Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Herinneringe aan Chianti en danse in Toskane
Die wingerde in Toskane lê só teen ’n helling. Foto: Melvyn Minnaar

Dit was die aand van die volmaan en in die middel van die oes. Wie sou dink dat ons handjievol Suid-Afrikaners hier, in die hartjie van Toskane, ons verlore volkspele-herinnering onder leiding van die plaaslike bewoners kon aktiveer.

Ja-nee, ’n vrolike aand en as daar iets soos ’n Chianti-tiekiedraai is, het ons groepie te lekker met die Italianers die rondtes gedoen. ’n Italiaanse pensklavier klink darem effe anders in die geselskap van ’n Italiaanse viool, Franse horing en, glo dit as jy wil, ’n klarinet in die hande van ’n kêrel wat kwalik ’n uur of wat vantevore onder in die vallei rooi druiwe gepluk het.

Die rooi druiwe in die helling-wingerd net so ’n paar honderd meter van waar ons gedans het is sangiovese – die trots van dié beroemde streek bekend as Chianti waar dié klassieke Italiaanse wyn reeds eeue lank gemaak word. En net so uniek soos die effe vreemde taal waarin die wynwerkers onder die volmaan gesing en gedans het, so opvallend is die persoonlikheid van egte chianti-wyn.

Op die chianti-spoor

Ons Fattoria di Petrognano, een van talle tipiese landgoedere verbasend hoog in die Toskaanse heuwels – almal so half in ewige verval soos die afgesloopte dekor in Italiaanse flieks – lê slegs ’n steil 7 km wes van die dorpie Rufina.

Dié gee aan een van die chianti’s ’n streeknaam op die etiket. Die ander is Chianti Montalbano, Chianti Colli Fiorentini, Chianti Colli Aretini, Chianti Colli Senesi (ook Montepulciano en Montalcino), Chianti Montespertoli en Chianti Colli Pisane.

Daar is ook gehalte-graderings: die standard, Classico, Riserva en Superiore. Ja-nee, dié eeue-oue wynstreek ken van identiteit en gehalte.

En met reg, want ware chianti smaak soos niks anders nie. Die rede is die unieke sangiovese-druif wat eweneens onmiddellik aan sy aroma – dink aan donkerrooi kersies, sweempie rook, amandels – ’n tintelende mondgevoel en dralende nasmaak herkenbaar is. Dis dalk ook nie heeltemal empiries te staaf nie, maar die wyn en sy karakter het ’n speelse Italiaanse aard – dink aan pasta, opera, kultuur en vrolike samesyn soos om ’n gesins­tafel.

Dis natuurlik dan ook hoe ons op die kort besoek duskant Rufina onder die eeue-oue bome gekuier het asof ons die rolspelers in ’n kleurvolle Italiaanse rolprent is.

Terug in ons suiderland durf ’n mens dus met goeie herinneringe ’n soektog aan na plaaslike “chianti”, wyne wat die edele sangiovese se siel uit ons eie wingerde kan optower. Nodeloos om te sê dat dit “ingevoerde Italianers” is wat dié druif op hul mou dra – mense soos die Bertrands van Morgenster, die Bottegas van Idiom. En ook ’n paar wynmense wat onder die bekoring, wat al eeue in Toskane bestaan, gekom het.

Roberto Bottega en sy gesin se Italiaanse passie is duidelik: “Ek het onlangs ons Idiom Sangiovese 2015 saam met Marchese di Frescobaldi geproe en hy was baie beïndruk dat dit ’n wyn met ’n blink toekoms is en wat vir 10 tot 20 jaar verouder moet word.” (Die Frescobaldi-landgoed was ’n paar kilometer verder met ons pad langs duskant Rufina.)

Koelenbosch 2017
Terra Del Capo 2016
Morgenster Sangiovese Rosé 2019
Morgenster Sangiovese 2019
IIdiom Rosso di Stellenbosch 2016
La Vierge Satyricon 2018
IIdiom Sangiovese 2015

Plaaslike uitblinkers

Daar is volgens vanjaar se Platter’s-wyngids sowat 15 produsente wat sangiovese-wyne maak. Verskeie word hoog aangeslaan, maar in hierdie geval is my keuse gemik op dié wat aan die Toskaanse ervaring duskant Rufina herinner.

Stellenbosch se avontuurlike weergawe is ewe drinkbaar en tog ernstig met talle bessiegeure. Veral opvallend is die mooi suur teen die fluweeltannien.Terra Del Capo 2016 (R85): Dadelik herkenbaar as sangiovese met pruime en kersies, warm speserye en volrondheid van tannien en vrugtesuur. Pragtig in balans en eweneens sterk in die chianti-styl. Uitstekende waarde.

Morgenster Sangiovese Rosé 2019 (R110): ’n Unieke blooswyn, kurkdroog met ’n knarsie suur vir somer met tipiese kersie- en aarbeie-geure. Lekker drinkwyn vir onder die Italiaanse prieel met antipasta.

Morgenster Sangiovese 2019 (R110): Anders as die landgoed se bekende Tosca waarin sangiovese met cabernet versny word om ’n soort “Super Tuscan” te maak, is hierdie wyn meer op die drinkebroer gemik met verleidelike tipiese Toskaanse geure. Skink saam met jou dungesnyde biefstuk.

Idiom Rosso di Stellenbosch 2016 (R110): Met ’n tikseltjie barbera is hierdie ’n vrolike tafelwyn. Soos chianti, sê Bottega. Donker vrugtegeure, ’n knarsie suur en rokerigheid soos prosciutto om saam met enige Italiaanse dis te geniet.

La Vierge Satyricon 2018 (R160): Van die klompie geproe, is hierdie wyn van Hemel-en-Aarde die een wat die meeste aan Chianti Rufina herinner. Helder kersie- en blomgeure, ’n tikkie kaneel/neutmuskaat en krokante, sagte suur met net genoeg ryp tannien. Lieflik.

Idiom Sangiovese 2015 (R264): Soos ’n Chianti Riserva, groter en ryker en tog propvol geure van kersies, fynbos, tabak en ’n tikkie sjokolade ná houtveroudering.

Meer oor:  Wynsoorte  |  Italiaanse Wyne  |  Wynprodusente  |  Chianti  |  Stellenbosch-Wyne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.