Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Drie gange vir Pase

Elke week het die posman sy fietsklokkie gelui om sy teenwoordigheid aan te kondig en ’n groot bruin koevert in ons posbus gegooi. Dan het ek in my opgewonde kinderhart geweet dit is die nuwe Huisgenoot! Dit was my weeklikse hoogtepunt en in ’n klein dorpie soos Wepener was dit my enigste buitewêreld-ensiklopedie. Ek kon die weeklikse Bollie lees, vir Margaret Gardiner, Anneline Kriel, Sonja Herholdt, Mynie Grové en my ander helde beter leer ken en het my natuurlik verkyk aan al die lekker resepte.

Ma het die Huisgenoot as inspirasie gebruik en ons het vele van Annette Human se resepte gemaak. Ma Babs se resepteboek is nou nog vol uitgeknipte resepte wat vasgeplak is – jare en jare s’n.

Huisgenoot-resepteboeke

Annette Human het die eerste Huisgenoot Wenresepte geskryf, daarna het ons vir Carmen Niehaus leer ken, en nou is dit Es­ther Malan se beurt. Esther is die tydskrifte Huisgenoot, YOU en Drumse assistent-kosredakteur en is in 2017 aangewys as die Galliova Kosskrywer van die Jaar.

Smulkos is ’n splinternuwe versameling uit Esther se gewilde Vat Vyf-reeks wat elke week in Huisgenoot verskyn. Die resepte wissel van geurige idees vir ontbyt, terte en pasteie, braai, hoender, straatkos en kaggelkos tot vinnige en gesonde slaaie. Watertand-poedings en -gebak bly ook nie agterweë nie. Alles getoets in die Huisgenoot-toetskombuis, wat verseker dat dit keer op keer werk en families oor ons land heen te lekker daaraan gaan smul.

Driegang-Paasfeesmaal

Ek het ’n driegang-Paasfeesmaal uit Smulkos vir julle saamgestel. Kom ons begin met ’n avokadotartare met ’n saggekookte eier. Tradisioneel word tartare met rou beesvleis gemaak en afgerond met ’n rou eiergeel; Esther maak ’n vleislose weergawe met avokado en rond dit af met ’n saggekookte eier.

Vervang die lamsboud en beïndruk jou gaste met spoggerige masala-skenkelpasteie; dit verg effe meer tyd en geduld, maar dit is die moeite werd!

’n Boksie truffels is altyd welkom, of dit nou is as soetigheid ná ete of selfs as ’n stoute peuselhappie wanneer die soettand pla.

Indien julle weggaan hierdie Paasnaweek en die pad aandurf – ry veilig en koop die Huisgenootwaar jy petrol ingooi. Die tydskrif is nou al meer as 100 jaar oud en staan sy man in hierdie tyd waarin als net oor digitaal gaan.

Lank lewe Huisgenoot!

Anél

anelpotgieter.com

Brandewyn-sjokoladetruffels

Maak ongeveer 42 truffels

125 g droë appelkose/perskes, fyngekap

80 ml brandewyn

30 ml (2 e) kookwater

400 g (5 x 80 g-stafies) donkersjokolade, grof gekap

300 ml room

200 g gemmerkoekies, gekrummel

kakao, vir rol

Plaas die appelkose of perskes in ’n glasbakkie. Giet die brandewyn en kookwater oor en meng deur. Bedek en laat staan vir 2 uur of oornag. Plaas die sjokolade in ’n groot bak. Verhit die room in mikrogolf tot kookpunt en giet oor die sjokolade. Roer totdat die sjokolade gesmelt is. Roer die gemmerkoekiekrummels en brandewyn-vrugte by. Bedek met kleefplastiek en verkoel in yskas vir 1 uur of oornag.

Rol die mengsel in okkerneutgrootte balletjies en rol dan in kakao. Pak in ’n lugdigte houer en hou verkoel.

Masala-skenkelpasteie

Lewer 4–6 individuele pasteie

4–6 klein heel skaapskenkels

30 ml (2 e) geroosterde masala

2,5 ml (½ t) komynsaad

sout en varsgemaalde peper

2 lourierblare

4 knoffelhuisies, gekneus

1 ui, in kwarte gesny

2 wortels, in stukke gesny

4 x 250 ml (4 k) hoender- of beesvleisaftreksel

Vir afronding

2 x 400 g rolle skilferkorsdeeg

1 eiergeel, gemeng met 15 ml (1 e) water

2,5 ml (½ t) komynsaad

5 ml (1 t) mielieblom, gemeng met 5 ml (1 t) water

Skenkels: Voorverhit die oond tot 170 °C. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit. Geur die skenkels met die masala, komynsaad, sout en varsgemaalde peper. Pak die lourierblare, knoffel, ui en wortels in ’n oondbak met ’n deksel. Plaas die skenkels bo-op en giet die aftreksel oor. Maak die deksel van die bak toe en rooster 3 uur lank of totdat die vleis amper van die been afval. Skep die skenkels uit die aftreksel en laat 30 minute afkoel – behou die aftreksel.

Bak met deeg: Verhoog die oond se temperatuur tot 180 °C. Rol die skilferkorsdeeg liggies op ’n meelbestrooide oppervlak uit. Sny die deeg in 4–6 groot blokke. Sit ’n skenkel versigtig in die middel van elke blok deeg, vou die punte van die deeg na die middel en knyp aan die bokant, om die been van die skenkel, toe. Plaas die pasteie op die voorbereide bakplaat en verf met die eiergeelmengsel. Sprinkel die komynsaad oor en bak 25 tot 30 minute lank of totdat die deeg goudbruin en gaar is.

Sit intussen die oondbak met die aftreksel op die stoof. Voeg die mielieblom by en roer totdat die sous reduseer en verdik. Sit die pasteie voor saam met die sous en ’n bykos van jou keuse.

Avokadotartare

Genoeg vir 2 mense (as ’n maaltyd) of 4 – 6 mense (as peuselhappie)

Avokado tartare met ’n saggekookte eier. Foto:

2 jumbo-eiers

2 avokado’s

1–2 brandrissies, gekap

1 knoffelhuisie, fyngedruk

sap van 1 lemmetjie

60 ml (¼ k) gekapte vars koljanderblare

15 ml (1 e) olyfolie

sout na smaak

Eiers: Plaas die eiers in ’n kastrol en bedek met water. Kook die water. Sodra die water begin kook, roer aanhoudend met ’n lepel in een rigting sodat die water begin dwarrel. Kook die eiers 1 minuut in die dwarrelende water – roer aanhoudend. Ná die minuut, haal die eiers uit die water en dompel in yswater. Laat 10 minute staan om af te koel.

Tartare: Skil en ontpit die avokado en sny in blokkies. Meng die avokado, rissies, knoffel, lemmetjiesap en koljanderblare liggies in ’n mengbak. Drup die olie oor, geur met sout en meng weer liggies.

Vir voorsit: Kraak die eiers en dop dit versigtig af.

Sit 2 ronde metaalvorms op 2 borde en skep die avokado daarin. Druk liggies platter en lig die vorms versigtig af. (Die tartare kan ook net so in hopies geskep word.)

Skep die eiers versigtig bo-op en sit net so voor of saam met roosterbrood of beskuitjies.

WEN

Smulkos word uitgegee deur Human & Rousseau en kos R290. Drie lesers kan elk ’n eksemplaar wen. SMS die woord “smulkos” met jou naam en adres na 34581. Sluitingsdatum: 19 April

Meer oor:  Resepte  |  Kostelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.