Op die drumpeltjie
van die Nuwejaar kyk ek na my Ier, my twee hondekinders, ma Babs, my broers en
hul kinders, my vriende, die see, jul pragtige briewe wat ek weekliks ontvang,
my gesondheid, my werk wat my tone laat krul van die lekkerte en besef ek dit maak
nie saak hoe annus horribilis jou jaar was nie, daar is altyd stof tot
dankbaarheid.
Ja, dit was ’n rowwe
jaar vir baie en vir ons land, maar ek is opgewonde om 2020 met ywer te omhels.
Maar voor ons dit doen, moet ons beplan om 2019 met fanfare en ’n heerlike
Oujaarsaandpartytjie te groet. Ná Kersfees beloof ek my handjies die saligheid
en ek het by Nina Timm, bekroonde blogger (My Easy Cooking) en kookboekskrywer,
gaan aanklop vir idees.
Nina Timm se
snoephappiesNina, wat ook kookklasse aanbied, stel die volgende verskeidenheid
snoephappies voor: kaas-en-biltong-balletjies, crostini met gerookte salm en
ertjie-pesto, geklopte bloukaassmeer, gatskop-samoesas en geroosterde druiwe
met bokmelkkaas.
En van my kant af,
baie dankie dat julle my rubriek die afgelope ses en ’n half jaar lees en
soveel terugvoering gee.
Ek waardeer elke
e-pos en geselsie oor die foon. Voorspoedige 2020 vir julle almal – mag jou
jaar net vol liefde, geluk en pragtige herinneringe wees.
Groete uit my kombuis
Anél
anelpot@telkomsa.net
Geroosterde druiwe
met bokmelkkaas

Foto’s: nina timm
Bedien 6-8
1-2 groot trosse rooi
druiwe
125 ml okkerneute
klein bietjie heuning
100 g bokmelkkaas
(Fairview is bekend vir hul heerlike bokmelkkaas)
1 baguette
vars tiemie
sout
Voorverhit die oond
tot 200 °C. Plaas die druiwe op ’n bakplaat wat met kleefwerende middel gespuit
is. Rooster die druiwe vir omtrent 20 minute.
Sommige korrels moet
oopbars en ander al bietjie stroperig wees. Haal uit die oond en bedruip met bietjie
heuning.
Plaas die snytjies
brood en okkerneute op ’n bakplaat en rooster tot die brood goudbruin is.
Bedruip die okkerneute ook met bietjie heuning en geur met klein bietjie sout.
Smeer bokmelkkaas op elke broodjie en sit geroosterde druiwe en okkerneute op
net voor opdiening.
Gatskop-samoesas
500 g varkmaalvleis
2 eetlepels olyfolie
2 groot sprietuie,
fyngekap
2-3 rooi rissies
3 teelepels
gerasperde vars gemmer
2 knoffelhuisies,
gerasper
2 eetlepels
tamatiepasta
1 teelepel suiker
gerasperde skil en
sap van een lemmetjie
2 eetlepels sojasous
3 eetlepels gekapte
vars koljander
24 samoesavelle
Sriracha-sous vir
opdien (koop dit by ’n goeie kruidenierswinkel)
Verhit die olie in ’n
pan. Voeg die uie, gemmer, knoffel en rissie by en braai oor lae hitte.
Voeg die
varkmaalvleis by en gebruik ’n vurk om die vleis op te breek sodat jy ’n
krummelrige tekstuur het.
Voeg die suiker,
tamatiepasta en sojasous by en kook vir 10 minute.
Verkoel en voeg dan
die gekapte koljander by. Maak die samoesas en braai in warm olie tot gaar.
Bedien met
Sriracha-sous. Die samoesas kan voor die tyd gemaak word. Vries op ’n bakplaat
en braai wanneer nodig.
Dit kan uit die
vrieskas gebraai word.
Geklopte
bloukaassmeer

Geklopte bloukaassmeer
Maak omtrent 500 g
2 x 100 g bloukaas
(Fairview het ’n heerlike sterk bloukaas)
200 g roomkaas
skil en sap van een
lemmetjie
growwe swart peper na
smaak
Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en prosesseer tot ’n
gladde smeer. Skep in glasfles en verkoel tot nodig. Dis heerlik op
kraakbeskuitjies met skyfies rooiui, babakruie en komkommer.
Kaas-en-biltong-balletjies
Maak 20
1 x 100 g bokmelkkaas
(Ek verkies Fairview se kaas)
1 x 100 g fetakaas
50 g kasjoeneute
’n handjievol vars
pietersielie
250 ml fyn biltong
Plaas die kase, neute
en kruie in ’n voedselverwerker en prosesseer tot ’n gladde smeer. Rol
balletjies en rol dan die balletjies in die fyn biltong. Hou in yskas tot
benodig. Bedien saam met drankies.
Gestopte vye

Gestopte vye
Maak 6
6 vye - ek verkies die
groen vye met sagte skil
20 g parmesaankaas
30 g amandels,
fyngekap
2 takkies vars tiemie
6 stukkies pancetta
of spek
bietjie heuning
balsamiese reduksie
vir bediening
babakruie
Voorverhit oond tot
180 °C. Maak ’n kruissnit in elke vy, maar moenie deursny nie. Plaas kaas,
neute, tiemie en lemoenskil in ’n bakkie en meng.
Skep ’n bietjie van
die vulsel in elke vy. Rol die pancetta om elke vy en steek vas met ’n
tandestokkie.
Plaas vye op ’n
bakplaat en bak tot die pancetta brosbruin is.
Bedien met die balsamiese
reduksie en vars babakruie.
Crostini met gerookte
salm en ertjie-pesto

Crostini met gerookte salm en ertjie-pesto
Maak +- 40
Ertjie-pesto
250 g bevrore ertjies
4 eetlepels
gerasperde parmesaan
gerasperde skil en
sap van een suurlemoen
sout en growwe peper
na smaak
2 eetlepels olyfolie
Crostini
2 baguettes
2 x 250 g roomkaas
500 g gerookte salm
(koop plaaslike salm van Three Streams)
vars kruie vir
bediening
sout en peper
Ertjie-pesto: Vul
’n klein potjie met water en bring tot kookpunt. Blansjeer die ertjies in die
kookwater vir 5 minute.
Gooi ertjies in sif
en spoel onder koue water. Plaas ertjies, parmesaan, sap en suurlemoenskil in
’n voedselverwerker en pols tot growwerige tekstuur. Voeg olyfolie by en geur
met sout en peper. Die pesto kan vooraf gemaak word en in die yskas gehou word
tot benodig.
Crostini: Sny brode in snytjies van 1 cm. Rooster die broodjies op
’n riffelpan of in die oond. Smeer elke broodjie met roomkaas. Skep ’n bietjie
ertjiepesto op elke broodjie en sit laastens die salm op. Garneer met vars
kruie.
Volg Nina só: Besoek: www.my-easy-cooking.com |
Kookklasse: Besoek die webblad vir datums en temas. | Facebook: My Easy Cooking
| Twitter: @ninatimm | Instagram: @easycooking