Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Gewilde eetplek sluit weens Covid-19-inperking
Die Tolhuis Bistro.

’n Gewilde eetplek in die historiese Michellspas by Ceres, die Tolhuis Bistro, gaan weens die Covid-19-inperkings nie weer sy deure oopmaak nie.

Die eienaars, Reint en Karien Grobler, albei voorheen joernaliste van Media24, het in ’n verklaring gesê weens die verwagte nege maande gedwonge sluiting van restaurante en hotelle weens Covid-19 en die verwagte langtermynuitwerking daarvan op die toerismebedryf het hulle besluit om nie weer die Tolhuis se deure in 2021 oop te maak nie.

Hulle het vir tien jaar en agt maande die restaurant in die geboukompleks bedryf.

Hulle het by navraag gesê hulle doen nou by hul ander restaurant, Harvest Table Bistro, al die moontlike om staande te bly.

“Ons doen kosaflewerings in drie dorpe en van môre – Maandag – kan mense ook wegneemetes kom oplaai.”

Die Tolhuis Bistro gaan weens die Covid-19-inperkings nie weer sy deure oopmaak nie.Foto: Verskaf

Die tolhuis is ’n nasionale gedenkwaardigheid en is in die 1800’s as tolhek gebruik. Die perseel is ’n provinsiale erfenisterrein.

Die gebou langs die tolhuis word vir jare al as eetplek bedryf. Die Groblers het in 2009 die onderneming gekoop. Sedertdien het die restaurant ’n welbekende oase geword vir plaaslike en internasionale toeriste. Dit was veral gewild onder motorfietsryers en naweekgangers op pad na die Sederberge of Tankwa-Karoo.

Die restaurant was ’n mekka vir roosterkoekliefhebbers en het homself bemark as “Die Republiek van Roosterkoek”.

Daar is gespesialiseer in vars roosterkoeke met allerlei vulsels en bedekkings en meer tradisioneel Suid-Afrikaanse geregte.

Die Tolhuis Bistro in die Michellspas by Ceres. Foto: Verskaf

Die Groblers sê hulle het ná 15 jaar in die koerantbedryf kom vrede vind tussen die mooi berge en op ’n Welcome Dover-koolstoof begin kosmaak.

Hulle kon die helfte van hul Tolhuis-personeel by hul ander restaurant en gastehuis nader aan Wolseley in diens neem.

“Almal in die bedryf knyp oë toe en wag op goeie nuus. Die Witzenberg-area is ’n Covid-19-gevaarpunt en sover is daar geen lig aan die einde van die tonnel vir ’n legio toerismeondernemings nie,” het Reint gesê.

“Belanghebbendes in die bedryf staan egter saam en mense help op vindingryke maniere om mekaar aan die gang te hou.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.