Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Hier sal die stoepkuiers jou hart steel

Die meeste van ons ry gereeld deur Wellington op pad na ons bestemming, maar as jy ’n paar uur vry het, moet jy beslis hier stop en kyk wat dit het om te bied, skryf Suzaan Potgieter.

’n Proe by Jorgensen’s is agter op die stoep, en met só ’n uitsig oor die wingerd en berge in die verte sal ’n mengeldrankie selfs nog meer geniet word.Foto’s: VERSKAF

Wellington se wynroete spog met ’n wye verskeidenheid van kelders en distilleerders, so moenie dat die dorp se grootte jou bluf nie.

Hier is van groot koöperatiewe wynkelders tot kleiner produsente; van ’n distilleerder van brandewyn tot een wat spesialiseer in jenewer.

’n Saterdag in dié dorp sal nooit vervelig wees nie.

’n Spiritusbederf

In die hartjie van Wellington sal jy aangenaam verras wees met Jorgensen’s Distillery – die plaas­like distilleerder waar jy sommer op die huis se stoep die produkte kan geniet.

’n Heel ander ervaring wag hier op jou, want dit voel kompleet of jy by jou eie huis is. Proeë word op die agterstoep aangebied, waar jy ’n uitsig oor wingerde geniet –’n regte bederf op ’n sonnige dag.

Daar is twee reekse: die Jorgensen’s en die Wild Rose. Die produkte in die reekse is min of meer dieselfde, maar word volgens verskillende resepte gemaak.

Om dit met mekaar te ver­gelyk sorg vir ’n interessante proe-ervaring. Boonop is albei fynbosjenewers onlangs by die SA Craft Gin-pryse vereer.

Bederf jouself met die Pepper of Fynbos Gin. Albei is heerlik met interessante smake.

As jy na iets soek wat meer opwindend is, sal jy die Blue Pea moet probeer. Hierdie blou jenewer word pers as jy kinawater bygooi.

Jy kan vier van die jenewers proe waarna ’n mengeldrankie met jou gunsteling van die vier gemaak sal word vir R80.

’n Bottel kos R400 en ’n mengeldrankie R60 of R80.

Behalwe die jenewer is daar ook wodka en absinthe.

Jy kan Jorgensen’s Maandae tot Saterdae besoek, maar slegs per afspraak.

Jou kontak: 021 864 1660

’n Middagete bestemming

Wild Rose se reeks jenewers is ’n bederf en alles kan by Jorgensen’s Distillery geproe word.

Met ’n kragtige wynlys wat uit vyf reekse bestaan, sal jy sukkel om nie iets by Imbuko te vind waarvan jy hou nie.

Dit is net die plek om op warmer dae te besoek en sodra die son sy kop uitsteek, kan jy op die gras ontspan met ’n verfrissende glas wyn.

Probeer gerus die Van Zijl’s Shiraz/Mourvèdre 2017 (R60), wat ’n heerlike rooiversnit is, of die Du Plevaux Daniël Johannes Shiraz 2016 (R95), ’n shiraz propvol geur.

As jy iets prettiger soek, is die Pomüla-reeks vir jou. Dit is ’n kombinasie van witwyn en sap van granate en maroela met ’n tikkie borrels (R50) om dit lekkerder te maak. Dit kom ook in klein botteltjies van 330 ml (R18). Ook die niealkoholiese Pomüla-sap is in 330 ml te kry.

’n Gewone wynproe van vyf wyne kos R50. Ander proeë wissel tussen R50 en R175.

Imbuko bied steeds sy pasteitjie-en-wynproe (R80) waar vier pasteitjies saam met vier verskillende wyne bedien word.

Maak gerus ook ’n draai oor middagete om die pastei-en-wynmiddagete (R80) te geniet. Dit sluit ’n pastei in met ’n glas wyn van jou keuse. Verder is daar ook ’n broodbord (R70), ’n kaas-en-vleisbord (R175) en toebroodjies (R45).

Imbuko is Maandae tot Saterdae oop.

Jou kontak: 021 873 7350

Huislik en lekker

Meer tuis by ’n wynplaas as by Jacaranda gaan jy nie sommer voel nie. ’n Stoepkuier hier is ’n hoogtepunt tydens enige besoek aan Wellington.

Die wyne spog met unieke name wat meer oor die wyne deel en ’n storie vertel. Hoor gerus waarom die wyne onder meer Salt, Rebel en Early Bird heet.

Hier is die eienaar, wingerdboukundige en wynmaker een persoon. En die wyn ’n resultaat van passie.

Probeer die Chenin Blanc 2018 (R95), Salt Old Vine Chenin Blanc 2016 (R305) en Rebel Shiraz 2017 (R250).

Die MCC (R195) is ook die drankie waarmee jy enige proe of dag sal wil begin.

Saam met die wynproeë word ’n peuselhappie of twee bedien. Hulle maak ook kaasborde wat jy vooraf moet bestel.

Jacaranda is Maandae tot Vrydae oop vir proeë.

Jou kontak: 072 432 6716

Leer oor stokkies en wyn

LINKS: Dié smullekker kaasbord by Imbuko is die regte pasmaat vir enige wyn.

’n Besoek aan Mischa is veel meer as net ’n wynproe, want die opvoedkundige aspek van wynmaak en wingerd is ook hier ter sprake.

Dié plaas fokus hoofsaaklik op die vervaardiging en verkoop van wingerdstokkies. Dit is dus te verstane waarom die wyne so lekker is, want hulle is die mense wat verantwoordelik is vir die verskaffing van topgehalte­wingerdstokke.

Mischa se Sauvignon Blanc 2019 (R120), Cabernet Sauvignon 2018 (R255) en Roussanne 2018 (R180) is net ’n paar van die topklaswyne in die reekse.

Proeë word op slegs een Saterdag per maand gedoen. Dit word gedoen saam met een van die eienaars, wat ’n bietjie meer agtergrond oor die plaas, wyn en wingerd sal gee.

Kontak hulle vooraf om die datum vir die proeë te kry en jou plek te bespreek.

Jou kontak: 021 864 1020

Plek vir die hele gesin

Die reusegrasperk en oop ruimtes by Welbedacht is beslis die tweede grootste trekpleister op die plaas, met die wyn wat natuurlik die eerste prys is.

Die hele gesin is welkom hier – terwyl die ouers ’n glasie of twee geniet, kan die kinders op die grasperk baljaar.

Op jou proelysie moet die Meerkat Sauvignon Blanc 2019 (R65) wees, wat sommer splinternuut, vars en tropies is.

Aan die rooiwynkant kan jy altyd staatmaak op die Bohemian Syrah 2016 (R200), wat sag op die palet is met goeie vrug en spesery, en die Hat Trick 2015 (R250), wat ’n Kaapse versnit is met mooi balans tussen die komponente.

Welbedacht is Maandae tot Saterdagmiddae oop.

Jou kontak: 021 873 1877

Nóg wyn

Die paartjie agter Truter Family Wines is albei gesoute wyn­makers wat sedert 2013 voltyds aan dié handelsmerk werk.

Al het hulle nog nie hul eie wingerd, kelder of proelokaal nie, keer dit hulle nie om van die beste wyne aan wynliefhebbers te verskaf nie.

Die voordele van wingerd aankoop is dat hulle self die beste druiwe kan uitsoek en kies – iets wat jy duidelik in hul wyne kan proe.

Dié twee is beslis versnit-kenners en hul Agaat Christina 2018 witversnit is ’n elegante en heerlike wyn. Dit tel onder hul topdrie wyne saam met die Agaat John David 2017 rooi­versnit met sy mooi balans.

Nóg een wat uitstaan, is die Taste Cabernet Sauvignon/Shiraz 2017 met mooi tannienstruktuur en goeie balans.

Die wyne kos tussen R58 en R120 per bottel. Dit is direk by Truter Family Wines beskikbaar of by die Kurk-wyngalery in die Breytenbach-sentrum in Wellington.Jou kontak: hugo@truter­familywines.co.za


Meer oor:  Wyn  |  Wynplaas  |  Versnit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.