Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Eerste Kiwi by Michelangelo

Sauvignon blanc gaan in die kollig wees by Suid-Afrika se voorste wynkompetisie, want vir die eerste keer in die bestaan van die Mi­chelangelo- internasionale wyn-en-spiritualieë-pryse sal die kompetisie ’n Nieu-Seelandse sauvignon blanc-kenner as een van die beoordelaars verwelkom.

Die Nieu-Seelandse wynmaker Ben Glover sluit vanjaar by die beoordelaarspaneel van die Michelangelo-pryse aan. Foto: Verskaf

Ben Glover van Marlborough, die tuiste van sommige van die wêreld se beste en gewildste sauvignon blanc-wyne, gaan in Augustus by die paneel van internasionale wynbeoordelaars aansluit wat inskrywings vir vanjaar se Michelangelo sal assesseer.

Glover was voorheen die hoofwynmaker by Wither Hills, een van Marlborough se baanbreker- sauvignon blanc-wynkelders, asook voormalige Nieu-Seelandse hoofwynmaker vir die multinasionale wynreus Accolade.

Hy staan tans aan die stuur van sy familiewynonderneming Glover Family Vineyards en die Zephyr-wynreeks.

Glover is ook ’n mede-eienaar van The Coterie, ’n organiese en samewerkende kleinskaalwynmaakfasiliteit vir eendersdenkende wynprodusente.

Hy is ook ’n gerespekteerde wynbeoordelaar met meer as 25 jaar internasionale beoordelingservaring. Hy was voorheen die voorsitter van die Bragato Wine Show wat enkelwingerdwynverbouing bevorder en is tans ook die ondervoorsitter van die New Zealand Wine of the Year-kompetisie.

Volgens Glover sien hy baie daarna uit om vanjaar Suid-Afrika te besoek as beoordelaar vir die Michelangelo-pryse en die diversiteit en wynstyle regoor alle druifsoorte en streke te verstaan. Asook om meer uit te vind oor die land se sauvignon blanc-bedryf.

“Dit is wonderlik om te weet dat sauvignon blanc in Suid-Afrika, net soos in Nieu-Seeland, die gewildste en topverkoperdruifsoort is, asook een van die grootste kategorieë wat ingeskryf is vir die Michelangelo-pryse,” sê Glover.

Dit is ’n fantastiese geleentheid en ek sien geweldig baie uit daarna. Ek is ook gretig om vir ’n rukkie in die Kaap aan te bly om ’n paar wynvriende te besoek en die wingerde en wynkelders te sien.
Ben Glover van Marlborough

“My blootstelling aan wyne van Suid-Afrika is dalk beperk, maar ek het al wel ervaar dat die wyne goed gemaak word en oor ’n tipiese geurprofiel beskik – die soort wat verbruikers regoor die wêreld lief maak vir hierdie druifsoort. Dit is ’n groot voorreg om gevra te word om te beoordeel by die land se grootste wynkompetisie en aangesien sauvignon blanc een van die grootste kategorieë is, sal ek en die res van die paneel ’n uitdagende taak hê.

“Dit is ’n fantastiese geleentheid en ek sien geweldig baie uit daarna. Ek is ook gretig om vir ’n rukkie in die Kaap aan te bly om ’n paar wynvriende te besoek en die wingerde en wynkelders te sien. Daar was die afgelope tyd so baie verwikkelinge in Suid-Afrika dat dit ’n onontbeerlike bestemming geword het vir wynmense wat wil sien wat rondom die wêreld gebeur in terme van tendense.”

Lorraine Immelman, stigter en uitvoerende hoof van die Mi­chelangelo- internasionale wyn-en-spiritualieë-pryse, sê dat ’n Nieu-Seelandse sauvignon blanc-kenner spesifiek vir vanjaar se kompetisie uitgesoek is. “Dit is ’n baie belangrike kategorie vir Michelangelo aangesien sauvignon blanc Suid-Afrika se topverkoper-witwyn is en boonop die winsgewendste een in die uitvoermarkte,” sê sy. “Michelangelo poog altyd om wynprodusente die beste beoordelaars te gee om spesifieke kategorieë en klasse te beoordeel en daarop kommentaar te lewer, om ons in staat te stel om nie net ’n aanbieder van toekennings te wees nie, maar ook terugvoering te gee oor die beoordeelde produkte.

“Ons is baie bly om Ben, ’n jong en hoogaangeskrewe wynmaker en gerespekteerde beoordelaar, te hê om ons te help met die sauvignon blanc-beoordeling vanjaar,” sê sy. “Nieu-Seeland mag dalk tans ’n voorsprong bo Suid-Afrika op die rugbyveld hê, maar wat sauvignon blanc betref, sal ek die voorspelling waag dat ’n groot verrassing op ons Kiwi-beoordelaar wag.”

Meer oor:  Nieu-Seeland  |  Versnit  |  Wyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.