Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
By dié Franse juweel doen kos praatwerk
Klassieke Franse uiesop met Gruyère- én Emmenthal-kaas. Fotos: Johanna van Eeden

Winter is tyd vir warm trooskos en weelderige souse. En wie anders bedien dit so goed soos die Franse?

Een van Johannesburg se besbewaarde geheime is ’n klein Franse restaurant – Des Délices de France – waar besoekers egte Franse cuisine en gasvryheid kry.

“Chocolatine Xavier”: heerlike donkersjokolademousse op ’n amandelbasis met kakao­poeier bestrooi.

Die buitekant van dié kuierplek in Roodepoort is dalk nie met die eerste oogopslag uitnodigend nie, maar as jy eers oor die drempel stap, kom jy tot nuwe insigte. Hier doen die kos die praatwerk. Die sjef en mede-eienaar Robert Baxa is immer woelig agter die kospotte, en Claudette Gourjux, bestuurder en mede-eienaar, verwelkom gaste, vertel meer oor die spesiale geregte én hoe dit voorberei is. Met ons besoek kon jy vinnig sien wie die gereelde smulpape is. Hul bestellings is amper woordeloos geneem, met ’n kopknik wat sê: “Die gewone?”

Baxa en Gourjux kom albei van Frankryk en dit word weerspieël in die spyskaart met klassieke Franse geregte. Wat kan lekkerder wees op ’n wintersdag as Franse uiesop met Gruyère- én Emmenthal-kaas? Met ons besoek was ’n botterskorsiesop ook op die spyskaart, bedien met heerlike varsgebakte brood.

Ons was op ’n Sondagmiddag hier en dit was opvallend hoeveel gesinne dié restaurant besoek het vir ’n Sabbatsbederf. En wat is nou méér Frans as ’n enkeling wat by ’n tafel sit met ’n bottel witwyn en op sy eie smul aan ’n bord kreef?

Camembert-kaas, brosgebraai in skliferdeeg en bedien met ’n rooibessie-compote. Foto’s: Johanna van Eeden

Die diens is vriendelik en daar is ’n bereidwilligheid om aan te pas by versoeke. Ons het byvoorbeeld een van die voorgeregte as hoofgereg versoek – Camembert-kaas, brosgebraai in skliferdeeg, en met ’n rooibessie-compote bedien.

Die nageregspyskaart bevat talle eg-Franse soetighede soos crème caramel, makrolletjies en crème brûlée. Ek het die “Choco­latine Xavier” bestel. As jy ’n suikersoet nagereg verwag, gaan jy teleurgesteld wees, maar as jy van donkersjokolade hou, sal dié happie so reg in jou kraal pas. En as jy nie kan besluit nie, is die “sjef se verrassing” dalk jou oplossing – proehappies van ’n verskeidenheid soetgoed. Nóg ’n Franse vingerafdruk op die spyskaart is soufflés wat onder die nageregkeuses pryk.

Die omvattende wynlys sluit Suid-Afrikaanse en Franse wyne in, en ook regte Franse sjampanjes.

Dis nie ’n kitskosrestaurant teen kitskospryse nie. Voorgeregte wissel van R94 tot R165, hoofgeregte van R170 tot R215 en nageregte van R55 tot R98.

As jou begroting knap is, loer in vir voorgereg of nagereg. Die gasvryheid is verniet!

Des Délices de France is Maandae toe. Bespreek by 011 027 8668 of lesdelicesdefrance.co.za. – Johanna van Eeden

Meer oor:  Roodepoort  |  Uiteet  |  Kos  |  Restaurant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.