Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Dié bedryf hou jou rats en wakker

Covid-19 en die drankverbod het geleenthede en uitdagings gebring, vertel Phillip Retief, Van Loveren-wynkelder se besturende direkteur. Die pandemie het ook weer onderskryf hoe belangrik veerkragtigheid en durf is in die wispelturige wynbedryf.

Die gesig op die rekenaarskerm het dieselfde ondeunde kwajonggees as die gesiggie heel regs op die Four Cousins-wynetiket.

Dis wel ouer, met meer lewenservaring, maar daar het immers al 20 jaar verloop sedert Phillip Retief en die ander Retief-neefs – Hennie, Bussell en Neil –die handelsmerk bekend gestel het. Die sukses van Four Cousins was in alle opsigte ’n swart swaan vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf – ’n verskynsel wat niemand sien kom het nie, maar waarvan die rimpeleffek vandag nog gesien word in soortgelyke wyne wat mededingers sedertdien bekend gestel het.

Phillip Retief, Van Loveren-wynkelder se besturende direkteur.

“Dit was ’n besluit wat ons met ons gut geneem het,” vertel Phillip, ’n derdegeslag-Retief uit die Breederiviervallei buite Robertson waar Van Loveren se kelder geleë is. “Die kelder het dit reggekry om daarmee ’n marksegment te teiken wat in daardie stadium nog nie ontgin is nie.

“Four Cousins was van die begin af ’n buiteperd, iets wat toe teen die grein van sakemodelle in die wynbedryf gegaan het.”

Dis vandag steeds een van Suid-Afrika se topverkoper-wynhandelsmerke en tans Suid-Afrika se nommer-een-verkoper in ’n 1,5 liter- (magnum-) glasbottelformaat.

“As ons eers marknavorsing gedoen en na kenners in die wynbedryf geluister het, sou ons waarskynlik nooit die handelsmerk bekend gestel het nie,” sê hy.

“Dit wys jou ook net, soms moet jy jou nie steur aan wat jy in daardie MBA geleer het nie, maar luister na dit wat jy aan jou bas voel.

“Ek dink die magnum-bottel en die styl wyn, wat bietjie soeter was, het dit aanloklik gemaak vir ’n nuwe verbruiker – jonk en oud – wat tot die wynmark wou toetree.

“Four Cousins is ook ’n maklik herkenbare naam teenoor tradisionele wynhandelsmerke. Dit spreek tot ’n wye gehoor, ongeag watter taal jy praat of wat jou demografiese oorsprong is.

“Tot watter mate die gesiggies op die wynbottel ook ’n rol speel, kan ek egter nie vir jou sê nie,” lag hy. “Ons het werklik eers die gewildheid daarvan besef toe mense by wynskoue en wynfunksies tou gestaan het sodat ek en die ander neefs hul bottel Four Cousins kon teken.”

Berekende risiko’s

Toe die rimpelings van ’n nuwe, vreemde virus die sakewêreld begin skud het, het Van Loveren se bestuur weer hul gut gevolg.

“Ons het reeds vroeg verlede jaar besef hier is iets wat ’n massiewe impak op besighede oor die wêreld heen gaan hê, ons mag nie onkant betrap word nie.”

’n Besigheid moet vlugvoetig en aanpasbaar wees as hy sukses wil behaal in ’n ekonomie en ’n wispelturige bedryf wat daagliks met nuwe uitdagings kom, sê Retief.

“Ons het in daardie vroeë stadium moeilike, ingrypende besluite geneem, nog voordat daar sprake van ’n inperking of drankverbod was – besluite oor ons aanplantings, hoe ons ons voorraad sou bestuur en ons begrotings. Daarvolgens het ons berekende risiko’s geneem. Die verbod op drank is op 28 Maart 2020 ingestel en baie besighede is binne 24 uur onkant betrap.

So lyk die voormalige etiket...
En die nuwe een, wat gepoets is om skoner en meer elegant te lyk.

“Dit het ons beslis help pantser teen Covid, maar ons het nie geweet dat die wyn- en drankbedryf basies vir vier en ’n halwe maande van die jaar gesluit gaan wees nie. As ’n bedryfsgemiddeld het die omset met 20% geval. Uitvoere was wel ná die eerste inperking ’n buffer vir ons.”

Nietemin het Van Loveren ook ’n geleentheid raakgesien. Die kelder het die inperking gebruik om sy splinternuwe Almost Zero (gedealkoholiseerde wyn) momentum te gee. Later het die alkoholvrye Absolute Zero-vonkelwyn ook die lig gesien, net betyds vir die tweede drankverbod wat oor die feestydperk ingestel is.

“Die kelder wou al etlike jare gelede alkoholvrye produkte uitreik, en die proses om die wyn te dealkoholiseer is ses maande voor die eerste grendeltyd vervolmaak.

“Die sukses van alkoholvrye en lae-alkoholbiere het die innoveringsproses ook versnel en ons laat besef ons kan nie wag nie, ons moet die geleentheid benut.”

Hoewel die inperking ander gedeeltes van die besigheid skade berokken het, het dit ook gehelp om hierdie produkte se markaandeel ’n hupstoot te gee.

Kliënte soos familie

Dis nie net die uitdagings van jare se droogte in die Wes-Kaap, Suid-Afrikaanse wyne waarvan die pryse te laag geslaan word of die koronaviruspandemie wat Retief laat kopkrap nie. ’n Mens kan nie net op die louere van jou goeie naam of een van jou sterk handelsmerke rus nie, benadruk hy. “Hoe kry ek dit reg dat iemand wat Four Cousins drink as student of jong werkende, later oorskakel na die Christina-reeks (Van Loveren se premiumwyn-handelsmerk) wanneer hulle ouer is en hul smaak meer gesofistikeerd raak?

“Met Van Loveren se nuwe etiket wou ons ook die egtheid van die wynkelder se oorsprongstorie beter uitbeeld en terselfdertyd die wyn as ’n meer premiumhandelsmerk posisioneer. Wyn gaan oor stories en verbruikers hou van stories.”

Retief meen ook dat die wynbedryf – veral in dié tyd – na beter samewerking tussen kelders en selfs streke moet kyk. “Hoewel daar gesonde mededinging tussen wynprodusente is, moet ons ook onthou ons ding nie met mekaar mee nie.

“Ons grootste kompetisie is bier en sterk drank. Ek dink nie ons as wynbedryf besef dit genoeg nie. Ons dink soms ons grootste kompetisie is die kelder wat dieselfde kultivar of versnit as jy doen, net van ’n ander streek. Maar as ons as bedryf ons markaandeel in die groter drankbedryf wil vergroot, moet ons die bier- of whisky-drinker laat oorskakel na wyn.

Van Loveren is ’n familiebesigheid en die etiket weerspieël ook die fynere detail van ons geskiedkundige gebeurtenisse.

“Ongelukkig was wyn nog altyd so bietjie intimiderend,” gee hy toe. “Wanneer jy ’n bottel wyn vir ’n sosiale geleentheid koop, dink verbruikers dikwels hulle moet eers ’n lesing oor die inhoud gee alvorens hulle dit kan geniet. En dit skrik mense af, terwyl dit nie noodwendig die geval met bier of brandewyn is nie.

“Die kliënt bly koning en as handelsmerke moet ons ons boodskap so oordra dat dit tot daardie verbruiker spreek– hetsy dit die Four Cousins- of Christina-drinker is. Mense wil op die ou einde net hul wyn geniet en ’n blaaskans neem ná ’n moeilike week.”

Baie mense glo jy karring nie aan ’n goeie ding nie, maar Van Loveren het onlangs besluit om hul Van Loveren-handelsmerk te vernuwe.

Die handelsmerk pryk al vir 40 jaar op wynrakke nadat die Retief-broers, Wynand en Nico, seuns van die stigter, dit in 1980 uitgereik het.

Die nuwe etiket is gepoets om skoner en meer elegant te lyk en is geïnspireer deur die Retief-familie se stories op die Van Loveren-landgoed. Daar word ook hulde gebring aan die familiebande: die grafiese element op die etiket kom oorspronklik van die trou-uitnodiging van Phillip se oupa Hennie Retief sr. met Jean van Zyl. Hennie en Jean het die oorspronklike plaas in 1937 gekoop en na een van Jean se voorgeslagte, Christina van Loveren, herdoop.

“Van Loveren is ’n familiebesigheid en die etiket weerspieël ook die fynere detail van ons geskiedkundige gebeurtenisse.”

Volgens Phillip was die familiestories en -oorsprong die inspirasie vir die handelsmerk en -veranderinge.

“Familie bly sentraal tot ons besigheid, hetsy in die aard van die wyne, ons verbruikers en ook in die verhouding tussen die eienaar-gesinslede en ons werknemers,” sê hy.

Meer oor:  Wyn  |  Wynbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.