Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Die plek van die planteters

Belangstelling in veganiskos groei wêreldwyd só sterk, dat kenners dit as een van die belangrikste kostendense van 2019 beskou. En nêrens anders is dit duideliker as in ’n Eerstewêreldstad soos Amsterdam nie – ’n plek waar veganiste hul Hollandse rookwors kan kry én dit kan eet, het Samantha van den Berg gevind.  

’n Smullekker vegan-vriendelike pampoen-quiche met slaai by die restaurant Vegabond aan die Leliegracht in Amsterdam. Foto’s: SAMANTHA VAN DEN Berg

Vergeet vir eers van groot kaaswiele, bitterballen, stroopwafels en stamppot.

Want as jy deesdae deur Amsterdam se strate wandel (en deur die daggawalms kan sien), sal jy ’n nuwe tendens oor Nederland se hoofstad heen waarneem: veganisrestaurante.

Vanweë ’n groter fokus op omgewingsvriendelike kos en die voordele van ’n plantgebaseerde dieet, het restaurante en winkels wat veganiskos bedien en veganis-vriendelike-produkte verkoop soos paddastoele oor die stad heen opgeskiet. En daar blyk nog geen keer aan hierdie verskynsel te wees nie.

Meer as ’n tendens

Volgens kenners is veganisme een van die belangrikste kostendense van die afgelope jaar (sowel as die jaar wat voorlê) en word selfs die wynbedryf aangeraai om hieraan gehoor te gee en op die vegan-waentjie te spring.

Saketydskrifte soos The Economist en Forbes het 2019 reeds as die “Jaar van die Veganis” bestempel en kenners voorspel dat vanjaar die jaar is wat veganisme ’n groot hoofstroom-speler gaan word.

Nêrens anders kan jy egter hierdie groot ommeswaai in mense se lewenstyle én in die kosbedryf duideliker waarneem as in ’n Eerstewêreldse Europese stad soos Amsterdam nie.

Nederlandse kos word tradi­sioneel gekenmerk aan stysel (dink maar net aartappels, aartappels­ en nóg aartappels), vleis, kaas en melk. En moenie van die brood vergeet nie.

Het jy geweet?

Die internasionale verbruikersgoedere-reus Unilever het onlangs die suksesvolle Nederlandse maatskappy De Vegetarische Slager oorgekoop. Dié vegetariese “slaghuis” is sowat 11 jaar gelede deur ’n Nederlandse boer, Jaap Korteweg, begin en vervaardig ’n wye verskeidenheid interessante plaasvervangers vir vleis. Benewens die plaaslike verkope, word die maatskappy se produkte oor die wêreld heen uitgevoer.

In ’n stad wat eens ’n nagmerrie vir veganiste en vegetariërs was, kan jy egter deesdae om elke hoek en draai ’n restaurant, bistro of klein straatkafee aantref wat veganis-vriendelike geregte bedien. Ook op die spyskaarte van die meerderheid tradisionele restaurante in Amsterdam kry jy nou ook ’n verskeidenheid van plantgebaseerde disse.

In die Starbucks op pad na die Amsterdam-Sentraal-treinstasie is daar ’n spyskaart met veganisdrankies, by die pizzareuse Domino’s en New York Pizza kan jy nou veganis-pizza bestel en in Alexander Boersstraat kan jy nou selfs skuldvry ’n tatoeëermerk met veganis-vriendelike-ink by die bewaringsorganisasie Sea Shepherd se eerste tatoeëersalon vir veganiste kry.

Die wye verskeidenheid veganis-vriendelike kosprodukte in plaaslike supermarkte soos die Nederlandse supermarkketting Albert Heijn is ook genoeg om enige veganis-hart te verbly. Daar is plaasvervangers vir álles – van kaas tot hoender, vis, rookwors, frikkadelle en soetgoed.

Veganiste hoef nie meer droëbek te sit en toekyk hoe ander aan vleiserige ertjiesop en stamppot met frikkadelle smul nie, want hier kan ’n veganis sy rookwors kry en dit boonop nog eet ook.

Babet Zevenbergen, stigter en eienaar van die veganisrestaurant­ en -koswinkel Vegabond in Amsterdam.

Stad vir veganiste

Die wyse waarop Nederlanders veganisme die laaste paar jaar omarm het, het ook nie in die toerismesektor ongesiens verbygegaan nie.

Amsterdam is in 2017 as die mees veganis-vriendelike stad in Europa aangewys vanweë die groot aantal veganisrestaurante wat hierdie stad in vergelyking met sy grootte het. Die ranglys met tien stede is deur die soekenjin vir vakansieverhurings Holidu, in samewerking met HappyCow, saamgestel. Parys was tweede en Londen tiende. Volgens HappyCow se webwerf het Amsterdam meer as 300 veganisrestaurante.

Wat is veganisme?

Veganisme is ’n lewenstyl eerder as ’n tendens. Veganiste volg ’n plantaardige dieet en gebruik geen diereprodukte nie. Streng veganiste dra ook byvoorbeeld geen klere wat van diere afkomstig is nie, soos leerskoene.

In Maart verlede jaar is Nederlanders vir ’n week lank aangemoedig om vleisvry te leef – ’n inisiatief waaraan selfs die restaurante hier deelgeneem het. En later daardie jaar het die eerste munt-outomaat-kafeteria met veganis-, vegetariese en glutenvrye etes en peuselhappies, The Health Food Wall, sy deure in Amsterdam se Kinkerstraat geopen. Dit is soortgelyk aan die Nederlandse kitskosketting Febo, waar peuselhappies soos krokette, vleisbroodjies en gebraaide kaas in ’n “muur” met glaskompartemente warm gehou word. As jy ’n muntstuk in die outomaat druk, kry jy jou peuselhappie.

Sowat 20 minute buite Amsterdam se middestad in Daniël Stalpertstraat, het The Avocado Show, ’n klein restaurant wat eksklusief aan avokadopere gewy is, ook intussen groot opgang op die kostoneel hier gemaak. Die spyskaart bestaan uit nagenoeg 40 disse wat die avokadopeer vier. As jy hier eet, word jy belowe dat die avokadopere wat in die disse gebruik word, almal “volhoubaar en maatskaplik verantwoordelik” verbou word.

Dié restaurant het so gewild geword dat hulle geen besprekings neem nie en gretige restaurantgangers moet gewoonlik daagliks in ’n ry voor die restaurant staan in die hoop om ’n tafel te kry.

Veganiskos het nog nooit só lekker gesmaak nie! Die vegan-vriendelike spirulina-pannekoek met avokadopeer, bloubessies, eetbare blomme en esdoringstroop by The Avodaco Show.

Amsterdam nie altyd so vegan-vriendelik

Gesels jy met Babet Zevenbergen, die stigter en eienaar van die bekende veganisrestaurant en koswinkel Vegabond, vertel sy vir jou dat Amsterdam veganiste nie altyd met ope arms verwelkom het nie. Sy meen die ommeswaai het eers die laaste paar jaar plaasgevind.

“Dit is deesdae heel maklik om ’n veganis in Amsterdam te wees omdat dit so hoofstroom is. Ek het my winkel en restaurant sowat vyf jaar gelede oopgemaak en mense het toe vir my gesê ek is mal – dit gaan nooit werk nie. Ek het hulle egter verkeerd bewys,” sê sy.

Vegabond is aan die Leliegracht geleë en benewens ’n spyskaart met vars, plantegebaseerde etes waaraan restaurantgangers daagliks kan smul, verkoop Zevenbergen ook ’n verskeidenheid veganis-kosproduk­te en plaasvervangers vir onder meer melk, kaas, vleis en eiers.

“Buiten die gesondheidsaspek, dink ek baie meer mense het oor die jare omgewingsbewus geword. Ons is meer bewus van die voetspoor wat ons elkeen agterlaat en het tot die besef gekom dat ons net nie meer so baie vleis en suiwel kan eet nie – dit is net nie goed vir die aarde nie,” sê sy.

Sy sê hoewel sy die gesondheidsvoordele van ’n veganis-dieet geniet, het sy hoofsaaklik diereprodukte opgegee omdat sy vir die diere sowel as die omgewing omgee.

“As jy terugkyk in die geskiedenis, sal jy sien dat mense al eeue lank probeer bepaal wat hulle moet eet en wat nie. Persoonlik glo ek dat ons almal verskil en daar nie een dieet is wat vir die hele wêreld sal werk nie. Ek is egter gelukkig. Ek is ’n veganis en my gesondheid is uitstekend.”

Veganiste in Amsterdam hoef nie droëbek toe te kyk nie – jy kry tot vegan-vriendelike stroopwafels hier te koop.
  • Samantha van den Berg, ’n joernalis van Die Burger, is as deel van ’n kulturele verrykingsprogram vir twee maande in die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam gesetel.
Meer oor:  Amsterdam  |  Kos En Wyn  |  Restaurante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.