Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
D’ville: Van die atmosfeer tot die uitsig betower

Of jy nou van wyn hou of nie, die Durbanville-wynroete bied jou ’n rits ervarings. Suzaan Potgieter het meer gaan uitvind.

Geniet ’n glas van Diemersdal se bekroonde Winter Ferment Sauvignon Blanc 2018 by sy proe­lokaal of restaurant.Foto’s: VERSKAF


Die Durbanville-wynroete is nie ’n roete wat jy sommer in ’n dag kafdraf nie, maar met fyn beplanning kan jy dit oor twee Saterdae geniet.

’n Proe hier, ’n proe-en-pas­ervaring daar en ’n middagete daarna, en voor jy jou oë uitvee, het jy breër kennis oor die roete.

Hier is veel meer as net goeie wyn, want die meeste plase het van die beste restaurante, gereelde musiekvermaak en anderste ervarings.

Sluit aan by Meerendal om sy wyne te geniet – op hul eie of saam met middagete in een van die restaurante.

Groot wynparadys

Van die atmosfeer tot die uitsig en tuine by Groot Phesantekraal – alles dra by tot hierdie unieke ervaring.

Die proelokaal is só ontspanne, dit is die ideale plek vir ’n rustige wynproe. Daar is sewe wyne in die reeks, maar twee is nie vir proe beskikbaar nie. Jy kan dus die oorblywende vyf wyne vir R50 proe.

Die Groot Phesantekraal MCC 2016 (R140) is ’n gunsteling onder besoekers.

Saterdae steek hulle ’n vuur vir die pizzaoond aan en bedien verskillende pizzas (R100/R110) buite die proelokaal saam met die wyne. Jy kan gerus die 2018 chenin blanc en sauvignon blanc probeer.

Die restaurant bied die heerlikste disse in groot porsies, wat lamsfrikkadel-gnocchi, haselneutstokvis, hoenderslaai en steak insluit.

Ontbyt word soggens tot 11:00 bedien waarna middagete volg. Saterdae is daar ’n spesiale laatontbytspyskaart tot die middag.

Groot Phesantekraal is Dinsdae tot Saterdae oop. 

Skakel: 021 825 0060

Groot Phesantekraal se reeks wyne is klein, maar elkeen is lekker. Geniet dit saam met ’n ete in die restaurant.

’n Sein vir wyn

Die roep van die kanon by Signal Gun is beslis ’n rede om hier ’n draai te maak.

Jy sal gaan vir die wyn en bly vir die bier (of andersom) en terselfdertyd die rustigheid geniet.

By die proelokaal kan jy wyn proe, ’n kaasbord geniet of bier per tapkraan geniet.

Wynproeë kos R50 of R80 vir vyf wyne en daar is ook wynproeë met onder meer nougat, sjokolade en Turkse lekkers. Probeer die premiereeks se sauvignon blanc asook dié van die reserwereeks.

Die bierproe kos R50 vir vier biere en R100 as jy die biere saam met verskeie lekkernye wil proe en pas.

Ontbyt word al van 09:00 soggens bedien gevolg deur pizzas, burgers en ander ligte maaltye vir middagete. Die restaurant is saans tot laat oop en bied bogenoemde en ander kosse saam met die wyn en bier wat op die plaas gemaak word.

Daar is ook gereelde spesiale aanbiedinge soos onder meer pizza-aande Donderdae en Saterdae, en hoendervlerkies Woensdae.

Elke naweek bied ook ’n heerlike kuier met lewende musiekvermaak.

Signal Gun is Dinsdae tot Sondae oop. 

Skakel:021 976 7343

Die Karoo-lamsnek by De Grendel is die grootste bederf wat jy jouself kan gee. Drink dit gerus saam met die pinotage.

Eet, drink en geniet

Of jy gaan vir die wyn, kos of om die adrenalien te laat pomp, Meerendal bied alles en nog meer.

Behalwe al die feeste en doendinge wat dié plaas aanbied, is die wyn ’n groot trekpleister.

Daar is twee wynproe-opsies (R40 en R60) waar jy verskillende wyne kan proe.

Hier is die 2018 sauvignon blanc (R143) een van die wyne wat jy moet probeer – altyd ’n gunsteling. Die verskillende pinotagewyne is ook topklas.

Met twee restaurante – en ’n derde een op pad – is jy bederf met talle opsies vir etes.

Carlucci’s bied ’n meer ontspanne ervaring met burgers, pizza, skemerkelkies en ’n speelarea en spyskaart vir kinders.

Crown is weer net die plek vir besondere geleenthede, vieringe en elegante etes. Hoof­geregte hier sluit in beesstert, varklies, hoenderpastei en lam­s­blad.

Die nuwe restaurant wat een van die dae sy deure oopmaak, gaan kleiner wees met ’n fokus op Italiaanse kos en ’n wyn- en jenewerkroeg.

Verder is daar ook bergfiets- en staproetes, en fliekaande word elke maand by die Galileo-buitelugbioskoop op die plaas aangebied.

Meerendal is elke dag van die week oop. 

Skakel: 021 975 1655

Maak ook ’n draai by Kronendal vir ’n anderste wynervaring.

’n Fees van sauvignon

As sauvignon blanc jou gunstelingwyn is, is Diemersdal net die plek om te besoek.

Met ’n rits van dié wyne in sy reekse, wat selfs ’n rosé en vonkelwyn insluit, sal die besoek jou smaakknoppies beïndruk. Die wyn word meestal deur middel van andersoortige tegnieke gemaak, wat sorg vir ’n interessante proe-ervaring.

Wynproeë kos R50, R70 of R100 vir ses wyne afhangend van watter reeks jy wil proe. Moenie die kans laat verbygaan om die veelbekroonde Winter Ferment Sauvignon Blanc 2018 te probeer nie – ’n unieke wyn waar die sap gevries word om fermentasie uit te stel. Dit is tans uitverkoop, maar sal binnekort weer beskikbaar wees.

Die Farm Eatery langs die proelokaal is ook ’n goeie keuse vir middagete. Disse soos steak, paella en varklies met voorgeregte en nageregte is op die spyskaart. Daar is ook ’n tapas-opsie (R200) waar ’n verskeidenheid van seisoenale disse, wat gereeld verander, saam voorgesit word.

Die restaurant is Maandae gesluit en die proelokaal is heel week oop. 

Skakel: 021 976 3361

Uitsigte en lekkertes

’n Uitstappie na Durbanville moet beslis afgesluit word by De Grendel met ’n glasie wyn voor die ongelooflike uitsig.

Maar dis nie die uitsig oor Tafelberg wat die ervaring so spesiaal maak nie, dis eerder die wyn en kos.

By die proelokaal kan jy ’n premie- (R90) of vlagskipproe (R110) kies. Elk bied ses wyne van die plaas.

As jy iets wil peusel, is die “gourmet selection” ’n bederf saam met die wyne. Hier kies jy drie gourmethappies wat spesiaal gemaak is om saam met die wyne te pas. Dit kos R195 per persoon en word met vars brood (gemaak met hul sider), beskuitjies, olywe en biltong voorgesit.

De Grendel se restaurant is ’n ware bederf. Dit is ’n veelbekroonde treffer en ná ’n besoek sal jy verstaan hoekom.

’n Gunsteling is die Karoo­lamsnek (R240) – uitstekend met ’n glasie rooiwyn. Kies ook uit die voorgeregte, ander hoof­geregte en nageregte.

Die plaas bied ook ’n negegangproespyskaart met wyn (R1 500) of daarsonder (R1 200).

Kelder- en plaastoere kan ook deel van jou besoek uitmaak. Bespreek vooraf hiervoor.

De Grendel is Maandae tot Sondae oop. 

Skakel: 021 558 6280

Kuier ook hier!

As jy in die omgewing is, kan jy gerus ook ’n draai by die Kronendal-boetiekkelder gaan maak.

Dié kelder maak wyn van slegs 0,6 ha se druiwe wat in 2003 aangeplant is.

Daar is onder meer shiraz, mourvèdre, tempranillo en viognier en alles is droëlandwingerd.

Kronendal maak slegs een wyn: die Mirari (R185), wat ’n versnit van al vier bogenoemde druifsoorte op die plaas is.

Wynproeë is slegs per afspraak en kos R30 vir twee oesjare van die Mirari.

Die kelder is Maandae tot Saterdae oop. 

Skakel: 082 499 0198

Meer oor:  Durbanville  |  Kos En Wyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.