Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Eet lekker voor groot makietie begin
’n Smaaklike hoender-roerbraai op noedels.Foto: Facebook

Net omdat The Music Kitchen musiek-vertonings aanbied, beteken dit nie dat jy daar afskeepkos sal kry nie.

“Natuurlik is die fokus eerstens op die musiek, die mense koop ’n kaartjie om na ’n vertoning te kom kyk. The Music Kitchen is nie net ’n eetplek nie,” sê Ian Mitchell wat saam met sy vrou, René, die eienaars van dié gewilde Baaise kuierplek is.

Die Mitchells besit The Music Kitchen al byna vier jaar. In dié tydperk het van die land se topkunstenaars, soos The Parlotones, Jan Blohm en Arno Carstens, al daar opgetree.

“Ons ideale klant arriveer ’n uur of wat voor die vertoning begin, dan bestel hulle eers ’n maaltyd, eet en geniet daarna die aand verder saam met ons,” sê Ian.

Die Britse sanger Dave Cousins tree onlangs in The Music Kitchen op. Foto: Richard Huggett

Hy verduidelik dat dit beter is om voor ’n vertoning te eet omdat “jy nie nog met ’n mes en vurk wil sukkel wanneer ander kuiergaste dalk om jou begin dans nie”.

Dis ook minder steurend vir die ander besoekers in die Kitchen om nie hul nekke te moet rek om verby ’n kelner te kyk na wat op die verhoog aangaan nie.

Die kos is bekostigbaar en tydens die onlangse optrede van die Britse sanger Dave Cousins het pryse gewissel van R65 vir geroosterde groente-en-feta-slaai tot R85 vir ’n bief- of hoender-spek-en-kaas-burger met skyfies.

Die hoender-roerbraai op noedels (R75) was op dié aand besonder gewild.

Die ingang van The Music Kitchen waar musiek-vertonings in Port Elizabeth aangebied word.Foto: Willemien Green

Daar is ook vleis-, hoender- en vegetariese nacho’s (R50 tot R90) op die spyskaart wat ’n gemaklike gereg is om te bestel voor ’n vertoning.

Of bestel ’n Music Kitchen-snoepmandjie met vegetariese spring rolls, cocktail-worsies, samoeosas, calamari en aartappelskyfies (R85) waaraan jy gedurende ’n vertoning kan peusel.

“Ons wissel die bestanddele gereeld en gebruik groente en vrugte wat seisoenaal is,” verduidelik Ian verder.

“Soms, wanneer die kaartjies uitverkoop is, sal ons eerder ’n vaste spyskaart bedien. Dit maak dinge net so ’n bietjie makliker in die kombuis.”

Bottels bier kan in ’n emmer bestel word, wat handig is tydens ’n optrede sodat die vertoning nie onderbreek hoef te word nie. Daar is ook verskillende soorte wyn op die spyskaart en ander drankies wat by die kroeg bestel kan word.

Jy hoef ook nie net alkoholiese drankies te drink as jy daar kuier nie. Koffie, tee en warm sjokolade word ook bedien.

Wanneer jy by The Music Kitchen instap, loop jy verby die kroeg. Dan bevind jy jou in ’n saal wat nagenoeg sitplek vir 170 mense het.

In The Music Kitchen se agterplaas kuier gaste dikwels tot laat met kos en musiek. Foto: Facebook

o teen die dak is daar ’n versameling denim-langbroeke uitgestal waaraan jy jou kan verkyk. (Mens kan maar net wonder of daar dalk ’n besoeker of twee was wat te lekker gekuier het en dalk sonder sy denimbroek huis toe is . . .)

Aan die agterkant van die The Music Kitchen is daar ’n oop ruimte sodat mense ook op die grasperk kan kuier en dit is ook daar waar braaiplekke is.

In die somer, veral wanneer daar ’n middagvertoning aangebied word, hou die Mitchells ook daarvan om ’n braai-buffet voor te sit terwyl die potjie-buffet in die winter weer baie gewild is.

Jy kan The Music Kitchen ook vir private onthale of partytjies huur.

“Dan luister ons na wat die klant wil hê en probeer ons bes om hom of haar gelukkig te hou,” sê Ian.

The Music Kitchen het sy gewildheid veral daaraan te danke dat daar ’n groot verskeidenheid musikante optree. Dis nie net ’n plek waar daar ge-rock word nie.

Daar word ook rustiger vertonings aangebied waar jy jou aan byvoorbeeld ’n kunstenaar se kitaarspel en hopelik formidabele sangstem sal kan verwonder.

En in die somer hoef jy nie jou kispak aan te trek nie – dis ’n ontspanne venue.

Meer oor:  Pe  |  Kuierplek  |  Restaurant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.