Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Het jou, Seerower!

As jy al ooit Villion Wines se wynetikette met seerowers met Afrikaanse name op die winkelrak gesien het en gewonder het waarvandaan dit kom, is jy nie alleen nie. Maar as jy dit nog nie probeer het nie, móét jy dit vanjaar op jou lys van wyn om te drink sit.

Kobie Viljoen en sy vrou, Elnette, neem hul wynbedryf Villion Wines in Botrivier baie ernstig op, en ontspan graag om die braaivleis- en seekosvuur by die see. Albei is eg Suid-Afrikaans en trots op die Afrikaanse taal.

Ná baie navorsing en eksperimentering het die Seerower-reeks leefstylwyne hul debuut op die rakke gemaak.

“Tydens gesprekke in verband met verkope kry jy as wynmaker gereeld idees en raad van wat jy moet doen met jou wyne en/of verpakking, ensovoorts. Maar ’n invoerder se opinie by die laaste Cape Wine Expo in 2018 het by my en Elnette vasgesteek en ons laat wonder: Hoekom leun ons so erg op Frans in die leefstylreeks? Kan ons nie meer Afrikaans in ons aanslag en meer uniek Suid-Afrikaans wees nie?” verduidelik Viljoen.

Dié wyn is trots Afrikaans

“In die algemeen is Suid-Afrikaanse handelsmerke baie op die Europese tradisies geskoei, soos ons eie premium Villion-reeks. Toe begin ons daaroor te dink: Hoe sal ’n eg Suid-Afrikaanse etiket lyk, sonder te veel Afrikadiere en -sketse?

“Ons wou ook ’n duidelike skeiding maak tussen die leefstyl- en die premium reeks en ’n vars, nuwe aanslag op daardie segment van die mark maak – minder ernstig en meer pret! ’n Ander aspek is om die oorsprong van die druiwe, die koel klimaat naby die Atlantiese Oseaan en kuslyn ook te vertoon en te behou,” sê hy.

Viljoen vertel dat hy nog altyd, en veral vanweë sy ma se invloed as Afrikaanse taalonderwyseres, ’n liefde vir Afrikaans gehad het.

“Ons het toe begin met eiesoortige Afrikaanse name/woorde wat gebruik kan word as ’n handelsmerk. Woorde soos karnuffel, skobbejak, bullebak – net soos hulle opduik in ons gedagtes. Ek en Elnette het mekaar uitgedaag om die beste woorde met die meeste humor te vind en uiteindelik ’n lys van dié tipe Afrikaanse woorde ontwikkel.”

Die volgende stap was om te bepaal hoe hulle hierdie woorde kon gebruik en gelyktydig ook die aspek van wyn te kombineer. Met die nuusgebeure teen die ooskus van Afrika waar daar gereeld “seerower”-probleme is, het die idee begin vorm aanneem.

“Seerowers word slegs op, of naby die see gevind en die idee het toe sommer die nabygeleë wingerde se oorsprong opgelos. Daarna het ons begin om die druifsoorte en wynstyle te verpersoonlik, met ’n eiesoortige Suid-Afrikaanse humor en daarmee saam die kleurryke trefkrag van Suid-Afrikaanse nasies met al hul kulture. Waar anders as in die Kaap sal jy beter weet wat bedoel word met ‘Jo Vabond’ en waar kan dit beter uitgespreek word?

“Ons kultuur is mos humoristies en ons wou dit uitbeeld met ons leefstylreeks: ’n Kaptein met die naam Karnuffel, ’n rugby-gedrewe Ben Bullebak en alliterasies soos Zak Skobbejak Shiraz, Rosa Rabbedoe Rose, Sarel Seemonster Sauvignon Blanc. Ons kan en mag maar vir onsself lag!” vertel hy.

Kleurvolle karakters

Met Elnette se kunsagtergrond was dit gepas dat hulle die persoonlikhede ten volle uitbeeld, en met die hulp van Tertia du Toit is die seerowers se unieke karakters geskep.

Al die karakters het ’n verhouding met die onderliggende Kaapse oorsprong, soos Tafelberg in die agtergrond, die kuslyn van die Kaap en ’n galjoen wat Sarel se naels vryspring.

“Terloops, Sarel is ’n see-kat, nie ’n seekat (octopus) nie. Normaalweg in die stories is die seekat altyd die monster wat die wanhopige skip in die see in aftrek, so ons speel daar met die uitdrukking,” verduidelik Viljoen.

Volgens hom is dit gewoonlik ’n geval van “less is more” as dit by premium wyn kom, soos met hul Villion-reeks, maar met die leefstylreeks het hulle “more is more” toegepas – nie net op die verpakking nie, maar ook met die inhoud.

“Ons weet dat die eerste keer wat iemand die wyn koop, dit as gevolg van die humor en die kreatiewe etiket sal wees, maar ons doelstelling is dat met die tweede en derde aankope, die gehalte van die wyn die oorweging sal wees. En dit is waarvoor Walkerbaai so bekend is.”

Die paartjie is boonop ook baie opgewonde oor die Kaptein Karnuffel Cabernet Sauvignon wat onlangs as een van die top-tien Afrikaanse handelsmerke deur die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) gekroon is.

“So, daar is die storie: wyn hoef nie altyd so ernstig te wees nie, ons kan ook maar so bietjie ontspan en dit met baie goeie wyn en ’n glimlag op ons gesig,” sê Viljoen.

  • Die Seerower-reeks sal ná die drankverbod by meeste drankwinkels beskikbaar wees of besoek www.villionwines.com om nou aanlyn te bestel vir aflewering ná die verbod. Dit kos tussen R85 en R95 per bottel.
Meer oor:  Toerisme  |  Wyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.