Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Ertjies vir die lentekombuis

Errieda du Toit vind lente in boerekos en ertjies.

’n Warm bad, koue sjampanje, jong ertjies en ou brandewyn. Vir Winston Churchill was dít die essensie van die lewe. Ek gaan akkoord, veral nou dat ertjieranke geil in oorvloed staan.

Ek sou graag my eie tuin wou invaar, die soet klein ertjies uit hul peule wikkel en een ná die ander in my kies prop. Ongelukkig oorskry my liefde vir die natuur se Smarties my tuinmaaktalente en moet ek en my skotteltjie maar aanklop by vriende met groen vingers.

Dis ook nou die seisoen wat die boekrak ’n geil oes van nuwe kookboeke oplewer, soos Landbou Boerekos – van die plaas na die tafel. Die skrywer, Arina du Plessis, is as plaasmeisie goed gekwalifiseer om ’n boek met 300 resepte saam te stel waar seisoenprodukte die helde is.

Opgedeel in ’n A tot W van bestanddele (sy het haar nie probeer slim hou met zucchini nie) word resepte per plaasproduk verskaf, saam met wetenswaardighede, kortpadplanne en selfs plantwenke.

Die blaaie gewy aan ertjies spog klaar met kosspatsels en ’n boekmerk by die plantwenke. Tussen planne maak vir ’n draadraam waarteen my toekomstige plantjies kan rank, haal ek bevrore jong­ertjies uit die vrieskas.

Met een pak slaan ek die jongertjiesop met spekroomkaas binne 15 minute aanmekaar vir middagete. Met die ander pak wat ook nog in die vrieskas skuil, maak ek Arina se heerlike groenertjie-pesto om saam met gevlokte gerookte snoek op saadbrood te eet. Soms is dit die klein dingetjies – soos om ertjies met kasjoeneute te kombineer – wat die grootste smaakverrassings oplewer.

Die halwe flessie ertjiepesto wat oorbly, verdun ek die dag daarna met ekstra olyfolie en suurlemoensap. Dít word die vars briesie wat die lente deur my afgeleefde resep vir pasta primavera laat waai. Gelukkig is daar nog 297 ander resepte oor om nuwe fut aan my lente-, somer-, winter- en herfskombuis vorentoe te gee.

WEN ’N EKSEMPLAAR VAN ‘BOEREKOS’

Arina du Plessis se boek is ingedeel volgens plaasprodukte, van bessies en bone tot hoender, heuning en kool. Dis ’n uiters kosbare boek vir haastige kokke, werkende mense en bedrywige huisvroue.

Dit word deur Human & Rousseau uitgegee en die rakprys is R320.

Om in te skryf, stuur ’n e-pos gemerk Landbou Boerekos-kookboek aan errieda@edtpr.co.za teen 12:00 op 7 September. Verskaf jou kontakbesonderhede en antwoord die kompetisievraag: Wat is vir jou die lekkerste aan boerekos?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.