Groot Constantia se 2019-Sauvignon Blanc is as die beste ter wêreld aangewys op vanjaar se International Wine Challenge (IWC) – een van die toonaangewendste wynkompetisies waarin die beste wyne wêreldwyd aangewys word.
Dit is die eerste keer in tien jaar dat die Sauvignon Blanc-trofee nie aan ’n wyn van die Loire-vallei in Frankryk of aan ’n Nieu-Seelandse wyn toegeken word nie.
Die 2019-Sauvignon Blanc het ook die IWC se Constantia-trofee verower.
In die IWC word elke wyn “blind” beoordeel op grond van sy getrouheid aan styl, streek en oesjaar. Elke wyn wat ’n medalje wen, word op minstens drie afsonderlike geleenthede deur ’n minimum van tien verskillende beoordelaars geproe, wat van die wêreld se voorste wynkenners insluit.
Om vir hierdie kompetisie te kwalifiseer, moes die deelnemers reeds ’n goue medalje gewen het op die IWC-uitdagings. Alle gouemedaljewenners kom dan teen mekaar te staan in nóg ’n proe-ronde voordat die beoordelaars die trofee-wenners aanwys.
Die Groot Constantia-landgoed sê in 2013 het sy Sauvignon Blanc die Suid-Afrikaanse Witwyntrofee, die Constantia-trofee en die Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc-trofee verower. Ook die landgoed se Chardonnay het ’n paar jaar gelede op die jaarlikse Chardonnay du Monde-kompetisie in Frankryk meer as 800 deelnemers van oor die wêreld heen uitgestof om as die wenner aangewys te word, luidens die verklaring.
Boela Gerber, wynmaker van Groot Constantia en amptelike Kaapse wynmeester, sê hulle is baie opgewonde oor die IWC-trofeë vir hul Sauvignon Blanc.
“Die Constantia-vallei het nog altyd lieflike sauvignons geproduseer en ons doen moeite met hierdie wingerde. Dit is ’n uitstekende beloning vir al ons pogings.”
Jean Naudé, uitvoerende hoof van Groot Constantia, sê in die 335 jaar dat die landgoed wyn produseer, het hulle wêreldwyd respek afgedwing. “Die 2019 Sauvignon Blanc is deel van daardie nalatenskap.”
Hy sê dié soort prestasie gebeur nie per ongeluk nie.
“Dit kom ná baie jare se harde werk in die wingerde en in die kelder deur verskillende spanne mense wat almal hul bydrae lewer.
“Dieselfde dissipline het ook daartoe gelei dat ons in 2020 nege wyne op die lys van die top-100 wyne in Suid-Afrika gehad het.”
Die 2019-oesjaar se sauvignon blanc-2019 is uitverkoop. Groot Constantia se 2020-oesjaar kan op die landgoed of by uitgesoekte kleinhandelaars gekoop word.
“Hoewel die 2019-oesjaar uitverkoop is, beloof die 2020-oesjaar dieselfde wen-geurprofiel as sy voorganger. Ons is baie opgewonde oor hierdie wyn,” sê Naudé.
Besoek grootconstantia.co.za vir meer inligting.