Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Eet jouself jonger

2020!

Ek moet myself knyp om te dink dit is die jaar 2020. Dit klink so onwerklik en is ’n fassinerende numeriese konsep – wel, vir my is dit. Ek wonder wat die mensdom in 1010 geëet het – seker plant-gegronde kos, wat deesdae ’n groot kostendens is. Maar daaroor praat ek ’n volgende keer. En dan wonder ek ook wat in 3030 op die spyskaarte gaan pryk. Ek sidder om te dink aan ’n fabriek-tjoppie of selfs net ’n kosplakker soos ’n hormoonplakker?

Ons roes!

By sommige wat net 60 jaar oud sou word, is ’n ekstra 15 jaar ’n bonus.

Ek kan nie die bogenoemde vrae beantwoord nie, maar ek weet een ding: Ons mensdom roes! Ironies genoeg is dieselfde lug wat vir ons lewe gee, die oorsaak dat yster roes, vrugte bruin word en ons liggame se selle met ouderdom afbreek. Deur ’n reeks chemiese veranderinge, onder meer besoedeling, verloor suurstofmolekules in ons liggame elektrone, wat dit dan onstabiel maak. Hierdie onstabiele molekules word vrye radikale genoem. En dit doen skade aan ons liggame deur gesonde selle aan te val. Dit help dus die verouderingsproses aan. ’n Mondvol ek weet, maar die waarheid!

Hoe hou ons op roes?

Die natuur gee vir ons ’n enorme arsenaal van antioksidante wat vrye radikale kan keer om skade te berokken. Ja, ons kan ons lewensduur verleng deur reg te eet.

Drie van die sterkste antioksidante is betakaroteen, vitamien C en vitamien E. Dit is bewys dat elkeen van hierdie voedingstowwe baie doeltreffend is teen ouderdomsverwante siektes, asook kanker en hartsiektes. Hoewel jy beskerming kan kry deur antioksidantaanvullings te neem, stem die meeste dokters saam dat antioksidante in kos soos vrugte en groente ’n beter keuse is en jou eerste verdedigingslinie behoort te wees.

Vitamien C is belangrik om jou gesond te hou. Drink minstens daagliks ’n glas sitrussap, of eet ’n halwe koppie soetrissie.

Vitamien C

Die vinnigste manier om vitamien C in te kry, is om ’n glas pomelosap te drink, ’n lemoen of ’n halwe koppie soetrissies te eet. Elkeen bevat meer as 100% van die daaglikse hoeveelheid wat jy benodig. Vitamien C help om die newe-effekte van vrye radikale uit te skakel.

’n Wortel per dag sal jou die nodige betakaroteen gee.

Betakaroteen

Betakaroteen kom voor in diepgroen of helderoranje vrugte en groente. Een patat of ’n groot wortel lewer tussen 12-15 milligram betakaroteen, ’n bietjie meer as wat kenners aanbeveel.

En as jy wortel en avokado saam eet, absorbeer jy tot ses keer soveel van die wortel se betakaroteen. Jou liggaam skakel betakaroteen om in vitamien A, wat noodsaaklik is vir ’n gesonde vel en ’n sterk immuunstelsel. Betakaroteen is ook ’n vetoplosbare voedingstof; daarom kan jou liggaam dit beter gebruik wanneer jy dit saam met ’n bron van gesonde vet, soos avokado, eet.

Vitamien E is volop in vetterige kos soos neute, maar jy kan dit ook deur tamaties en broccoli inneem.

Vitamien E

Anders as vitamien C en betakaroteen, is vitamien E ’n bietjie moeiliker om uit voedsel te kry, want dit word meestal in hoëvetkos, soos plantaardige olies gevind wat baie van ons eerder wil vermy. Goeie bronne van vitamien E is koringkiem, neute en sade.

Ander antioksidante

Hoewel bogenoemde noodsaaklike antioksidante is, is dit nie die enigste nie. Vrugte en groente word gelaai met plantverbindings genaamd fito-voedingstowwe, wat ook antioksidant-vermoëns het. In ’n studie in Michigan het navorsers bevind dat mense met hoë vlakke van glutatioon Z ’n fito-voedingstof in avokado’s, pomelo’s, pampoen, lemoene, tamaties en aartappels Z laer bloeddruk- en cholesterolvlakke gehad het, asook ’n gesonder gewig gehandhaaf het.

Dokters sê genoeg van al hierdie antioksidante sal nie waarborg dat jy 150 jaar gaan lewe nie, maar dit sal jou help om jou maksimum lewensduur te bereik.

En by sommige mense wat net 60 jaar oud sou word, is ’n ekstra 15 jaar ’n lekker bonus.

Boeddha-bakkies

Dit is ’n bak volgemaak met hopies vars, koue kos om daardie vrye radikale in toom te hou. Jy kan groente, vrugte, grane, peulgroente, vegetariese proteïne (soos tofu), eintlik enigiets wat vars en gesond is, gebruik.

Die resep van die wortel-en-avokado- boeddha-bakkie met lemoenslaaisous is net ’n riglyn. Gebruik wat jy in jou huis het, soos soetrissies, komkommer, uieringe, pampoenpitte, geroosterde pampoen, beet, basiliekruid of pietersielie. Maak dit jou eie en eet jouself ’n paar jaar jonger.

Groete uit die Karoo,

Anél

anelpot@telkomsa.net

  • Inligting uit The Doctor’s Book of Food Remedies deur Selene Yeager.

Wortel-en-avokado-boeddha-bakkie

    Met lemoenslaaisous

    wortel-en-avokado boeddha-bakkie met lemoenslaaisous.Foto:

    (Resep: Anél Potgieter)

    kool, fyngesny

    wortel, met aartappelskiller in linte gesny

    murgpampoentjies, met aartappelskiller in linte gesny

    blaarslaai

    kersietamaties, in kwarte gesny

    avokadopeer, geskil en gesny

    neute van jou keuse

    granaatpitte (opsioneel)

    Lemoenslaaisous

    fyn skil en sap van 2 lemoene

    2 e balsamiese asyn

    2 e heuning

    ½ knoffelhuisie, fyngerasper

    ¾ t sout

    ¾ t vars gemaalde swartpeper

    ¾ k ekstra-suiwer olyfolie

    Pak al die slaaibestanddele in ’n bakkie. Blits die slaaisousbestanddele saam en be­dien saam met die boeddha-bakkie.

    Meer oor:  Jonger  |  Eet  |  Groente  |  Vrugte
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.