Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Eet Ouma se gesonde kookkos tuis

Hoe klink ’n lekker bord kookkos vir aandete? Dink net; soos jou ouma dit gemaak het – gestoofde lamsvleis, of gerookte varkboud, braaihoender of beesvleis saam met vleissous, rys en gebraaide aartappels. Daarmee saam kan jy vir jou ’n stewige porsie soetwortels skep en ook groenboontjies met aartappel en uie of pampoenkoekies en groente.

Die dag se groentegeregte staan reg vir opskeptyd.Foto: Facebook
Spitstyd by Home Cooked Meals – dis nou ná werk en voor aandete.Foto: Zigi Ekron
Hier kry jy beslis nie hierjy kafee-pasteie nie. Foto: Zigi Ekron

As jy werklik voorbeeldig wil wees, kan jy die pampoenkoekies verruil vir spinasie en broccoli en blomkool kies in plaas van soetwortels.

En wat van malvapoeding en vla vir nagereg?

Dit klink lekker, né? Maar wie gaan dit maak? G’n mens het deesdae meer tyd om op ’n weeksdag só ’n ete voor te sit nie. Dít is waarvoor die mense van Home Cooked Meals daar is.

Sedert hy sy deure in 1998 oopgemaak het, bedien dié onderneming Baaienaars met geurige en gesonde kos. Die huidige eienaars, Eugene en Adele Bouwer, het dit in 2009 gekoop en bedien steeds ses dae per week hulle staatmaker-etes wat jou maag sal vol maak sonder om jou beursie leeg te maak. Trouens, jy sal jouself trommeldik kan eet aan ’n groot bord kos en ’n lekker nagereg vir net minder as R100 per kop.

Home Cooked Meals, op die hoek van Fordyceweg en 6de Laan in Walmer.
Home Cooked Meals

Die winkel, in ’n ou huis op ’n straathoek in Walmer, herinner aan ’n outydse tuisnywerheid, eerder as ’n restaurant. ’n Mens kom nie hierheen om te sit en kuier nie, maar eerder om jou kos huis toe te neem en by jou eie tafel te gaan aansit. Die houtvloere kreun onder rakke vol konfyt, ingelegde vrugte, gepekelde groente, beskuit en koekies en in bakke agter die glastoonbank is die dag se kos in ’n buffetstyl uitgestal.

Met die uitsondering van Saterdae, wanneer die winkel gesluit is, is daar elke dag ’n verskeidenheid van vyf soorte vleis en 11 groentedisse om van te kies. Afhangende van jou vleislus, wissel die prys van só ’n wegneemporsie van R65 (vir vier uit die vyf vleiskeuses) tot R75 (vir die lamsvleis). Dit sluit rys en braaiaartappels en drie groentes in.

Jy moet egter gou spring om te verseker jou gunstelinge is nie uitverkoop nie, want die kos word daagliks vars gemaak en die hoeveelhede is beperk.

Home Cooked Meals.
Dis mos kos!Foto: Facebook

As jy nie in die luim is vir rys, vleis en aartappels nie, is daar ook ander opsies soos lasagne (R39), hoender kasserol (R43), spaghetti bolognaise (R30) of bobotie (R39). Die beskikbare disse word daagliks afgewissel, maar daar is gewoonlik sewe of agt om uit te kies. Jy kan ook vir jou van die groente hierby laat inskep, teen ’n ekstra paar rand.

Eenkant, in groot vrieskaste, is daar ook klaarverpakte-etes soos bredies, lasagne en pastageregte wat jy by jou huis in die vrieskas kan bêre. Dis net die regte ding vir wanneer jou skoonmense onverwags opdaag of as jou familie dalk vir ’n dag of wat vir hulle self moet sorg.

’n Mens kan ook nie die tuisgemaakte pasteie, terte, quiche, koeke, fudge, brownies en lekkergoed wat langs die kasregister uitgestal word, miskyk nie. Dit laat jou sommer verlang na skyfskiet en ’n tombola-tafel by die kerkbasaar. As dit jou beurt is om die tuinbou- of boekklub te onthaal, kan jy hulle oor teetyd beïndruk met eetgoed wat jy hier gekoop het.

So gepraat van boeke, in ’n hoekie anderkant die vrieskaste is daar ook ’n paar tweedehandse boeke en ander snuisterye om deur te snuffel voor jy jou bestelling plaas.

Moet weet:

Waar? Op die hoek van Fordyceweg en 6de Laan in Walmer.

Sake-ure: Maandae tot Donderdae 10:00 tot 17:45, Vrydae 10:00 – 17:00, Sondae: 10:00 tot 14:30.

Kontak: 041 5818 207, Lekkereet021@gmail.com, facebook.com/HomeCookedMealsSa (Die volledige spyskaart is hier beskikbaar).

Wat nog? Jy kan Home Cooked Meals se spysenieringsdienste gebruik vir funksies soos verjaarsdae of troues.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Eet Hier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.