Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Dekortemas kikker jou braaitafel op

’n Tema by enige geleentheid skep ’n atmosfeer en maak dinge ’n bietjie meer interessant. Danielle Daniëls het by kenners gaan uitvind watter dekortemas geskik sal wees vir ’n braai.

Rooi verteenwoordig erfenis, so implementeer dit in jou braaitafeldekor. Tafelstileringfoto: Lené Price/Authentic Planning

Erfenisdag, oftewel Braaidag, is ’n gebeurtenis op die sosiale kalender waarna ons as Suid-Afrikaners jaarliks uitsien, maar juis omdat dit jaarliks ’n viering is, raak jou idees al minder.

Lené Price, mede-eienaar en geleentheidstilis van Authentic Planning, stel voor jy werk met temas. Hier is van die verskillende temas wat sy in gedagte het:

Ontbytbraai

  • Nooi jou gaste vir ’n oggend- kuier.
  • Maak ’n pot koffie of broffie (koffie met ’n skeut brandewyn) op die vuur.
  • Maak alle kos (spek, eiers, roosterkoek) op die braai.
  • Dek ’n tafel buite in jou tuin.
  • Almal eet vroeg genoeg om nog ’n middagslapie te geniet.

Portugees

  • Maak verskillende geregte op die vuur: peri-peri-hoendersosaties, espetada’s, braaitjops en prego-rolletjies.
  • Dek jou tafel volgens die land se kleure.

Volgens Jaun-Eileen, kreatiewe direkteur van Muse Decor Hire is daar twee temas wat die afgelope tyd gewild is vir feestelike tafelbedekkings. “Die eerste merkbare tendens is Boheems – hier gebruik ons natuurlike fynbos, pampasgras, plaaslike natuurlike palm en vars of gedroogde blomme in ’n verskeidenheid vase en potte wat jy in die huis kan vind. Ons hou daarvan om handgemaakte pottebakkerborde te gebruik wat bo-op mekaar gepak is of staalware in onpaar kleure, maar jy kan ook staalware met goue rande of onderborde gebruik wat ooreenstem met goue of antieke eetgerei as jy ’n deftige, feestelike voorkoms wil skep.

“Die tweede gunsteling-tendens is die meer minimalistiese voorkoms met natuurlike skoon linne met klein moderne dekorelemente Die kleure wat ons hier voorstel gebruik word, is wit, swart, hawerkleur en helder glas, maar jy is welkom om kleur by te voeg. Jy kan ook gebruik maak van skoon, geborduurde linne, glas of erdeware met klein knopvase met ’n enkelblom per vaas, kandelare in glas, of staalware.”

Hout en rooi is die perfekte elemente om ’n tafel mee te dek vir jou Erfenisdag-braai. Tafelstileringfoto: Lené Price/Authentic Planning
Elemente soos kerse, houtplankies, eetgerei wat vasgebind is met toutjies en helderrooi servette kan goed werk om jou tafel te versier. Tafelstileringfoto: Lené Price/Authentic Planning
Vir die minimalistiese voorkoms gebruik natuurlike skoon linne met moderne dekorelemente soos helder glas en kandelare in glas. Foto: MUSE Decor Hire
Vetplantjies op die tafel is ook ’n goeie idee om te oorweeg. Tafelstileringfoto: Lené Price/Authentic Planning

Dek jou tafel vir Braaidag

Lené glo dat ’n mooi en gesellige tafel gedek kan word met min of geen uitgawes. “Die tafel wat ek gedek het, fokus meestal op hout en rooi.

“Rooi omdat dit ’n kleur van erfenis is en ook ’n gevoel van warmte gee. Die hout skep ’n gemaklike of informele gees, maar is steeds gesellig. Die eetgerei kan met ’n toutjie vasgebind word. Pak jou warm kospotte met die bykosse daarin op die tafel. Bind ’n mooi vadoek om ’n warm broodjie en plaas dit ook op die tafel. Jy kan selfs konfyt maak en dit in klein potjies sit vir elke gas om as ’n geskenkie huis toe te neem,” sê Lené.

“Vind ’n plekkie in die tuin en dek jou tafel waar dit mooi is – waar plante die tafel omring.

“Indien dit koud is, plaas die tafel by die vuur en sit ’n kombers vir elkeen uit. Maak ook warm sjokolade in ou bekers en bedien dit met malvalekkers.

“Daar is soveel verskillende idees wat jy kan implementeer op dié spesiale dag. Ek glo 100% as dit uit die hart uit kom met ’n bietjie moeite sal die gaste dit ekstra baie geniet en koester.”

Meer oor:  Erfenisdag  |  Erfenis  |  Braaitafel  |  Dekortemas  |  Tafeldek  |  Braaidag2020  |  Braaidag  |  Dekor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.