Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
G’n inperking in dié kombuise nie

Drie plaaslike sjefs deel hul gunstelingresepte wat jy maklik en vinnig tuis kan maak.

Jason Whitehead

Die sjef Jason Whitehead is reeds vir meer as 20 jaar ’n professionele sjef. Hy het die gesogte Gourmand World Cookbook-prys vir sy heel eerste kookboek, Tasty WasteNOTS, gewen en sy eie restaurant, Fréres Bistro, in Kaapstad oopgemaak. Dié Franse-styl-restaurant is gereeld onder die top-20- Kaapse restaurante op Tripadvisor aangewys.

Jason Whitehead

Later is hy ook gevra om as verteenwoordiger van die TV-program America’s Test Kitchen vir 120 gaste daaglikse regstreekse demonstrasies op ’n Nederlands-Amerikaanse seilskip aan te bied.

Soos die meeste van ons het hy die erns van die inperking van die begin af besef en daarom was hy vasberade om soveel as moontlik tuis te bly. Dit het tot gevolg gehad dat hy aan iets produktief moes dink om te doen; iets wat ander mense kan help.

Hy het dus besluit om ’n eerlike joernaal te begin waarin hy op ’n daaglikse basis kon uitlating gee aan hoe hy voel. So is sy inperkingskookboek – waarin hy vele van sy maaltye en hul resepte ingesluit het – gebore.

Die kookboek strek oor die tydperk van die eerste 21 dae van die inperking en sluit in hoe hy elke dag gevoel het, sy bui en die daaglikse Covid-19-statistieke sodat mense post-inperking kan terugkyk en sien hoe dit vir ’n Suid-Afrikaner was om tydens die grendeltyd te leef. Die boek is teen ’n donasie van R99 op sy webblad, chefjasonwhitehead.co.za beskikbaar, en die wins word aan die liefdadigheidsorganisasie Streetscapes geskenk.

Jason is een van die gelukkiges wat familie asook ’n lewensmaat het wat tydens die inperking by hom kom bly het. Daar was dus nog nie ’n stil oomblik nie. Benewens die fokus op sy kookboek, word daar ook bordspeletjies gespeel en gebraai en wanneer die son sak, word daar baie meer televisie as normaalweg gekyk, sê hy.

Sy familie is gek na ystervarkies en omdat hy geen kakaopoeier by die huis gehad het nie, moes hy ’n plan maak. Hy sê dat hy eintlik glad nie erg is oor ystervarkies nie, maar dat hy dalk ná dié nuutskepping anders voel.

Hy deel sy weergawe van aarbei-en-roos-ystervarkies bo.

Grace Stevens

Vir die sjef Grace Stevens, ’n ma van vier, is die inperking van die begin af ’n reeks oppe en awwe. “Soms voel ek of ek die wêreld kan verower en ander dae oorwin ek skaars die wasgoedmandjie,” vertel sy.

Grace Stevens

Vir haar is dit ’n uitdaging om haar gesin opgewonde en positief te hou, seker te maak dat daar die heeltyd iets is om na uit te sien en om aktief te bly. Sy sê wel dat hulle darem ’n goeie roetine handhaaf.

Grace se verjaardag het ook oor die inperkingstyd geval en sy vertel dat hoewel dit anders was, dit onvergeetlik is. Haar gesin het daarop gefokus om dit ’n opwindende dag te maak met soveel van haar gunstelinge as moontlik en sy het self ook sommer uitgehaal en gewys met heerlike disse perfek vir ’n partytjie.

Met vier kinders in die huis is Grace nie net agter die kookpotte en koekpanne nie. Sy moet ook tuisonderrig behartig en daaglikse huistakies verrig. Sy hou haarself ook besig met die opneem van private klasse vir haar aanlyn skool en fasiliteer twee weeklikse saamkook-sessies op sosiale media. Terselfdertyd probeer sy ook tyd maak vir lees en haar huidige hekelprojek.

Sy glo nie daarin dat ’n mens gelyke aandag aan jou werk, gesin en huis kan gee nie.

“Ek gebruik die oggend om dinge met die kinders te doen, wasgoed te was en ander huishoudelike takies aan te pak. Die kinders het ook betrokke begin raak by die huistakies. Ná middagete fokus ek op werk.” Sy sê wel dat dit ook nie altyd so gebeur nie. “Wanneer my jongste aandag verg, los ek alles en hou hom vas.”

Sy deel ’n resep vir ’n maklike en eenvoudige pizza bo.

Siba Mtongana

Ten spyte van die feit dat dit vir Siba (soos vir meeste van ons) ’n deurmekaar en vreesaanjaende tyd is, sê dié sjef daar spruit ook goeie dinge hieruit.

Siba Mtongana

Sy bring baie meer tyd met haar kinders deur tydens die inperking én tuisonderrig. “Ek is nou nie meer net ma nie, maar ook onderwyser en tutor!”

Werksgewys fokus sy daarop om soveel as moontlik navorsing te doen, haar sakestelsels te verbeter en nuwe planne te maak.

Soos in vele huishoudings, dra Siba meer as een hoed gedurende die inperking. Sy doen tuisonderrig met haar drie kinders terwyl die vierde, ’n kleuter, wil saam leer. Intussen moet sy ook haar huishouding bestuur en werk doen.

Siba sê “Me. Sibalicious” was tot dusver baie bedrywig in die kombuis. Met sewe mense in haar huis is dit ’n uitdaging om almal se magies vol te hou!

Sy is ook besig met haar Quarantine with Siba-reeks, waarin sy vir haar volgelinge op sosiale media maklike kosidees, resepte en wenke gee. Sy het menige navrae gehad vir so ’n reeks en sê dit is ’n reusesukses.

“Ek dink mense is op soek na bekostigbare, maar gesonde en voedsame oplossings vir hulself en hul gesinne. Aan die ander kant sien ek ook dat mense hul kookvernuf verbeter en gehaltetyd in die kombuis deurbring, wat vir my wonderlik is.

“Ons is almal besig om nader aan mekaar te word terwyl ons gevra word om fisiek van mekaar af weg te bly – is dit nie ironies nie?”

Projekte waarmee Siba voor die inperking besig was, is steeds in haar visier. Sy noem ook dat haar Quarantine with Siba-reeks ná die inperking sal aanhou.

Haar post-inperkingsplanne is nog onseker, maar sy glo dis nou die tyd om innoverend te wees en nuwe strategieë te beplan.

Bo deel sy haar resep vir tuna-en-broccoli-pasta.

Aarbei-en-roos-ystervarkies

Jason se aarbei-en-roos-ystervarkies.

Bestanddele

  • 1 koppie strooisuiker
  • 2 groot eiers
  • 1 spuit vanieljekonsentraat of 1 teelepel vanieljegeursel
  • ½ koppie gesmelte botter
  • 1 ½ koppies koekmeelblom
  • 1 ½ teelepels bakpoeier
  • ½ koppie melk
  • knypie sout
  • 1 koppie aarbeikonfyt
  • ½ koppie strooisuiker
  • ½ koppie gedroogde roosknoppies of roosblare
  • 1 koppie water
  • 1 eetlepel botter
  • 1 koppie gedroogde klapper

Metode

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Klits die suiker, eiers en vanielje in ’n mengbak totdat dit lig en romerig vertoon.

Voeg die gesmelte botter, koekmeelblom, sout en bakpoeier by en hou aan om te klits totdat dit glad en klontvry is.

Voeg die melk by en klits totdat dit heeltemal ingemeng is.

Smeer ’n groot broodpan met botter en meel, gooi dan die koekdeeg in en plaas dit in die oond. Afhangende van die grootte van die broodpan, bak vir ongeveer 35 tot 40 minute of tot ’n sosatiestokkie skoon uitkom wanneer dit in die middel van die koek gesteek word.

Berei die aarbei-en-roosstroop voor terwyl die koek bak. Voeg al die bestanddele saam in ’n pan en kook vir 2 tot 3 minute. Meng dit met ’n elektriese klitser. Gooi die mengsel deur ’n sif en plaas eenkant.

Haal die koek uit die oond uit en laat dit vir minstens 30 minute afkoel voordat dit uit die pan gehaal word.

Sodra die koek afgekoel het, dop dit uit en plaas dit op ’n draadrak om ten volle af te koel.

Sodra die koek heeltemal afgekoel het, sny dit in blokkies.

Doop die koekblokkies aan alle kante in die stroop en dan dadelik in die gedroogde klapper.

Bêre in ’n lugdigte houer of geniet dit onmiddellik.

Tuna-en-broccoli-pasta

Siba se tunapasta.

Bestanddele

  • 300 g tagliatelle, linguine of pasta van jou keuse
  • groot knypie sout
  • water, om die pasta te bedek

Vir die groente

  • 60 ml olyfolie
  • 4 knoffelhuisies, platgedruk
  • 5 groot sampioene, gesny
  • 5 ml gevlokte seesout
  • 250 g broccoli, steeltjies afge-sny
  • 325 ml (1 ½ koppies) hoender-, groente- of visaftreksel
  • 150 g kersietamaties, afgespoel

Vir die sous

  • 1 ui, fyngekap
  • 2 lang sprietuie, fyngekap (die groen gedeelte ook)
  • 30 ml tamatiepasta
  • 1 blikkie gekapte tamaties (jy kan gegeurde variasies soos Indies/kruie gebruik)
  • 250 ml volroommelk
  • 125 ml room
  • 2 medium blikkies tuna in soutwater

Metode

Kook die pasta in ’n groot pot volgens die pakkie se aanwysings, tot al dente.

Dreineer die water met ’n vergiettes en voeg ’n bietjie olie by sodat die pastastukkies nie aan mekaar vasklou nie.

Maak die groente:

Verhit ’n derde van die olie in ’n groot pan en braai die helfte van die knoffel vir 30 sekondes.

Voeg die sampioene en geurmiddels by en kook vir 3 minute tot goudbruin.

Voeg ook ’n klein bietjie olie by.

Verwyder die sampioene uit die pan en sit eenkant.

Gooi die broccoli en 60 ml van die aftreksel in die pan en kook vir 3 minute oor baie hoë hitte tot die aftreksel verdamp en die groente gaar, maar steeds krakerig is.

Plaas dit in dieselfde bak as die sampioene.

Gooi nou die tamaties in die pan en kook vir nog 3 minute tot die tamaties se velletjies begin lig en gooi dit dan ook by die sampioenmengsel.

Maak die sous:

Gooi die laaste olie in die pan en braai die ui vir 4 minute tot dit sag is.

Jy kan ’n bietjie aftreksel ook byvoeg indien nodig.

Voeg die oorblywende knoffel by en kook vir ’n minuut.

Roer die tamatiepasta, tamaties en oorblywende aftreksel by. Bring dit dan tot kookpunt en prut daarna vir 10-15 minute tot verdik.

Voeg die melk en room met een blikkie tuna by. Kook vir ’n verdere 5-7 minute totdat dit ’n ryk kleur het.

Gooi dan die pasta en die helfte van die groente in die pot met die sous en meng.

Bedien in ’n groot bak.

Gooi die res van die tuna en groente by en meng liggies.

Maklike pizza

Grace se maklike pizza.

Bestanddele

  • 750 ml koekmeelblom
  • 300 ml water
  • 15 g vars gis of 10 ml kitsgis
  • 5 ml sout
  • 30 ml olie (olyfolie as jy het)
  • blikkie tamatie-en-uie
  • 2 fyngerasperde baba-murgpampoentjies (courgette)
  • 5 ml basiliepesto
  • mozzarellakaas of kaas van jou keuse
  • gunstelingpizza-bolaagbestanddele

Metode

Voorverhit die oond tot 260 °C.

Voeg die gis, olie en water saam en meng goed.

Meng die meel en sout saam in ’n groot mengbak.

Voeg die gismengsel by en meng goed.

Gooi die deeg uit op ’n oppervlak wat met meel bestrooi is en knie vir ongeveer 2 minute totdat ’n gladde deeg vorm.

Plaas dan eenkant.

Meng die tamatie-en-uie, pesto en murgpampoentjie.

Verdeel die deeg in 6 ewe groot balle.

Rol elke bal met ’n deegroller tot jou verkose dikte uit.

Plaas die uitgerolde deeg op ’n voorbereide bakplaat.

Smeer die tamatiemengsel op die basis en bedek met mozzarellakaas en jou gunsteling-bolaagbestanddele.

Bak vir 10-12 minute totdat die kaas borrel en goudbruin is. Bedien warm.


Meer oor:  Siba Mtongana  |  Resep  |  Pasta  |  Pizza
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.