Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Gou spring met Kerskoek

Dit is weer amper Kersfees. Vrugtekoektyd.

As jy nog nie jou vrugtekoek gebak het nie, moet jy inspring, want die koek het tyd nodig om ryp te word. Dit moet ook nou en dan met brandewyn gedokter word om oor minder as twee maande gereed te wees vir jou Kersfees-teetafel!

Ek het nooit van vrugtekoek gehou nie, maar die sjef Mynhardt Joubert het my ’n paar jaar terug aan sy heerlike vrugtekoek bekend gestel en nou stuur hy elke jaar vir my en ma Babs ’n koek. Dankie!

Ek het al baie oor Mynhardt se koeke geskryf, maar dit is die eerste keer dat hy sy resep met ons deel.

Mynhardt Joubert bak nou al vier jaar agtereenvolgens Kerskoeke om geld in te samel vir liefdadigheid.

Mynhardt se Vrystaat-vrugtekoek

Mynhardt se vrugtekoeke het nou ’n feestyd-instelling in ons huis geword en hy het, soos ek, net mooi herinneringe van die Vrystaat waar hy grootgeword het. Hier het sy ma en ouma ’n groot rol in sy liefde vir kreatiewe en inspirerende kookkuns gespeel.

Mynhardt gesels sommer so oor die foon: “Kersfees in Suid-Afrika is sino­niem met die sny van ’n Kerskoek. ’n Paar jaar gelede het my suster vir my die fantastiese vrugtekoek die heelpad van Bethlehem gestuur. Tot vandag toe verteenwoordig ’n vrugtekoek familie. Ek glo ons almal hunker terug na spesifieke reuke uit die kombuise van ons kinderdae.

“Terwyl ek hierdie vrugtekoeke bak, is dit amper asof ek terugstap in tyd na my familie se liefde en my onskuldige jeug. In ’n mate hoop ek om hierdie sentiment met ander te deel in die vorm van my vrugtekoeke.

“Ek hoop mense vind aanklank hierby: die waarde van familie en ’n gesin. Dis tog mos waaroor Kersfees gaan.”

Kersfees in Suid-Afrika is sino­niem met die sny van ’n Kerskoek.

Koop ’n koek en help jou naaste

Vir die vierde opeenvolgende jaar bak Mynhardt vrugtekoeke om te verkoop. As jy nie lus is om ’n koek te bak nie, kan jy dit by hom bestel vir ’n baie billike R350.

Dis egter meer as ’n soet Kerstyd-bederf: ’n porsie van alle verkope word soos oudergewoonte aan ’n spesiale liefdadigheidsorganisasie geskenk.

Vanjaar vind Monte Christo Miqlat (MCM), ’n niewinsgewende organisasie in die Paarl in die Wes-Kaap, baat by die koekverkope.

Sedert 2002 bemagtig MCM behoeftige gesinne deur middel van hul ontwikkelingsprogramme.

In 2018 het die organisasie die Drakenstein-vallei van meer as 1 miljoen maaltye voorsien.

Benewens voeding, bied MCM ook sportprogramme vir oud en jonk aan, behartig sorg vir haweloses, en bedien die gemeenskap met ’n sorgsentrum en naskoolsentrum.

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpot@telkomsa.net

  • Bestel ’n vrugtekoek.

Maak seker jy kry jou hande op een van die sjef Mynhardt se heerlike vrugtekoeke. Plaas jou bestelling deur ’n e-pos na cake@mynhardt.co.za te stuur.

Sjef Mynhardt se Vrystaat-vrugtekoek

Mynhardt se feestelike vrugtekoek. Foto:

250 ml water

310 ml sagte bruinsuiker

1 kg vrugtekoekmengsel (gedroogde vrugte en neute)

250 g fyngekapte dadels

250 g sultanas

250 g grofgekapte kasjoe- en macadamia-neute

7 ml bakpoeier

250 g botter

100 g heel rooi geglaseerde kersies

100 g heel groen geglaseerde kersies

5 eiers – geklits

20 ml vanielje-ekstrak

125 ml brandewyn

625 ml bruismeel

5 ml sout

5 ml kaneel

Voorverhit die oond tot 120 °C en smeer die binnekant van ’n 25 cm-koekpan met botter. Voer die pan met bakpapier uit en smeer dan weer die binnekant van die pan met botter.

Verhit die eerste agt bestanddele op ’n lae hitte totdat dit kookpunt bereik en laat dit vyf minute lank prut. Verwyder die mengsel van die plaat en laat afkoel. Voeg die rooi en groen kersies by. Meng die eiers, vanielje en brandewyn, en voeg dit by die afgekoelde mengsel.

Voeg die bruismeel, kaneel en sout by, en meng goed. Skep die mengsel in die pan en bak twee uur lank. Laat die koek behoorlik afkoel en keer die koek dan uit die pan. Besprinkel die koek met ’n bietjie brandewyn en stoor in ’n lugdigte houer. Vryf die koek gereeld met ’n bietjie brandewyn om seker te maak die vrugtekoek droog nie uit nie.

Is dit pasta, is dit strooitjies?

Anél se a tuttu rintra-pastasousFoto: Anél Potgieter

Ek het die afgelope week vir die eerste keer Ziti no. 10-pasta ontdek. Ek noem dit strooitjie-pasta, want dit lyk soos ’n koeldrankstrooitjie. In Italië word dit ook deesdae gebruik om die plastiekstrooitjies te vervang. Slim. Soek daarvoor by deli’s of aanlyn, maar moenie skrik as jy dit kook nie, want dit lyk baie vreemd – amper soos ’n brein in ’n rillerfliek.

Ek het by die Ziti no. 10 ’n ryk en lekker Italiaanse a tuttu rintra-sous gemaak. “A tuttu rintra” beteken alles in een pot op dieselfde tyd. Dus gooi jy die tamaties, ui, olyfolie, knoffel en geurmiddels in ’n koue pot (moenie skrik vir die hoeveelheid olyfolie nie), bring dit tot kookpunt en prut vir so 10-15 minute of totdat dit verdik het. Deliziosa!

Anél se a tuttu rintra-pastasous

(Bedien 2)

Vir die sous

1 blikkie tamaties, gekap

½ ui, fyngekap

1 knoffelhuisie, gerasper

125 ml goeie olyfolie

2,5 ml sout of na smaak

swartpeper na smaak

Vir bediening

gekookte pasta van jou keuse

basiliekruid, geskeur

parmesaan-kaas, gerasper

Gooi al die bestanddele in ’n koue pot en laat dit vir so 10 tot 15 minute prut, terwyl jy aanhoudend roer.

Skep ’n ruim hoeveelheid van die sous oor die gekookte pasta. Bedien met basiliekruid en parmesaan-kaas

WENNER: Geluk Carel Louw (Malmesbury), want jy wen ’n eksemplaar van Field Guide to Mushrooms & Other Fungi of South Africa.

Meer oor:  Kos  |  Resepte  |  Kostelik  |  Vrugtekoek  |  Kersfees  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.