SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Drinkgoed:
Dit kom nie by moerkoffie

Sy het al op baie plekke koffie gedrink, maar Ilse Zietsman bly glo ons boeretroos is die beste.

’n Groepie Suid-Afrikaners drink oggendkoffie – met die dalla-koffiepot langs die vuur – in die woestyn van Saoedi-Arabië.

’n Ethiopiese legende lui dat ’n bokwagter genaamd Kaldi eeue gelede koffie ontdek het. Of om meer spesifiek te wees – Kaldi se bokke het die koffiebone ontdek. Kaldi het opgelet dat sy bokke ekstra woema gehad het nadat hulle helderrooi bessies van ’n sekere boom geëet het. Kaldi het vir die ab van die plaaslike klooster (abdy) hiervan vertel. Die ab het dieselfde bessies gebruik om ’n drankie voor te berei en toe agtergekom dat hy langer kon bid nadat hy dit gedrink het. Van hier af het die boodskap versprei tot waar koffie vandag een van die gewildste drankies ter wêreld is.

Hoe koffie deur die wêreld versprei het

Volgens Wikipedia het koffie vanaf Ethiopië na Egipte en Jemen versprei, van daar af na Persië, Turkye en die res van Noord-Afrika. Hierna het eers die Venesiërs en toe die res van Italië en Europa koffie leer ken.

’n Ou Ethiopiese idioom lui: Abole, Berke, Sostga – een, twee, drie koppies, en dan is ons vir altyd vriende. Onder baie Ethiopiërs is dit juis tradisie om drie koppies koffie ná mekaar te drink.

’n Afrikaanse idioom lui weer: Hulle is lief vir koffie drink. Dit beteken dat “hulle” graag skinder!

In Turkye word koffie altyd met water bedien. By sommige van die hotelle kan jy ook likeur daarby bestel.Foto:

Koffiedrink in Turkye

Die woord “koffie” kom van die Turkse woord vir koffie, “kahve”, wat op sy beurt van die Arabiese woord “qahwa” of “kava” afstam; dit beteken “stimulerende drankie”.

In Turkye drink ’n mens klein vingerhoedkoppies vol sterk koffie; onderin lê die moer dik en jy moet versigtig sluk om nie met ’n mondvol hiervan opgeskeep te sit nie. Turkse koffie is so sterk, dit voel of jy dit met ’n mes kan sny!

Daar is selfs Turke wat die koffiemoer gebruik om die koffiedrinker se fortuin te vertel!

Die Fes Cafe in Istanbul.

Turkse koffie word in ’n spesiale koperpotjie met ’n houthandvatsel, wat ’n “ibrik” of “cezve” genoem word, gemaak. Die ibrik het ’n smal nek en ’n breë onderkant; ’n breë bodem sorg vir egalige verhitting, en die nou nek is waar die skuim opbou. Turkse koffie word drie keer tot kookpunt gebring voordat dit bedien word.

So sterk soos die dood en so soet soos die liefde.

Daar word vertel dat Turkse bruidegomme destyds op hul huweliksdag ’n belofte aan hul bruide moes aflê dat daar ten alle tye genoeg koffie in die huis sou wees. Sou hulle nie aan hierdie voorwaarde voldoen nie, sou dit grondige rede vir ’n egskeiding wees.

Die Turke neem hul koffie ernstig op. ’n Turkse idioom lui: Koffie moet so swart soos die hel, so sterk soos die dood en so soet soos die liefde wees. Die Turke is inderdaad lief vir koffie met baie suiker.

In Saoedi-Arabie word koffie in die woestyn in ‘n koffiepot gebrou, wat ‘n dalla genoem word. Foto’s: Ilse Zietsman

Kasaterwater in Saoedi-Arabië

Uit my ervaring is die tradisionele Arabiese koffie in Saoedi-Arabië afgewater; dis maar moeë (flou) koffie wat amper soos skottelgoedwater lyk. Kardemom, naeltjies, gemmer en saffraan word soms by die kommetjies koffie gevoeg. In dié Midde-Oosterse land hoort ’n vrou én ’n koffiekan in die huis, word daar geglo.

Die eerste Starbucks in Seattle.

Nie net Starbucks in Seattle

Die eerste Starbucks is in Seattle, Amerika, geopen. Die oorspronklike winkel, hoewel hulle in ’n stadium van adres verander het, kan nog steeds by Pike Place Market in Seattle besoek word, en nie veel het aan die binnekant verander nie.

Die “oorspronklike Starbucks”, soos dit bekend staan, is ’n toeristetrekpleister en is die meeste dae van die week tjokvol. Die winkel is minder as 100 m2 groot. Om ’n foto te neem, is ’n saak van onmoontlikheid weens die rye en rye mense wat binne én buite staan.

Die eerste Starbucks ooit is by Pike Place Market, ook bekend as die sentrale openbare mark, in Seattle geopen.Foto:

Dié Starbucks het reeds in 1971 sy deure geopen. Die eerste tien jaar het hulle slegs grootmaat-koffie, -tee en –speserye verkoop, asook koffiebone gerooster; eers later is ’n koffiewinkel oopgemaak.

Tot vandag toe is die Starbucks-winkel by Pike Place Market die enigste Starbucks wat nie eetgoed ook verkoop nie – dit was een van die oorspronklike voorwaardes waaronder hulle by die Pike-mark kon handel dryf.

In die eerste Starbucks-winkel is daar ’n paar dekor-elemente wat uitstaan: die leer op die espressokroegtoonbank is oorskietleer uit skoen- en motorfabrieke; die naamborde is van herwonne leiklip wat van ’n plaaslike skool verkry is en die muurtapisserie is van ou koffiesakke.

Die eerste koffiewinkel van die Seattle Coffee Company is in 1993 deur ’n egpaar van Seattle in Londen geopen. In 1998 het Starbucks hulle uitgekoop.

Starbucks is so deel van Seattle as koue winters. Foto:

Seattle is een van die Amerikaanse stede met die meeste Starbucks-koffiewinkels (New York is met 241 takke die wenner; Seattle het 133 takke). Nie net sien jy boonop maklik elke paar honderd meter ’n tak van Seattle Coffee Company in Seattle nie; jy sien ook nog elke paar blokke ’n koffiewinkel in private besit wat saam met al die ander koffiewinkels ewe druk besoek word. Seattle is inderdaad die koffiehoofstad van Amerika.

Die tydskrif Experience Wa, ’n toeristegids vir besoekers aan die deelstaat Washington, berig dat daar meer as 1 600 koffiewinkels slegs in Seattle is.

Koffiestatistieke wat ek raakgelees het, sê 64% van Amerikaners drink elke dag koffie. Die gemiddelde Amerikaner drink meer as drie koppies koffie per dag. Daar word altesame 400 miljoen koppies koffie per dag in Amerika gedrink. Jaarliks drink Amerikaners 146 miljard koppies koffie.

Die Biscuit Bitch-koffiewinkels in Seattle se slagspreuk is “From the trailer park to the table”. Dis waar die stadsjapies van Seattle saam met die toeriste wat die stad besoek, uithang. Hier hoef jy nie skaam te wees om aanwysings te vra nie; die musiek pomp terwyl jy koffie drink en die personeel voer soms danspassies uit terwyl hulle vir jou “Kickass Espresso” aangee.

Daar is ook 12 takke van die Cherry Street Coffee House in Seattle. Elke tak het sy eie dekor, en hulle fokus daarop dat al hul baristas kwaliteitopleiding ondergaan.

’n Maand in Amerika het my nie oortuig dat hul koffie naby ’n goeie koppie boeretroos kom nie. Nee wat, hul koffie is vol vlieë, oftewel, hulle misgis hulle. ’n Koppie moerkoffie bly maar die beste!

  • ’n “Cup of Joe” is ’n koppie koffie in Amerika. Waar hierdie speelse term vandaan kom, is niemand meer seker nie. Volgens een teorie het vlootmatrose meer koffie begin drink nadat die vlootminister Josephus Daniels, wat kortweg Joe genoem is, alkohol aan boord van die vlootskepe verbied het. Volgens ’n ander teorie is dit bloot ’n samevoeging van “mocha-java” wat eers in die spreektaal tot “mo-jo” verkort is en oplaas tot bloot “joe”.
Meer oor:  Gesdkiedenis  |  Koffie  |  Boeretroos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.