Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
BESTEMMINGS
Franschhoek: ’n Kuier met goeie wyn en smaaklike kos

Weggesteek aan die einde van ’n pad wat vanuit Franschhoek loop, wag Chamonix om jou te bederf. Hierdie wynplaas is altyd op my besoeklys as ek na dié dorp gaan.

Met my eerste besoek aan die plaas ’n jaar gelede het ek onder die bome middagete by Arkeste geniet. Daar het ek verlief geraak op die rustige omgewing en sjef Richard Carstens se kos, en die twee besoeke daarna het gesorg dat ek altyd terugkeer vir die wyn – veral die chardonnay.

Een van Arkeste se heerlike disse, die miso-biefstuk.

Ek was glad nie verras toe ek ’n paar weke gelede hoor die Chamonix Chardonnay 2018 is as die beste wyn aangewys by vanjaar se Michelangelo- internasionale wyn-en-spiritualieëkompetisie nie. Dit is die tipe wyn wat jy dwarsdeur die jaar kan drink met ’n romerige tekstuur wat goed werk vir koue dae en geure van sitrus en ’n goeie suur gepas vir warmer dae. Jy kan liters daarvan drink en dit pas omtrent by enige soort kos.

Boonop is die span aan die stuur van sake ook lekker mense (soos ek altyd sê: “my tipe mense”). Die wynmaker, Neil Bruwer, is jonk, propvol passie en weet wat hy doen. Om te luister na hoe hy oor die wyne praat en gesteld is op lekker wyn van hoë gehalte is ’n riem onder my hart. Stefan van Rooyen, Chamonix se direkteur, is altyd opgewonde om iets oor die plaas te deel – nuut of oud – en stel die plaas se belange eerste. Plat op die aarde en met sy kop reg aangeskroef om die plaas nommer een te maak. En laastens is daar Carstens, sjef van die restaurant Arkeste op die plaas, wie se kos jy móét proe. Hy put inspirasie uit veral Japan en gebruik dit om gunstelingdisse op te kikker en interessant te maak.

’n Kuier op hierdie plaas en saam met hierdie span is goed vir die siel, rus vir die brein en lekker vir die palet.

Chamonix
Neil Bruwer ontvang Chamonix se twee Michelangelo-trofeë vir die beste chardonnay én die beste wyn van die kompetisie.

Doen dít alles

Of jy aansluit vir ’n vinnige wynproe of middagete, die atmosfeer is ewe lekker. Boonop word daar nou tapas by die proelokaal be­dien vir diegene wat iets soek om aan te peusel.

Natuurlik moet jy dadelik die Chardonnay 2018 proe en koop. Ekself het nog een in my kas vir ’n spesiale geleentheid, soos Saterdag. Dit is ’n stewige R200 vir die wyn, maar elke sent werd.

Ander wyne om na uit te sien is die Rouge (R90) wat ’n heerlike rooiversnit is, en ook die fris en vars sauvignon blanc (R115).

Wees ook op die uitkyk na hul nuwe chenin blanc wat binnekort bekend gestel word en die meer premium wyne soos die Troika wat hemels is.

Dit kos tussen R75 en R225 om die wyne te proe afhangend van die opsies.

As jy iets wil eet terwyl jy wyn proe, is daar twee verskillende peuselborde met kaas of vleis (R145) om van te kies én mini burgers (sliders) waarvan een geur Koreaanse hoender is en die ander een tempura-lynvis (R75).

Vir middag- of aandete kan jy vooraf ’n tafel by Arkeste bespreek.

Begin jou ete met tempura-garnale met ricotta-cappelletti, bief-tartaar met truffel-vinaigrette, of suurlemoen-lynvis met wasabi-mayo.

Volg dit op met eend wat met beet en lemoen bedien word, of miso-bief met sampioene en ’n swartpepersous.

Vir nagereg is daar iets vir die suikertande soos ’n sjokolademousse, maar ’n definitiewe persoonlike gunsteling is die gorgonzola-roomys met geposeerde appels, heuningkoek, jogurt en makadamias. As jy nog altyd gesoek het na die perfekte soet-sout-kombinasie, is dit die een.

  • Voorgeregte kos R95, hoofgeregte R195 en nagereg R75.
  • Die proelokaal is heelweek oop van 10:00 tot 16:30.
  • Bespreek jou tafel aanlyn by chamonix.co.za.)Arkeste is oop van Donderdae tot Saterdae vir middagete en aandete en Sondae net vir middagete. Stuur e-pos na reservations@arkeste.com of bel 021 876 8415 om te bespreek.
Meer oor:  Franschhoek  |  Wyn  |  Kuier  |  Bestemmings  |  Kos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.