Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Dit is feestyd by die see
As jy gelukkig is, behoort julle vanjaar die suidelike noorkapper vroeër te sien, soos van hier op die stoep van ’n kamer by die boetiekhotel One Marine Drive. Daar is ’n kronkelpad tot by die hawe wat deur wagte ­beveilig word.Foto’s: samarie smith

Wyn tot walvisse. En Hermanus tot Stanford. Dís waar jy regdeur die jaar wil kuier. Hier is ’n paar doendinge én ’n fees om die draai. Samarie Smith het gaan kuier.

Wat begin het as ’n vissersdorpie, het vandag ’n hutspot vir toerisme geword. Veral as dit by kos en wyn kom. Hier is ’n paar doendinge wat op jul lysie moet wees as julle weer gaan kuier, veral met ’n wyn-en-voedselfees wat binnekort gehou word.

Paul du Toit het sy droom 19 jaar gelede in die stigting van die Wine Village in die lewe gebring. Verder hou bemagtigingsprojekte hom besig.

Wine Village

Die Wine Village het ’n baken in die dorp geword, soos die poorte na die Hemel en Aarde-wynvallei. Paul en Cathy du ­Toit het bykans 20 jaar gelede ’n wynbiblioteek begin toe daar in 1998 maar net ses produsente in die Overberg was.

Met hierdie visie, innoverende sakepraktyke, ’n verantwoordelike lewensuitkyk en uitstekende personeel wat diens verstaan, is dit in ’n besondere bestemming omskep en verteenwoordig nagenoeg 350 Suid-Afrikaanse wynprodusente en 2 500 etikette, vertel Paul.

“Maar dis nie net ’n wynwinkel nie. Ons kommunikeer ook die waardes van ’n wynkultuur wat mense én die omgewing insluit. Ons wynspan-familie word voltooi deur Hester, Ulla, Mari­aan, Rudie en Edward, Karien en Marise met ondersteunings­logistiek, en Foreman en Bongile wat omsien na die wynuitleg.”

Elke dag word minstens ses wyne oopgemaak om met besoekers te deel en hulle meer oor die wyne en hul stories te vertel. Allerlei wynkatoeters, glase en snoepgoed is ook te koop.

Paul se betrokkenheid by die Absa Cape Epic-bergfietsresies het dié gebeurtenis drie maal na Hermanus en een maal na Kleinmond gebring.

Verskeie bergfietsrenne en bergwedlope skop ook by die Wine Village af. En as dit by ’n groenvoetspoor en herwinning kom, is dié wynspan net so voorbereid.

Abagold is toegewy aan die volhoubare boerdery van perlemoen in Hermanus. Hierdie kissie, so goed soos goud, is veral gewild en kan teen R1 795 gekoop word.

Perlemoentoer

Toe ’n plaaslike veearts, dr. Pierre Hugo, in die 1990’s bekommerd geword het oor die afname van wilde perlemoen in die see, veral weens stropery, het hy self begin eksperimenteer om te kyk of daarmee geteel kan word.

Met sy seuns wat ná skool seewater aangedra het, het hulle resultate gesien en is die eerste kweekhuis in die Ou Hawe van Hermanus opgerig. Vandag word Abagold as ’n kommersiële boerdery en ’n publieke maatskappy in die Nuwe Hawe bestuur.

Dit sluit in vier plase, ’n wêreldklas-verwerkingsaanleg, ’n filiaal (Specialised Aquatic Feeds) wat gespesialiseerde perlemoen- en visvoer produseer, en ’n geassosieerde maatskappy (Mean Sea Level) wat hernubare energie vir die groep ondersoek.

Pierre se seun, Johan, het ­Heart of Abalone in 2015 begin, ’n onafhanklike toerisme­vennoot van Abagold wat op hul suksesverhaal fokus.

Lus vir ’n perlemoenproe? Jy kan dit met ’n toer hier ervaar.

Hul venue is by Abagold ingerig, waar besoekers ’n inligtingsessie meemaak, op ’n begeleide toer van die plaas gaan om die babaperlemoen te sien, en dan, die perlemoen proe.

Volgens Johan is die perlemoenbedryf ’n hoogs gereguleerde industrie. Restaurante kan aansoek doen om perlemoen te bedien, maar weens ’n lang produksieproses (tot vyf jaar) met hoë insetkoste is dit baie duur.

Die prys wissel van $25/kg vir geblikte perlemoen tot meer as $80/kg vir groter gedroogde perlemoen.

Naas Japannese perlemoen is Suid-Afrika s’n, Haliotis midae, die gesogste ter wêreld. Sowat 99% van alle Suid-Afrikaanse perlemoen word na Asië uit­gevoer.

“Een van my doelwitte met toerisme is om perlemoen meer toeganklik te maak en ’n bewustheid daaroor te skep. Perlemoen is ’n bedreigde spesie en die volhoubare boer daarvan is belangrik.

“Wilde perlemoen is rooi op die Sassi-lys [Suid-Afrikaanse inisiatief vir volhoubare seekos] en geboerde perlemoen is op die groenlys.”

Dit word oor die algemeen aanvaar dat die smaak van geboerde en wilde perlemoen (uit die see) dieselfde is. Die smaak kan ook beïnvloed word deur die spesie en wat die perlemoen eet, hoofsaaklik kelp. Die grootte beïnvloed ook nie sy smaak nie solank dit eenders verwerk word. Jy sal maar self moet gaan leer én proe!

’n Toer duur ’n uur en kos R130. Met die proe ingesluit, kos dit R300. Bel Johan by 083 556 3428 vir navrae.

Wyn-en-voedselfees
Hermanus se wyn-en-voedselfees word alreeds vir 18 jaar deur Wine Village aangebied. 

Elgin tot Elim vorm die roepskrif van hierdie wynvertoonkas uit die Overberg met sowat 350 wyne om aan te proe. 

Daar sal ook verskeie bier- én jenewerstalletjies wees. 

Die Pebbles-projek sal gratis kindersorg aanbied met kuns- en vlytprojekte, sowel as ’n fliek om hulle besig te hou. Die grootmense kan na lewende musiek uitsien.

Daar sal onder meer ook kosstalletjies en -lorries wees, ’n oester-en-vonkelwynkroeg en Tannie Jen gaan haar bekende pannekoeke bak.

Waar: Curro- private skool, ’n klipgooi van die Wine Village af in Sandbaai.

Wanneer: 11 en 12 Augustus

Koste: Toegang tot die arena kos R50 en R120 as julle aan al die wyne wil proe.

Kontak: 028 316 3988

WEN! WEN! WEN! Drie lesers kan elk ’n stel kaartjies na die fees mét die wynproeë wen. Deel jou gunsteling kos- of wynstorie uit dié omgewing en stuur dit met jou volledige besonderhede na versnit@dieburger.com.

Een van baie gesellige hoekies by die vyfsterboetiekhotel One Marine Drive in Hermanus. Walviskussings en fokuspunte soos pienk en blou kaste is deel van die dekor.

'n Hotel by die see

Wanneer dit by kos en wyn kom, is jou keuses in dié geweste eindeloos. Dit is wys om sommer vir die naweek oor te bly in ’n boetiekhotel soos One Marine Drive, wat reg op die see uitkyk.

Hier kry jy sommer ook ’n iPad vir jou gebruik, 24-uur­kamerdiens, ontbyt én walvisse wat in die baai spring daarby ingesluit. Dié mense verstaan gasvryheid en gee aandag aan die klein goedjies wat saak maak. Dit is ’n ou huis wat oorgedoen is met elke luukse kamer wat nou sy eie persoonlikheid het.

Gaan proe wyn by Raka in Stanford en luister na hul storie.

Wyn van oorsprong

Teen die Hemel en?Aarde-pad op wag groot name soos Hamilton ­Russell, Bouchard Finlayson en Creation, maar daar is ook name soos Hannes Storm, wat sy eie wyne maak, en die wyne van Spookfontein. 

Storm het sy loopbaan by ­Hamilton Russell begin en sy hart op die vallei verloor. Hy maak pinot noir en chardonnay van verskeie wingerde en hanteer dit presies dieselfde sodat die terroir van elk na vore kom. ’n Gunsteling is die Storm ­Vrede ­Pinot Noir 2015 met ’n parfuum wat jou hart oorrompel, sysagte tekstuur en fris suur wat die vrug verder in jou mond dra.

Stanford se kant toe wag wyne met hul eie karakter en persoonlikheid. Gaan proe by plase soos Walker Bay Vineyards – ons was dol oor die sitrusvars ongehoute chardonnay – Raka, waar jy nét soveel lekker vis­stories kan hoor as oor hul pad met wyn, waarvan die Biography Shiraz steeds ’n groot ­gunsteling is – en Vaalvlei, waar ’n dierkundige sy hart gegee het aan die bewaring van die bedreigde luiperdpadda en onder meer ’n lieflike portstylwyn maak.

Die sjef Rickey Broekhoven by The Restaurant (Newton Johnson-wynplaas) in die Hemel en Aarde-vallei. Foto’s: Samarie Smith

Newton Johnson

Daar is baie opsies in die Hemel en Aarde-vallei wat restaurante betref, maar hou gerus The Restaurant by Newton Johnson dop. Die sjef Rickey Broekhoven het die leisels by die sjef Eric Bulpitt oorgeneem en gee stadig maar seker aan die restaurant sy eie aanslag met dít wat hy by Bulpitt geleer het. Veldjag is een van sy groot liefdes en eenvoudige groente word hier voorop gestel. Die aardse karakter van die geregte pas ook by die elegante wyne.

Die Family Vineyards Chardonnay 2015 is só lekker, jy wil daarin verdrink! Wees op die uitkyk vir hul spesiale winter-aandetes. Bespreek by 021 200 2148.

Lees volgende week oor die sjef Shane Sauvage se restaurant in Her­manus, La Pentola, asook sy jongste kookboek, Cape Fusion.

La Pentola

As jy ’n restauranteur-sjef agter die potte wil sien én hoe hy sy gaste groet asof hulle familie is, dan moet julle die sjef Shane Sauvage ontmoet. 

Sy loopbaan het begin kook nadat hy die Chaîne des Rôtisseurs se Jong Sjef van die Jaarkompetisie gewen het, maar sy volgehoue sukses is bepaal deur wie hy is en die wyse waarop hy alles so eenvoudig soos ’n aarbei, slak of niertjie hul regmatige plek op ’n bord laat kry.

Een van Klein River Cheese se groot gunstelinge – ­Gruberg.

Klein River Cheese

Hierdie handgemaakte kase is ook hul eie storie werd, so hier is ’n lusmakertjie, veral as gesinne op soek is na ’n lekker plaasatmosfeer waar die kinders die diere kan voer.

Slegs plaaslike melk word gebruik en die produkte bevat geen hormone of antibiotika nie. Ook die stremsel wat gebruik word, is veilig vir vegetariërs. Met 25% van hul krag wat deur sonenergie opgewek word, sê hulle “elke vierde kaas word met die son­ gemaak”.

Terwyl die verouderde Gruberg en gerookte Stanford ons gunsteling is, sal jy op jou beurt jou voorkeur hê uit al dié kase wat met soveel deernis twee keer per week gewas en gepamperlang word. Skakel 028 341 0693 vir meer inligting oor pieknieks en proeë.

Stanford Hills

Wat ’n verrassing. Ons het geweet hulle kan wyn maak, en daarvan sal die pinotage getuig, maar die kos is ook uit die boonste rakke. Hulle hou dit eenvoudig, soos koeskoes met chorizo en gevulde calamari, lamsvleis-koftas en ’n trio van klein hamburgertjies. 

Die spyskaart verander daagliks en vryloop- en plaaslike produkte word gebruik waar moontlik. 

Die plaashuis, wat as restaurant ingerig is, kyk uit oor die vallei, met ’n dam waarin kinders kan baljaar en ’n vuurherd met komberse vir knus kuiers.

Meer oor:  Hermanus  |  Stanford  |  Fees  |  See
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.