Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Die wynbedryf sê: Dankie, Jan!

Eers was hy ’n gunsteling op die rugbyveld en nou is sy wyne ’n gunsteling aan tafel. Jan Boland Coetzee gesels met Suzaan Potgieter oor wyn en wat die toekoms inhou.

Jan Boland Coetzee met sy 1659-erepenning die oggend nadat hy dit ontvang het. Foto’s: KEVIN KRAUSE

Stel jou net voor hoe anders die lewe sou gewees het as die wynlegende Jan Boland Coetzee nie in dié bedryf was nie. Hy wou immers eers ’n veearts geword het, maar dankie tog hy het nie keuring gekry nie – Suid-Afrika kon dan ’n wynmaker én Springbok kwyt gewees het.

Om te sê die eredoktorsgraad wat Jan verlede jaar en die 1659-erepenning wat hy vanjaar ontvang het, is welverdiend, is sagkens gestel.

Ek kom baie vinnig agter dat Jan hopeloos te beskeie en nederig is om dit só te sien.

Ons sit op sy plaas Vriesenhof in Stellenbosch die oggend nadat hy met die 1659-erepenning vereer is. Hoewel dit ’n laat aand was, lyk hy op en wakker in sy kenmerkende kortbroek en sandale – soos wat enige wynboer lyk wat gewoond is aan vroeg opstaan.

Vir die wynbedryf is en sal “oom Jan” en sy wysheid altyd ’n bederf wees. Hy het reeds diep spore tussen die wingerde getrap, maar sy tyd is nog lank nie verby nie.

Met byna 50 jaar se ervaring in die wynbedryf, is Jan se kop ’n ensiklopedie van kennis oor wingerd en wyn.

Weskus-kêrel na die Boland

Sy bynaam, Boland, kom nie van waar hy vandaan kom nie, maar eerder van die dra van sy enigste baadjie, sy Boland-skolerugbybaadjie, in die koshuis by die Universiteit Stellenbosch.

Hy is in 1945 op Porterville gebore en het onlangs sy 75ste verjaardag gevier, maar dít is beslis nie die ouderdom wat jy sien as jy na hom kyk nie.

Ná sy tyd op Porterville het hulle na die Weskus verhuis en het hy gedurende sy hoërskooljare in Malmesbury skoolgegaan. Hy vertel hoe hulle altyd kleintyd nette gespan het om vis te vang in die Weskus-water.

“Ons het vroeg soggens die nette uit die see gaan trek nadat ons dit die vorige aand gestel het. So, dit was ’n ongelooflike tyd. Dan het ons nog soggens die koeie ook gemelk nadat ons die nette uitgehaal het.”

Stellenbosch was nie altyd sy plan ná skool nie, maar nadat Onderstepoort hom nie gekeur het vir veeartsenykunde nie, was dit waar hy beland het.

Jan en die span van Vriesenhof wat saam met hom die harde werk op die plaas aandurf.

“My neef het landbou ge­studeer op Stellenbosch en toe het my pa en sy twee broers – in daardie jare het die familie nog besluit of jy ’n geleerdheid kan kry of nie – gesê ek kan ook Stellenbosch toe kom.

“Toe kom ek hier en ek was maar 17. Ek was seker baie slim dat ek al op 17 in matriek was,” sê hy laggend. “Ek het seker nie baie deur die venster na die see gekyk tydens klas nie.”

Vir hom was die lekkerste deel dat jy daardie jare in die derde jaar van jou wynmaakgraad by ’n kelder moes gaan werk. Hy glimlag wanneer hy terugdink aan hierdie tye.

“Ek het by Simonsvlei gewerk gedurende parstyd en die tweede pars het die keldermeester, oom Sarel, my in beheer van die rooiwynafdeling gemaak.

“Ons het tot laat saans gewerk en as ons klaar gewerk het, het ons van hierdie vate vol warm water gemaak, geklim in die balies en ’n paar ouens gekry om ons rond te trek in die kelder. Dan sit en was ons en dan moet hulle ’n draai in die kelder maak sodat ons by ons slaapplek kan uitkom om ’n bietjie te slaap. Dan het oom Sarel jou weer in die nag kom skrikmaak. Dit was soos ’n fees – jy kon nie daar wegbly nie.”

In 1968 het hy sy amptelike wynmaakloopbaan by Kanonkop in Stellenbosch begin, waar hy in 1973 die plaas se eerste wyne gemaak het.

Jan wys hoe die wingerd in Romanée-Conti in Boergondië, Frankryk, lyk. Hy meen die Suid-Afrikaanse wynbedryf kan by hulle oor seleksie leer.Foto: SUZAAN POTGIETER

Van Springbok na wingerd

Die meeste mense sal Jan altyd onthou as ’n rugbyspeler, veral vir sy tyd in die Springbok-span.

Hy het tussen 1963 en 1979 ’n totaal van 127 keer vir die WP uitgedraf en op ses geleenthede vir die Springbokke.

“Op Stellenbosch het ek toe die kans gekry om bietjie ball te skop. Mense het altyd op Kanonkop gekom en gevra: ‘Waar is die baas?’ Dan sê my mense: ‘Nee, hy het al weer ball gaan skop.’

“So, as ek gaan ‘ball skop’ het, het ek saans so 21:00 by die huis gekom. Daai tyd het die WP-span vir die eerste keer op Nuweland begin oefen. Ek onthou nog toe ons 12 naweke van die jaar van die huis af weg was, toe sê ek: ‘Nee, nou is dit te veel en ek gaan maar ophou.’ Jy weet, nou speel die ouens tussen 35 en 40 wedstryde ’n jaar. En ek het gemoan oor 12!”

Toe hy Vriesenhof op 4 Desember 1980 koop, was dit beslis nie die eerste plaas waarna hy gekyk het nie.

“Ek het lank gesoek na die plaas wat ek wou hê. Omdat ek so lief vir die grond en water is, het ek besluit die plaas moet naby ’n berg wees, want as jy ooit ’n plaas koop, sorg dat dit naby aan ’n berg is. Die kans dat daar water is, is amper 100%.

“En as ek nou terugkyk – die fonteinstroom loop nog altyd nes hy geloop het. In daardie opsig was ek gelukkig. Ek het maar hier beland oor die feit dat ek gesê het ’n suidelike helling in Suid-Afrika is die plek om wingerd te plant – veral vir die sonlig.”

Harde werk is duidelik hierdie man se suksesresep.

“Ek was maklik 18 uur per dag aan die gang toe ek by die plaas begin het en dit het agt jaar gevat voor ek my eerste vakansiedag gevat het.

“Maar moenie dít skryf nie,” keer hy vinnig. “Dit klink of ek brag.”

Harde werk in die wingerd én kelder is die sleutel tot Jan se sukses. Foto: JACO MARAIS

Toekoms van wyn

“Ek dink ek het vanjaar die mooiste druiwe in byna 40 jaar gepars,” sê hy trots en kyk uit oor die wingerd.

“Ek het die afgelope drie jaar baie moeite gedoen met die wingerd en ek probeer so om­gewingsvriendelik as moontlik boer.”

Hy vat my notaboekie en begin die minimum en maksimum reënval van 1974 tot 2016 neerskryf – net so uit sy kop.

“As jy gaan kyk na die gemiddelde reënval van 1929 tot 1934 is dit presies dieselfde as 2015 tot 2019,” sê hy en teken dit aan op ’n grafiek.

Wat duidelik is, is dat Jan nie slegs ’n wynmaker is nie. Hy is ’n wingerdboer wat die natuur ken en weet hoe om dit tot sy voordeel te gebruik.

Volgens hom is een van die goed in die toekoms van teg­nologie om sonlig te kan meet.

“Ons het tans ’n paar eksperimente op ’n ander plaas met sauvignon blanc waar ons die sonlig gemeet het, want die onderste deel van die blok het altyd beter gedoen in terme van kwaliteit.

“Nou het ons die snoeimetodes aangepas dat dieselfde hoeveelheid sonlig in die loot kom as wat in die onderste gedeelte van die blok kom. Nou is dit ’n topgehalteblok.”

Vir hom lê die vooruitgang van die wynbedryf in tegnologie.

“As ’n mens vorentoe kyk in terme van die toekoms, gaan tegnologie maak dat die nuwe generasie ouens baie beter wyne as ons generasie ouens maak.”

Hy sit met ’n boek van Romanée-Conti in Boergondië, Frank­ryk, voor hom en wys my hoe hulle die seleksie van wingerd toepas.

“Die een ding waar ons nog tekort skiet, is die seleksie van individuele plante. Dit is net ’n paadjie wat die wingerde in Burgundy van mekaar skei, maar hulle verskil 100% van mekaar.

“Die rede is 1 000 jaar se seleksie. Met ander woorde: Die plant, alhoewel dit in dieselfde omgewing staan, is anders.”

Om die perfekte wingerd te kry sal seleksie koning moet kraai.

“Jy stel kriteria op vir die druifsoort: Hy moet in die groeiseisoen 1,2 m groei, want dan het hy genoeg blare vir twee trossies. Die trossie moet weer goed kleur, sy korrelgrootte is belangrik, die trosgrootte is belangrik,” noem hy ál die kriteria op.

Hy sê hulle snoei dan sowat tien stokke in die blok sodra ál die blare af is, en dan kyk hulle wat was die opbrengs vir die seisoen. Daarvolgens snoei hulle weer vir die volgende seisoen.

“Jy wil so na as moontlik aan die optimum bly. Dis tog nie moeite nie, want jy gaan in elk geval snoei, maar hoeveel mense doen dit? Niemand nie!” sê hy ernstig.

Wysheid kom met jare

“Jy moet onthou, ek was byna 40 jaar oud toe ek hier gekom het en daarom het ek alles gedoen wat ek al geleer het deur die jare,” sê hy oor sy tyd in die wynbedryf en op die plaas.

As mense van Jan praat, is sy ongelooflike palet die eerste ding waarna die meeste verwys.

En hoe ontwikkel jy jou palet so, wil ek by hom weet.

“Dit is oefen. Ek het ook ’n redelike goeie geheue en assosiasie. Jy kan nie net met jou palet proe nie – jy moet ál jou sintuie gebruik.”

Hy praat met groot bewondering van Simon van der Stel, die ontwikkelaar en “vader” van die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

“Ek staan baie aande hier en kyk waar die son ondergaan en dit gaan presies oor Groot Constantia onder in die middel van die groeiseisoen.

“Daai man het oë gehad, hulle gebruik, gesien en sy kop gebruik. Nou sien ek vir die eerste keer wat hy alles gedoen het.

“Hy het hier gekom en hy het die eerste stok al in 1680 geplant en hy het in Maart 1679 hier aangekom, en hy het dit op die regte plek geplant. En as jy oplees, sal jy sien dat hy eers na die grond gegaan het.”

Vir Jan is wat in die wingerd gedoen word nét so belangrik as wat in die kelder gebeur.

“Wingerd is soos rugby: Victory is born in the scrum en goeie wyn is gebore in die wingerd.”

Meer oor Jan

Jan Boland Coetzee was in die 1970’s een van die stigterslede van die Landelike Stigting, ’n organisasie wat daarna streef om die woon- en werkomstandighede van die plaaswerkergemeenskap te verbeter. 

Hy is ook ’n stigterslid van die Kaapse Wynmakersgilde en is ’n erelid van die Pinotage Assosiasie.

Verlede jaar is hy vereer met ’n eregraad van die Universiteit Stellenbosch. Hy het ’n doktorsgraad in die natuur­wetenskap in landbou (DSc Agric) honoris causa ontvang.

Wat is die 1659-erepenning?

Dié erepenning word jaarliks aan ’n wynikoon of -instansie gegee wat diep spore in die bedryf getrap het. Die persoon moes ’n wesenlike bydrae tot die bedryf gelewer het waarvan daar ook genoegsame bewyse moet wees. Die bedryf, of ’n spesifieke aspek van die bedryf, moes positief daardeur beïnvloed word.

Die bydrae moet ’n blywende uitwerking hê en aanduidings toon van ’n besonderse nalatenskap in die bedryf.

Meer oor:  Jan Boland Coetzee  |  Wynboer  |  Springbok  |  Wynmaker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.