Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Geniet die Wêreldbekerkrieket hier!

’n Plek waar spesiale glasies geklink word tydens die Wêreldbeker-krieket-extravaganza wat nou op dreef is, is Lord’s Wyne, want hoewel dit in ’n afgeleë landelike omgewing op die sogenaamde “pad-na-nêrens” geleë is, is die naam geïnspireer deur “Die Tuiste van Krieket”, Lord’s in Londen.

’n Glasie op die groot fees van krieket – Jacie Oosthuizen en sy dogter, Melané met Samuel Lekay, wynmaker van Lord’s. Foto: Cassie du Plessis

Die kersie op die koek sal natuurlik wees as – ná 48 wedstryde tussen die wêreld se toptien spanne van 30 Mei tot 14 Julie – Suid-Afrika se Proteas deel sou wees van en seëvier in die eindstryd op hierdie heilige krieketdomein van die MCC (Maryle-bone Cricket Club).

Uit die 11 krieketvelde in Wallis en Engeland, word vyf wedstryde op Lord’s aangebied en in die eerste een op 23 Junie sal die Proteas in ’n rondomtalie-wedstryd teen Pakistan te staan kom.

Tikkie Engeland in SA

Wat die Lord’s-wynmakery in die McGregor-vallei naby Robertson betref, sal wyngeesdriftiges daagliks in die intieme vatverouderingskelder, vol krieketverwante aandenkings en dekor, die aksie op ’n televisieskerm kan geniet.

Boonop kan jy van die keurwyne drink om die senuwees te kalmeer en dalk daardie choking-vrees te help teenwerk.

Hier in die hartjie van die wynmakery se treffende gebouekompleks in die panoramiese landskap aan die voet van die Riviersonderendberge, is die eienaar Jacie Oosthuizen besig om ’n krieketmuseum te ontwikkel.

Die indrukwekkende Lord’s-kelderkompleks. Foto: Verskaf

Daar pryk reeds ’n pragtige versameling geraamde foto’s van krieket by ons eie krieket-hartland, Nuweland, en krieketgesegdes en -aanhalings van groot krieketpersoonlikhede.

In die ruim proe-en-onthaallokaal met ’n uitsig oor die groen grasperke en omgewing. Foto: Cassie du Plessis

Onder meer word daar op prominente plakkate verklaar: “At Lord’s, bowling a maiden (dame) over takes skill. We practise every day . . . Pinot Noir is a favou-rite with ladies.” Daar word ook gesê: “Eik of wilger. Hout is iets waarin ons spesialiseer.”

Wel, die uitgestrekte grasperk voor die perseel sou ook ’n krieketveld kon huisves – waar kinders met my besoek op ’n Sondagmiddag die wilgerlat geswaai het wat daar met ander speelgoed vir kinders, klein en groot, se vermaak beskikbaar is.

Die ouers het voor ’n reusekaggel gekuier in die nuwe trou- en funksielokaal met sy groot glaspanele en uitgestrekte stoep, wat die omringende vallei- en berglandskap vertoon.

Daar word daagliks wynproeë en ligte etes aangebied; ook ’n kwartaallikse sononder-mark op Woensdae met plaaslike eetgoed en handwerk.

Op dié spesifieke dag is daar begin met spesiale Sondagmiddagetes, bykomend tot die standaard-items.

Saam met Jacie, sy vrou, Marinda, en bemarker-dogter, Melané Rademeyer, het ons gemengde groenslaai en ’n kaasbord met hul sagte, karaktervolle Pinot Noir Rosé geniet.

Dit is gevolg deur beesstert-bredie en hul fluweelagtige vlagskip, Lord’s Three-Barrel Shiraz 2012, en later malvapoeding met room en roomys.

Als ’n fees van kleure en geure soos ook weerspieël in die reeks van agt eiesoortige Lord’s-wyne.

Dié wyne, vertel Jacie, vaar goed met uitvoer, maar die voetspoor in Engeland is nog betreklik klein. Liefhebbers wat iets het om te vier met die terugkeer van die krieket af, sal wel daarvan in die SAL se gaste-sitkamers kan geniet, asook van die MCC Brut op eersteklasvlugte.

WEN!

Wen met Lord’s!

Vier die Wêreldbeker-kriekettoernooi saam met Lord’s en staan die kans om ’n pakket ter waarde van R4 000 te wen.

Die prys sluit in ses bottels Lord’s MCC Brut, twee nagte se verblyf in een van die plaas se selfsorgeenhede, ’n wynproe van die reeks én ’n keldertoer saam met die wynmaker.

Skryf só in: 

Stuur jou kontakbesonderhede saam met jou voorspelling van een span wat jy dink in die eindstryd gaan speel met die antwoord op die vraag na versnit@dieburger.com teen 10 Junie 2019. 


Vraag: Waar kom die wynplaas Lord’s se naam vandaan?

Só het alles begin

Jacie vertel hy het hier op ’n deel van die oorspronklike Rietvlei-familieplaas – waar met vrugte, groente en proteas geboer is – die kelder in 2005 gebou en ’n jaar later die eerste wyn gebotteleer.

“Dit moes ’n klein kelder wees, met gespesialiseerde en ikoniese wêreldklasprodukte. En die naam moes anders en eenvoudig wees. Die Engelse hou van wyn en hulle hou van krieket. So die Lord’s naam het by my opgekom en ek het ’n baie suksesvolle advertensie vir aandeelhouers in ’n plaaslike Engelse koerant geplaas, met ’n argitektoniese voorstelling van die beoogde perseel,” sê hy.

Hoewel ’n geesdriftige het hy nooit ernstig krieket gespeel nie, maar sy wynmakery-“kolfbeurt” het al hoe meer momentum gekry, met pryse vir wyngehalte en groeiende uitvoer, veral na Europa.

Die besoekersgeriewe en -aktiwiteite is algaande uitgebrei en daar is ook ’n argitek-ontwerpte strooidakgastehuis en twee gastekamers, “soort van farm stay”, op die perseel.

In die proelokaal kan jy ’n rustige wynproe en iets te peusel geniet terwyl jy die krieket op die TV kyk. Foto: Cassie du Plessis

Die wynmaker is Samuel Lekay van McGregor, wat die grondwerk van die bekende wynmakers Newald Marais, Ilse Schutte en Alwyn Liebenberg ná die 2016-oes voortsit. Die wyne vertoon regdeur eiesoortige karakter en balans, met veral die koelklimaat-kultivars chardonnay en pinot noir wat hul ware kleure wys hier teen 500 m bo seespieël – 200 m hoër as Robertson – terwyl die shiraz uitstaan met vrug en speseryagtigheid.

Die stylvolle reeks bestaan uit MCC Brut Rosé (pinot noir), MCC Brut (pinot noir-chardonnay), Sauvignon Blanc 2018, Pinot Noir Rosé 2018, Chardonnay 2016 (vatgegis en -verouder), Pinot Noir The Legend 2017 (ligte houtveroudering), Shiraz 2016 (24 maande in hout) en Three Barrel Shiraz Limited Release 2012 (met 36 maande se vatveroudering).

Die kelderpryse wissel tussen R95 en R180, terwyl die laasgenoemde wyne beperkte-uitgawe-bottels bevat teen R300.

Sou jy ook hierdie Lord’s-gevoel wou ervaar, vat jy die pad van Robertson af, 21 km verder deur McGregor, dan met ’n skaf-like kronkelpad 10 km na die kelderkompleks teen die berghang – van waar die sogenaamde “Pad-na-Nêrens” verder berg-op kronkel.

Dit is waar die Boesmanskloof-staproete – ook genoem Die Galg – 14 km anderkant af na Greyton loop en waar die pad se bouwerk tydens die Tweede Wêreldoorlog tot stilstand gekom het.

Padlangs is die afstand tussen McGregor en Greyton 120 km.

Hier by die indrukwekkende Lord’s móét ’n mens met ’n heerlike “here”-glasie in die hand, op die Proteas klink en glo dat hul nuwe pad dié keer die berg sal oorsteek.

Meer oor:  Wêreldbekerkrieket  |  Krieket  |  Wyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.