Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Gehoor van kaastee?

Tendense vir 2019 dui op maklike geregte en ’n gewilde Chinese drankie

Twee van die kostendense waarvoor julle vanjaar op die uitkyk moet wees, is geregte wat in een bakplaat gemaak word en dan ’n interessante tee, naamlik kaastee. Ja, jy’t reg gelees – kaastee.

Kaastee

Kaastee is op die oomblik een van die gewildste tees in China en die Ooste (bekend gemaak deur HeyTea, een van China se bekendste teehandelsmerke) en gaan volgens The New York Times in 2019 wêreldwyd opgang maak. Kaastee is ’n koppie warm of koue tee met ’n sout-en-soet roomkaas-bolaag. Dit word skuinsweg gedrink om alles gelyk te proe – en maak jou maar reg vir ’n romerige snorretjie.

Hoe maak jy kaastee?

Daar is ’n verskeidenheid resepte beskikbaar, maar ek het besluit om die kaastee met roomkaas, kondensmelk, room en sout te maak. Klits die roomkaas en kondensmelk saam. Voeg die room by, klits tot sagte punte vorm en skep dan op warm en koue tee. Dit kan afgerond word met matcha-poeier (groenteeblare wat tot ’n fyn poeier gemaal word). En is dit die moeite werd om soos in China twee uur lank in ’n tou te staan vir ’n koppie kaastee-bederf? Ja, en weer ja. Dit is heerlik!

Eenpangeregte

Mense verkies deesdae makliker etes, en die retro-eenpangeregte is weer hoogmode. Callie Maritz en Mari-Louis Guy het al in 2016 die boek Een uitgegee en dit bevat resepte van maaltye wat in een pot, braai- of oondpan gemaak word. En nou, drie jaar later, is dit steeds in die kol. Die kookboek bevat heerlike en moeitevrye resepte vir bees-, hoender- of varkvleis, wors, spekvleis en ham, frikkadelle en vleislose geregte.

Een van Food52 se gewildste resepte in 2018 was Nigella Lawson se eenpan-ertjie-en-hoendergebak. Dit word met bevrore ertjies, preie, knoffel en dille gemaak. Die ertjies ontvries en vorm ’n sousbasis vir die gebak. Lekker en maklik.

Voorspoedige nuwe jaar vir julle almal en ek hoop die jaar is gevul met liefde, lag en lekker kos.

Groete uit my kombuis,

Anél

Kaastee

Foto: Anél Potgieter

tee van keuse

¼ koppie kondensmelk

½ koppie roomkaas

½ teelepel sout

2 eetlepels strooisuiker

1 koppie room

matcha-poeier (opsioneel)

Brou tee, verkoel. Klits kondensmelk, roomkaas, sout en suiker saam. Voeg room by en klits tot sagte punte. Skep lepels kaasroom bo-op tee en rond af met matcha-poeier.

Nigella Lawson se hoender-en-ertjiegebak

(Aangepaste resep)

7 koppies jong bevrore ertjies

5 groot preie, gewas, in stukke van 2½ cm gesny

2 groot knoffelhuisies, gerasper

¼ koppie droë vermoet

2 eetlepels olyfolie, en ekstra vir hoender

2 teelepels sout, en ekstra vir hoender

1 bossie dille, grof gekap

8 hoenderdytjies

Verhit die oond tot 200 °C. Gooi die bevrore ertjies, preie, knoffel, vermoet, olyfolie, sout en ’n ¾ van die dille in ’n braaipan. Meng alles goed saam en breek enige bevrore klonte ertjies op. Rangskik die hoenderdye bo-op die ertjies met die velkant na bo. Bedruip met ’n bietjie olyfolie en geur met ’n bietjie sout. Bak vir 45 minute. Verwyder uit die oond en roer die ertjies sodat dié wat bo lê ook met vloeistof bedek word. Bak vir ’n verdere 30 minute.

Haal uit oond en strooi die res van die dille oor voor bediening.

Hoendervlerkies in ’n taai braaisous

(Resep uit Een)

1,5 kg hoendervlerkies

30 ml vryfsmeer (rub) vir hoender

olyfolie

4 aartappels, ongeskil en in groterige stukke gesny

65 ml witwynasyn

80 ml sojasous

1 rooi brandrissie, in skyfies gesny

65 ml gouestroop

1 blik (440 g) pynappelstukke, behou die sap

5 ml veelkleur-peperkorrels, fyngedruk

1 klein rooikool, gesnipper

gesnipperde grasuie vir garnering

Voorverhit die oond tot 200 °C. Geur die hoender deur dit met die smeer in te vryf en bedruip dan met olyfolie. Plaas dit aan die een kant van ’n bakplaat. Doen dieselfde met die aartappels. Oondrooster vir 30 minute terwyl jy die hoender en aartappels elke tien minute omdraai sodat alles oraloor goudbruin bak. Meng die asyn, sojasous, brandrissie, gouestroop, behoue pynappelsap en die fyngedrukte peperkorrels saam. Mikrogolf dit vir ’n paar sekondes en giet die helfte oor die hoender. Maak plek op die bakplaat vir die kool en pynappelstukke. Bedruip met olyfolie en die res van die sous. Bak vir nog 20 minute, of tot die sous lekker taai en die hoender en aartappels bros gebak is. Garneer met grasuie.

Boerieburger

(Resep uit Een)

(6 porsies)

Burgers

1 ui, gekap

2 knoffelhuisies, fyngedruk

600 g boereworsmengsel (worsvleis uitgedruk)

sout, peper en ander geurmiddels van jou keuse

15 ml botter

15 ml olyfolie

1 blik (400 g) gekapte tamaties

6 hamburger-broodrolletjies, gehalveer

6 velletjies of snye cheddarkaas

3 groot agurkies, in skyfies gesny

jalapeño-skyfies (opsioneel)

Glaseersel

125 g botter, gesmelt

30 ml suiker

15 ml Worcestershiresous

15 ml korrelmosterd

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n oondbak. Die grootte van die bak hang af van die grootte van die broodrolletjies – wat diep genoeg is vir burgers.

Burgers: Braai die ui, knoffel, boereworsvleis en geurmiddels in die botter en olie tot die vleis bruin gebraai is. Roer die tamaties daarby in. Prut tot die vloeistof met die helfte verminder is. Rangskik die onderkante van die gehalveerde broodrolletjies in die gesmeerde oondbak. Skep die maalvleis bo-op en rangskik dan die velletjies of snye kaas, agurkies en jalapeño-skyfies (indien gebruik) daarop. Bedek met die bokante van die broodrolletjies.

Glaseersel: Meng al die bestanddele vir die glaseersel saam en hou aan roer totdat die suiker opgelos is. Giet die helfte van die glaseersel eweredig oor die bokante van die broodrolletjies. Bak vir tien minute. Smeer die res van die glaseersel oor en bak vir nog tien minute.

Meer oor:  Resepte  |  2019  |  Kostelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.