Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Hier is die Absa Top-10 Pinotage-kompetisie se wenners

Lees hier meer oor die laaste vyf wenners van die 2021 Absa Top-10 Pinotage-kompetisie.

Vanjaar se wenners: (agter links na regs) Abrie Rautenbach (hoof: Absa AgriBusiness), De Wet Viljoen, Anri Truter, Marozanne Grobbelaar, Herman du Preez, Francois van Niekerk, Daniel Slabbert, Beyers Truter (voorsitter: Pinotage Assosiasie). Voor is Gerhard Swart, Juandre Bruwer, Abrie Beeslaar en Nicolas Husselman.Foto: VERSKAF

Beyerskloof

Dit was 30 jaar – dus een generasie – gelede dat die Beyerskloof-handelsmerk, wat sinoniem geword het met Pinotage, “gebore” is met die aanplanting van die eerste wingerd op die klein plaas langs die Koelenhof-pad wat in 1988 aangekoop is. Ná die 1997-aankoop van 100 hektaar in die Bottelary-wynland van Stellenbosch, is die eiendom in 2018 weer vergroot met die aankoop van ‘n 50 hektaar-wingerd, bekend as Kriekbult, tussen die wynkelder en Simonsberg soos sigbaar vanaf die dek van die bistro by Beyerskloof. As ’n mens verwonderd staan oor wat alles vermag is in die 30 jaar sedert Beyers Truter daardie eerste wingerd aangeplant het, kan ’n mens net met opwinding bespiegel oor wat die volgende 30 jaar mag inhou terwyl Anri Truter en die Beyerskloof-familie die wynboukundige grense ook in die kelder verskuif.

Hul Diesel Pinotage 2018, wat deur Anri gemaak is, is vroeg in Februarie met die hand gepluk van wingerd in die Bottelary-heuwels-gebied teen optimum-rypheid van 26 °B. Nadat dit ontstingel is, is die korrels deur ’n sorteerstel om groenigheid te minimaliseer en het fermentasie in oop vate plaasgevind. Die druiwe is gepars voordat fermentasie voltooi is en appelmelksuur gisting het in vlekvryestaaltenke ontwikkel. Wyn is vir 17 maande in Franse eikehoutvate verouder waarna slegs die beste vate uitgesoek is vir hierdie wyn. Dit is ’n groot gestruktureerde wyn met intense donker vrugtegeure, goeie diepte en balans met ’n talmende afronding. Die wyn sal oor tien of meer jare uitstekend verouder.

Kontak Beyerskloof by www.beyerskloof.co.za

Francois van Niekerk

Francois van Niekerk sê Pinotage gee aan die wynmaker ’n kort tydperk om wyn van goeie gehalte te omskep in ’n uitsonderlike wyn, maar as die meetsnoere vir jou reg val, glimlag die gode op jou neer.

“My droom om my eie wyn van Suid-Afrika se spesialiteitsdruiwe-variëteit te skep, het in 2019 ’n werklikheid geword toe die direkteure van Wellington Wines die groen lig gegee het dat ek ’n beperkte hoeveelheid onder my eie etiket kan maak, sê hy.

Die Francois van Niekerk Pinotage 2019 uit die kusstreek se druiwe kom van twee 27 jaar oue droëland-wingerde, een in die Paarl en een in Wellington, beide teen ’n effense suidoostelike helling. Die handgeplukte druiwe is ontstingel, gesorteer en gefermenteer in oop gistenke by 27 °C. Ná vyf dae is die sap van die doppe onttrek. Ná fermentasie is die wyn oorgedra na 225 liter- Franse eikehoutvate. Appelmelksuurgisting het in ’n kombinasie van 70% nuwe en 30% tweede-vul-vate plaasgevind. Die wyn is vir 24 maande in die vat verouder. Lae van aromas van sagte bloubessies en vars kersies word aangevul deur geure van speserye en vanieljepeul wat ’n elegante balans tussen eik en vrugte meebring. Die verleidelike robynrooi wyn is volrond en verrassend sag met ’n fluweelafronding. Die speseryagtige vanielje en eikerige note is elegant op die palet en gee gewig aan die geurprofiel van framboos en donker pruime.

Kontak Francois van Niekerk by

www.francoisvanniekerk.co.za

Môreson

Môreson is die pinotage wat ’n duisend drome ontsluit het.

“Ons unieke benadering tot die rypwording en oes tesame met 25 jaar van wingerd-monogamie het ons in staat gestel om ’n pinotage te skep wat jaar-op-jaar oorvloedig lewer.”

Die Widow Maker 2018 spog met ’n smaakprofiel wat genoeg is om selfs die hewigste pinotage-hater tot ’n pinotage-fanatikus te bekeer. Die Widow Maker vervul elke belofte wat pinotage as ’n variëteit nog ooit gemaak of aanspraak op gemaak het. Met gereelde verskynings in die Absa Top-20- en Top-10-lyste weet jy nou al dat wanneer dit by pinotage kom, Môreson nogal ’n ding of twee weet. En moenie vra oor die naam nie. Sy byt.

Die Widow Maker 2018 uit die Stellenbosch-streek is gemaak deur Clayton Reabow. Al die druiwe is uitgesoek uit spesifieke blokke wat met die hand gepluk en oornag verkoel is. Trosse is deur ’n geoutomatiseerde eenheid ontstingel en gesorteer. In plaas daarvan om die korrels stukkend te druk, word dit eerder deur ’n sikloonstamper geperforeer om die dopwand te skeur. Fermentasie word in oop plastiekgishouers sonder koue weking begin om die onttrekking van pirasien te vermy. Die mos word met gis geïnokuleer en gefermenteer tot droogheid.

Ná ’n kort maserering word die wyn gedreineer en die doppe gepars. Die geparste gedeelte word apart gehou en oorgedra na die vat waar die wyn appelmelksuurgisting ondergaan. Die 20 maande veroudering het in Franse eikehoutvate plaasgevind voordat dit oorgetap en die komponente gemeng is.

Kontak Môreson by www.moreson.co.za

Koelenhof Stellenbosch 1679

Die genot van goeie wyn is een van die lewe se ware plesiere, sal enigeen wat goeie wyn waardeer, vir jou kan sê. By Koelenhof-wynkelder is die deel van hierdie groot plesier met mede-wynliefhebbers sonder om jou ore van jou kop af te betaal, die eienaars se grootste passie.

Dit is ook een van ’n paar kindervriendelike plase in Stellenbosch, wat beteken dat die hele gesin welkom is om ’n wonderlike dag te geniet terwyl hulle die kelder en alles anders wat gebied word, verken.

Die Stellenbosch 1679 Pinotage 2019 is deur Nicholas Husselman en Handré Visagie gemaak. Dit is volronde wyn met ’n donkerrooi kleur, word gemaak van 21 jaar oue pinotage-wingerd, hoofsaaklik op Tukulu en Dresden gronde. Kleiner korrels met ’n uitstekende kleur en geur-intensiteit is teen optimale fenoliese rypheid geoes. Lae reënval, ’n droër rypwordingseisoen met koel nagte en warm, droë dae tydens die pluktyd, het bygedra tot die gehalte van die druiwe. Die wyn het sewe dae op die doppe gelê in rotorgistenke teen 25 °C, 14 maande in nuwe 225 liter en 300 liter- Franse eikehoutvate verouder en spog nou met aromas van swartbessies en witpeper saam met donker kiersievrugte en mokka wat prominent is op die palet. Hierdie uitstekende 2019-wyn sal tot middel-2025 op sy lekkerste wees wanneer tersiêre of verouderings aromas sal begin ontwikkel.

Kontak Koelenhof by www.koelenhof.co.za

Neethlingshof

Neethlingshof het ’n lang en ryk tradisie van wynmaak in Stellenbosch, die tweede oudste en vernaamste wynproduksiegebied van Suid-Afrika.

Die landgoed is op ’n uiters gunstige perseel met die ideale natuurtoestande, grond, hange, hoogtelyne en klimaat om ’n verskeidenheid puik wyne te maak. Al die druiwe vir die Neethlingshof-wyne word op die landgoed verbou en al die wyn word in die kelder op die landgoed gemaak, verouder en gebotteleer. Boonop is al die wyne veganis-vriendelik.

Die Neethlingshof Estate Pinotage 2020 is deur De Wet Viljoen gemaak van druiwe uit 21 jaar oue suidoostelike wingerde waar dit teen 125 m bo seespieël groei en op die Perold-stelsel vertikaal opgelei en deur drupbesproeiing natgelei is. Die druiwe is met die hand gepluk teen die middel van Februarie teen 26 ºB met ’n opbrengs van 11 ton per hektaar. Fermentasie in rotasietenke het teen 26 ºC tot 28 ºC oor sewe dae plaasgevind. Ná appelmelksuurgisting is die wyn verouder in ’n kombinasie van Franse (60%) en Amerikaanse (40%) eikehout, met 40% in nuwe vate vir ’n tydperk van nege maande. Daar is aan streng veganistiese riglyne voldoen tydens die hele verbouing- en wynmaakproses.

Die wyn is diep robynrooi, volrond, en het aromas van ryp rooi pruime, swart kersies, naeltjies, donker sjokolade, geroosterde klapper en ’n sweempie soet tabak. Hierdie wyn sal tot sy reg kom saam met vleisgeregte en groente met geurige souse soos teriyake, pruim of ’n vleissous.

Kontak Neethlingshof by neethlingshof.co.za

Geborg deur:

Koelenhof

Nicolas Husselman van Koelenhof met hul top-10-trofee.

Die Stellenbosch 1679 Pinotage 2019, geproduseer deur Koelenhof-wynkelder van die wynstreek Stellenbosch verwys na die jaar wat Stellenbosch benoem is deur Simon van der Stel en daarom die handelsmerk Stellenbosch 1679.

Daar word gereeld verwys na Stellenbosch as die Bordeaux streek van die Suid-Afrikaanse wynbedryf, waar Suid-Afrika se super premium wyne geproduseer word en dié Stellenbosch 1679 Pinotage is voorwaar ’n trots van die streek.

Dié pinotage, gemaak deur wynmakers Nicholas Husselman en Handré Visagie met wingerdboukundige Jacques du Bois, vertoon ’n diep donker rooi kleur, met aromas van swartbessie, witpeper, donker kersievrug en mokka op die neus met ’n ondertoon van kaneel en pruim wat op die smaak deurkom.

Die wyn is veral lekker saam met Springbokboud met ’n kersie en rooiwyn jus, bedien op romerige kapokaartappels en geroosterde groente in die oond, asook tradisionele roosterkoek, soos voorberei deur Beauty by Koelenhof Wynkelder, met beespatty, rooi uie pinotage port blatjang, brie en roket of lam en appelkoos sosatie bedien met couscous.

Die Stellenbosch 1679 Pinotage 2019 het by die 2021 Concours Mondial Bruxelles ’n Grand Gold Medalje gewen, wat slegs vir die beste 100 wyne uit 10 000 wyne geproe toegeken word. ’n Groot eer.

Verder is die pinotage aangewys as die beste pinotage by die 2021 National Wine Challenge en is sopas bekroon as een van die Absa Top-10 Pinotage wennerwyne vir 2021. ’n Uitstekende wyn en ’n verpligte koop vir enige wynliefhebber.

Besoek www.koelenhof.co.za om jou wyn te bestel.

Neethlingshof

Neethlingshof in Stellenbosch vier ook vanjaar ’n wyn in die wenwyn in die Absa Top-10 Pinotage-kompetisie.

Die druifsoort pinotage word hoog geag by Neethlingshofs en die keldermeester De Wet Viljoen het ’n ongelooflike passie en liefde daarvoor. Iets wat hom trots daarop maak om Suid-Afrikaans te wees.

Vanjaar is die Neethlingshof Estate Pinotage 2020 as ’n top-10-pinotage aangewys en die hele span by Neethlingshof is baie trots daarop.

Besoek neethlingshof.co.za/wines/ om joune teen R115 per bottel te bestel.

Meer oor:  Wynkompetisie  |  Pinotage Top 10  |  Pinotage
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.