

Groot opgewondenheid heers altyd op die dag wanneer die Suid-Afrikaanse brandewyne beoordeel word – die meeste van die hoogaangeskrewe internasionale beoordelaars wil op dié paneel wees, want die gehalte en roem van die Suid-Afrikaanse brandewyne loop die storie vooruit.

Dit is altyd ’n riem onder die hart om die reaksie van die beoordelaars te sien, veral dié wat nog nie voorheen aan Suid-Afrikaanse brandewyne blootgestel is nie.

Gold Oustanding-wenners sluit die volgende in: Klipdrift Gold, KWV 15 jaar, KWV 20 jaar, Richelieu 10 Vintage en Van Ryn 20 jaar.

Goud is aan Klipdrift Export, Joseph Barry VSOP, KWV 12 en Richelieu International toegeken.

Silver Oustanding­medaljes (dié wat goud net-net gemis het) is aan 19 produkte oorhanding.

Die internasionale spiritualieë-uitdaging, ook in Londen, ontvang jaarliks inskrywings van ongeveer 70 lande en word deur 50 bedryfsbekendes beoordeel. Die KWV het vanjaar weer die soveelste keer met die gesogte Wêreldwye Brandewynprodusent van die Jaar-trofee weggestap.

Pieter de Bod, meesterdistilleerder van die KWV, is baie trots op die prestasie van sy span: “Ons streef na die hoogste gehalte produkte wat in die wêreld se beste sirkels kan meeding. Dit is ’n teken dat ons op die regte pad is en dat slegs die beste in die bottels gaan. Ons is ’n toegewyde span en hierdie is die kersie op die koek.”

Goue medaljes is aan KWV 10, 12 en 20 jaar, Van Ryn 12 jaar, Klipdrift Gold en Laborie Alambic toegeken.

Silwermedaljes is aan KWV 15, Van Ryn 15 en 20 jaar, KWV Imoya, Klipdrift Export en Wellington VO gegee.

Ten spyte daarvan dat die twee kompetisies

verskillende beoordelaars en reëls het, is daar altyd ’n groot ooreenkoms tussen die uitslae. Dít lewer veral bewys van die gehalte van Suid-Afrikaanse brandewyn.

Meer oor:  Brandewyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.