Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Hiér kry jy sauvignon blanc in oorvloed

Die seisoen vir wyntoere is nog lank nie verby nie en Kapenaars het ongelooflike wynplase op hul voorstoep, skryf Suzaan Potgieter.

Sauvignon blanc kraai koning by D’Aria en elkeen is ’n plesier vir die palet. Foto’s: VERSKAF

Reën of sonskyn, wind of mooiweer – oud en jonk kan die Durbanville-wynroete regdeur die jaar geniet.

Kelders in en om Durbanville is immers bekend vir die uitstekende sauvignon blanc wat hulle lewer en die area se klimaat is net reg vir dié druifsoort.

Of jy nou saam met vriende ’n wyntoer wil aanpak, uitspan met die gesin of ’n Sondagmiddagete wil geniet, hier is iets vir almal.

Speelpark vir almal

Oud en jonk sal ’n ewe lekker tyd by Altydgedacht hê, want hier is soveel meer om te doen as net wynproe.

Bring gerus die kinders saam, want hulle bied onder meer ’n glykabel, verfbal, laser tag en ’n groot grasperk waar die kinders kan speel. In die proelokaal is daar, benewens al die wyn, kaasborde (R160) beskikbaar asook piekniekmandjies en daar is soms kos­trokke by die kelder oor naweke.

’n Wynproe kos R40 vir vyf wyne. Kry hulle sauvignon blanc teen R105 per bottel – ’n gunsteling onder besoekers.

Hulle is heelweek oop. 

Jou kontak: 021 976 1295

Lekker langs die dam

Met ’n dam, ’n groot grasperk en baie bome, is D’Aria se proelokaal net ’n plek vir ontspanne kuiers.

Hier is ’n sterk sauvignon blanc-fokus met drie wyne, ’n versnit en ’n vonkelwyn wat van dié druifsoort gemaak word.

Hier is ’n sterk sauvignon blanc-fokus met drie wyne, ’n versnit en ’n vonkelwyn wat van dié druifsoort gemaak word.

Hulle bied twee proe-opsies aan: R40 vir enige vyf wyne en R40 vir enige drie wyne uit die D’Aria Reserve-reeks.

Wyne wat jy moet probeer, sluit in die D’Aria Sauvignon Blanc 2018 (R76), die Songbird Sauvignon Blanc 2018 (R153) en die Pop Song 2018 (R82) wat ’n sauvignon blanc-vonkelwyn is.

Die proelokaal bied die lekkerste gourmet-burgers (R80) waar jy kan kies tussen verouderde cheddar met uiemarmelade; bloukaas en spek-konfyt; en vy en camembert.

Daar is ook borde met kaas (R80) of met vleis by (R180) en ’n paar lekkernye vir die kleinspan soos skyfies en hoenderrepies.

Kinders kan ook in die speelpark of op die grasperke baljaar.

Die proelokaal is Maandae tot Sondae oop.

Jou kontak: 021 801 6772

’n Naweekkuier

Kaas, vleis en varsgebakte brood is ’n wenkombinasie by Klein Roosboom.

Of jy nou die proelokaal besoek of die rugby saam met vriende wil kyk, by Bloemendal kan jy albei geniet.

Saterdae is voorwaar die lekkerste dag hier met soveel aanbiedinge wat kos, wyn en lekker tye insluit.

By die proelokaal kan jy onder meer die Waterlily-reeks wat ’n sauvignon blanc (R70) en die shiraz rosé (R50) insluit, probeer. Die malbec en syrah is ook twee lekker wyne. Proeë kos R50 vir vyf wyne.

Die Suider Terras 2015 is nie beskikbaar om te proe nie, maar is teen R200 die bederf werd.

Elke Saterdag het hulle ook ’n tent waar jy rugby kan kyk, bier en wyn kan drink en gebraaide lekkernye kan geniet. Wees op die uitkyk vir die “man-en-vrou- aanbod” van ’n glas wyn en ’n bier vir R65.

Die Bon Amis-restaurant is ook op die perseel en bied ontbyt, middagete en aandete.

Hulle het gereeld spesiale aanbiedinge, hou dus die Facebook-blad dop. Hulle is ook kindervriendelik met ’n speelarea.

Die proelokaal is heelweek oop en die restaurant is op Maandae gesluit.

Jou kontak: 021 976 2682

Bederf jouself

Met 75% van Nitida se produksie wat sauvignon blanc is, weet jy sommer dié druifsoort is vir hulle ’n ernstige saak.

Daar word tot drie style sauvignon blanc in die kelder gemaak: tradisioneel, gehout of ’n enkelwingerdwyn.

Daar word tot drie style sauvignon blanc in die kelder gemaak: tradisioneel, gehout of ’n enkelwingerdwyn.

Wynproeë kos R40 of R60 en jy moet die tradisionele sauvignon blanc 2018 (R98), Golden Orb 2017 (R300) en Wild Child 2018 (R160) probeer – een druifsoort, maar in drie style.

Probeer ook The Tinkery 2017 wat 100% viognier is, maar elke oesjaar is ’n ander eksperiment wat die wynmaker uittoets. Elke jaar is dus ’n ander verrassing.

Maak ook ná jou wynproe ’n draai by die Cassia-restaurant . Hier kan jy kies uit onder meer ’n sappige beesfilet (R215) of dekadente varklies (R175).

Daar is ook burgers, vis en pasta asook voor- en nageregte.

Vir peuselhappies kan jy kies uit drie tapasborde wat goed saam met die wyn werk.

Die proelokaal is van Maandae tot Sondae oop.

Jou kontak: 021 976 1467

Wyn, bier en Saartjie!

Die tapasborde by Cassia is ’n lekker peuselhappie saam met Nitida se wyne.

Met drie wynreekse, bier, ’n rustige atmosfeer en vele meer, is Hillcrest net die plek waar jy die naweek kan afskop.

Die restaurant bedien ontbyt, burgers, pizza en steak en jy kan hier die uitsig inneem terwyl jy op die gras sit en ’n glas wyn of bier geniet.

’n Gunsteling onder die wyne is die Saartjie-reeks wat na die wynmaker se hond vernoem is. Dit kos R145 per bottel en sluit ’n sémillon en cabernet franc in.

Die vraag is ook: Was jy werklik by Hillcrest as jy nog nie vir Saartjie ontmoet het nie?

Dié Jack Russell wat gereeld by die kelder te sien is, is geen vreemdeling vir besoekers nie.

By die proelokaal betaal jy per wyn wat jy proe en jy kan dus self kies. Dit wissel tussen R10 en R25 per proe.

Daar is ook olywe en olyfolie wat op die plaas gemaak word, te proe en te koop. Probeer ook die proelokaal se olyfproe-bord wat al die olyfprodukte bevat (R80).

Die Havoc Brew-biere sluit ’n weiss en lager in (R35 of R45). Jy kan ook ’n bierproe geniet (R65).

Elke tweede Sondag van die maand is daar musiekvermaak en hulle is Vrydag- en Saterdagaande oop vir onder meer burgers, pizza, bier en wyn.

Die proelokaal en restaurant is Dinsdae tot Sondae oop.

Jou kontak: 021 975 2346

Unieke ervaring

’n Besoek aan Klein Roosboom is altyd iets besonders en binnekort sal hulle ook met ’n nuwe toevoeging spog.

In die proelokaal is die ou kuipe omskep in private kamers wat jy vir ’n wynproe kan bespreek.

Andersins kan jy binne of buite sit om jou wyn te geniet.

Andersins kan jy binne of buite sit om jou wyn te geniet.

Jy kan ’n wynproe van ses wyne vir R60 probeer of hulle kos-en-wynproe-en-passing (R110). Die sauvignon blanc 2018 (R85) en merlot 2016 (R125) is twee wyne om te probeer.

Koop gerus ook ’n bottel Marné Brut MCC (R180) en wend ’n poging tot die sabrage-metode aan deur jou bottel met ’n swaard oop te maak.

Daar is ook twee peuselborde om van te kies: ’n kaas-en-vleisbord wat groot genoeg vir twee is (R195) en die Twee-Buffels-Met-Een-Skoot-Morsdood-Geskiet-Fontein (R145) wat onder meer biltong, droëwors en ander lekkernye bevat. Albei word met varsgebakte brood bedien.

Hulle bou ook aan hul nuwe restaurant wat vanjaar nog sy deure sal oopmaak.

Die proelokaal is Dinsdae tot Sondae oop.

Jou kontak: 060 877 2678

Dié heuwels is fantasties

Met so ’n uitsig trakteer ’n wynproe by Durbanville Hills die palet én die oog.

Met Tafelberg op die horison is Durbanville Hills se uitsig ’n pluspunt om saam met die heerlike wyn te geniet.

Of jy by die restaurant wil aansluit of net ’n wynproe wil doen, hier is die opsies onbeperk. Daar is verskillende wynproe-opsies wat wissel van R70 tot R95 en ’n paar proe-en-passing-opsies met biltong, sjokolade en kaas.

Hul nuwe wynproe met die Collectors Reserve-wyne is beslis ’n gunsteling. Hier word die sewe wyne saam met verskillende kositems voorgesit sodat jy kan sien wat by die wyne pas.

Dié proe neem sowat twee uur, kos R295 per persoon en sluit een van die wyne van jou keuse in om huis toe te neem. Dit kan slegs Maandae tot Vrydae gedoen word.

Op elke bottel is ’n kunswerk van Theo Voster wat Kaapstad-bakens soos die Tafelberg-kabelspoor, die promenade, die Kaapse mis en nog meer uitbeeld.

Twee gunstelinge uit die reeks is The Cape Mist Sauvignon Blanc 2018 (R150) en The Castle of Good Hope Cabernet Sauvignon 2016 (R170).

Benewens die restaurant op die boonste vloer bied hulle ook happies vir besoekers wat buite wil sit.

Hulle is heelweek oop.

Jou kontak: 021 558 1300

Meer oor:  Wyn  |  Sauvignon Blanc  |  Versnit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.