Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Die saak teen rooivleis

Rooivleis kry al hoe meer ’n slegte reputasie. Maar Rochélle Human vra: Is dit werklik verdien?

Meeste riglyne wys dat Westerlinge minder rooivleis moet eet, maar jy kan darem nog met ’n geruste hart ’n stukkie biefstuk braai.

Teen 2050 gaan die wêreldbevolking waarskynlik die 10 miljard-kerf bereik. ’n Omstrede verslag wat in Januarie in die invloedryke mediese vaktydskrif The Lancet gepubliseer is, reken ’n drastiese omwenteling in die mensdom se eetgewoontes is nodig om ons en die aarde teen daardie tyd van katastrofiese klimaatsverandering en ’n epidemie van chroniese leefstylsiektes te red.

Hoekom omstrede? Want die EAT-Lancet-kommissie aan die stuur van dié navorsing (bestaande uit 37 internasionale kenners) meen die inname van veral rooivleis moet drasties verminder word, en vervang word met heelwat groter hoeveelhede groente, volgraan, neute en peulplante as wat tans die norm in veral Westerse lande is. Noord-Amerikaners sal byvoorbeeld hul rooivleisinname met tot 85% moet verminder (dit beteken hulle mag net sowat een hamburger per week eet).

Tog stem die navorsers se voorgestelde “planeetdieet” ooreen met ander goed nagevorste diëte soos die Mediterreense dieet, wat ook groter klem op plantkos lê.

“Meer en meer bevolkingsgroep-spesifieke riglyne beveel ’n eetpatroon met meer plantkos aan, soos Nederland se dieetriglyne wat onlangs bygewerk is,” sê Maryke Gallagher, ’n dieetkundige en woordvoerder van die Vereniging vir Dieetkunde in Suid-Afrika.

Dié diëte beklemtoon groente, vrugte, neute, peulplante (soos kekerertjies, lensies en droë bone), plantvet en volgraan, met klein hoeveelhede diereproteïen (maer vleis, pluimvee, vis, eiers en suiwel) en min tot geen verwerkte vleis en kos met baie verwerkte graangewasse, bygevoegde suiker en transvette nie.”

Die EAT-Lancet-navorsers meen die planeetdieet sal nie net sowat 11 miljoen sterftes jaarliks voorkom nie, maar ook die vrystelling van kweekhuisgasse drasties verminder, want hulle voer aan huidige eetgewoontes maak nie net mense siek nie – dit plaas ook uitermatige druk op die aarde.

’n Nuwe verslag van die Wêreldhulpbronne-instituut bevestig die EAT-Lancet-verslag se bevindings: In lande wat baie vleis eet, behoort mense hul rooivleis-inname te beperk tot 1,5 hamburgers per week. “Namate die wêreldbevolking groei van 7 miljard in 2010 tot ’n geraamde 9,8 miljard in 2050, en inkomste in die ontwikkelende wêreld ook groei, sal die vraag na kos na raming met meer as 50% toeneem, en die vraag na dierekossoorte met byna 70% (en vir herkouers soos beeste en skape tot 88%),” lui die verslag.

Hoe om al hierdie monde (gesonde kos) te voer, die aarde én die armes te beskerm en ekonomiese ontwikkeling aan te moedig, is die uitdaging; en rooivleis is ’n groot rolspeler.

Het ’n mens werklik rooivleis nodig?

Die planeetdieet laat net sowat 100 g rooivleis per week toe, verder afgewissel met vis, hoender en ander proteïenbronne van plante.

“Vleis is nie noodwendig taboe nie, maar ’n mens moet in ag neem watter tipe vleis jy eet, en hoeveel,” sê Maryke. “In ontwikkelde lande moet mense minder vleis eet, en dan moet dit onverwerkte vleis wees wat kom van ’n plaas wat op volhoubare wyse bestuur word.”

Prof. Hettie Schönfeldt, ’n vleisvoedingkundige en hoogleraar verbonde aan die Universiteit van Pretoria se departement vee- en wildkunde, sê: “Vleis is ’n belangrike bron van meer as tien noodsaaklike voedingstowwe wat nodig is vir groei, ontwikkeling en algemene welstand, insluitend pro­teïen, yster, sink en B-vitamiene. Die proteïen in diereprodukte is van ’n beter gehalte as dié in plantprodukte – die samestelling daarvan is ideaal om deur die liggaam geabsorbeer te word.”

Hoewel yster en sink dus ook in plantkos soos spinasie voorkom, word minder daarvan in die liggaam opgeneem.

Suid-Afrikaanse beeste wat met gras gevoer word, lewer vleis wat ’n goeie bron van onder meer omega 3-vetsure is – beter as beeste wat met graan gevoer word. Maar hierdie voedingstowwe (en B-vitamiene) kom nie net in rooivleis voor nie, maar kom ook voor in hoender, vis, eiers en suiwel, sê Maryke.

Die EAT-Lancet-navorsers reken die planeetdieet sal juis tot groter inname van voedingstowwe soos yster, sink, folaat, vitamien A en kalsium lei, met een uitsondering: vitamien B12, waarvan rooivleis ’n goeie bron is.

Veganiste kan sukkel om vitamien B12 en yster elders te kry, sê Maryke. Vitamien B12 is noodsaaklik vir normale brein- en senuweestelselfunksie, en in sommige van die planeetdieet-scenario’s kan aanvullings nodig wees.

“Veral in die geval van jong kinders is dit wys om ’n dieetkundige te raadpleeg om seker te maak ’n vegetariese dieet is voldoende,” sê Hettie.

EAT-Lancet skeer nie alle bevolkings oor dieselfde kam nie, en sê wel sommige gemeenskappe moet méér rooivleis eet – veral armer lande, waar diëte reeds min of geen rooivleis bevat.

Minder rooivleis bly egter in die algemeen beter. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) klassifiseer verwerkte vleis as ’n kankerverwekkende stof (karsinogeen, met ander woorde daar is bewyse dat dit kanker kan veroorsaak) en rooivleis as ’n waarskynlike karsinogeen. Hulle voeg wel by die risiko is skraal.

In ’n groot nuwe studie deur Cancer Research UK in die International Journal of Epidemiology is bevind mense wat rooivleis en verwerkte vleis binne die aanbevole Britse dieetriglyne eet (sowat 76 g per dag), se risiko van kolorektale kanker is steeds 20% hoër as dié wat net sowat 21 g per dag eet. Hoe minder ’n mens eet, hoe beter, sê die navorsers.

Maar Hettie sê daar is nog nie genoegsame bewys dat een kossoort in ’n gebalanseerde, gemengde dieet tot kanker kan lei nie.

“Dit is nie nodig om ekstreme stappe te doen soos om totale voedselgroepe (soos diereprodukte) te vermy om ’n gesonde dieet te volg nie.”

Die omgewinsimpak van vee

Nog ’n rede vir die beperking op rooivleis, is herkouers se impak op die omgewing. Navorsing wys vleis van vee soos beeste en skape het die grootste impak wat kossoorte betref, veral wat kweekhuisgasse en waterverbruik betref, terwyl graansoorte, vrugte en groente die kleinste impak het.

Volgens die EAT-Lancet-verslag word groot areas bewerkbare grond gebruik om voer aan te plant vir vee. As mense dus minder vleis en suiwel eet, sal hierdie landbougrond gebruik kan word om ’n verskeidenheid voedsame kossoorte vir mense te kweek.

Maar beeste en skape voed veral in Suid-Afrika dikwels op grond wat nie andersins vir landbou gebruik kan word nie.

Volgens dr. Linde du Toit, ’n dierevoedingkundige van die Universiteit van Pretoria, kan sowat 70% van ons landbougrond net vir veeproduksie gebruik word, nie om ander gewasse te kweek nie. Só omskep vee hierdie “nuttelose” graslande in ’n goeie voedingsbron vir mense – proteïen van hoë gehalte in die vorm van melk en vleis.

Daar is ’n teorie dat vee se “koolstofvoetspoor” selfs neutraal kan wees, aangesien die gewasse wat as hul voer gekweek word, koolstofdioksied absorbeer en terug in die grond plaas.

Vee soos beeste en skape dra egter ook by tot klimaatsverandering deur hul spysvertering: Metaan, ’n kweekhuisgas wat volgens die EAT-Lancetkommissie 56 keer die aardverwarmingspotensiaal van koolstofdioksied het, word in dié diere se ingewande gevorm namate die kos gis, en dan vrygestel. Metaangas is 28 keer sterker as koolstofdioksied op ’n tydlyn van 100 jaar, en meer as 80 keer sterker oor 20 jaar. Metaangas word binne 12 jaar afgebreek, terwyl koolstofdioksied sowat 100 jaar neem om vernietig te word in die aarde se atmosfeer. Daarom dalk juis die huidige dringendheid om metaangasvrystellings te verminder. “Enige verandering in metaangasvlakke sal dus vinniger gesien word as koolstofdioksied,” sê Linde. En vinnige verandering is nodig om klimaatsverandering teen 2050 te stuit.

Die druk moet egter nie van die werklike kweekhuisgas-reuse afgehaal word nie. Volgens Linde is landbou (naas die vervoer- en energiesektor) Suid-Afrika se derde grootste kweekhuisgas-produsent, maar dit is verantwoordelik vir net 4,7% totale vrystellings.

“Eintlik is vee dan verantwoordelik vir ’n baie klein persentasie kweekhuisgasse wat in Suid-Afrika vrygestel word,” sê hy.

Meer oor:  Rooivleis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.