Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Hierdie 10 pinotage-wyne is topklas!

Jaarliks wag verbruikers en verskaffers in spanning vir die aankondiging van die Absa Top-10 Pinotage om te kyk watter van die eg Suid-Afrikaanse wyne die beste is.

Vanjaar se spoggeleentheid by die Cavalli-landgoed in Stellenbosch verlede week het weer vir groot opwinding gesorg en die tien bestes het met die louere weggestap.

Daar was vanjaar ’n rekordgetal van 161 inskrywings vir die kompetisie waaruit die top-20-finaliste gekies is.

Beyers Truter, voorsitter van die Pinotage Assosiasie, sê die kompetisie het bygedra tot die sukses van pinotage.Foto’s: Andrew Gorman

Byna die helfte van die top-20 kom van Stellenbosse wingerde en die ander is opgemaak uit wyne uit die Breedekloof, Piekenierskloof, Durbanville, Kaapstad, Paarl, Darling en Worcester.

Die beoordelaars het nie ’n maklike taak gehad om die finaliste te kies nie, maar het ná ’n streng proeproses reggekry om die tien bestes aan te wys. Vanjaar se paneel het bestaan uit Neil Ellis van Neil Ellis Wines (voorsitter), Samarie Smith (Benguela Cove se handelsmerk- en sakebestuurder), Francois Haasbroek (wynmaker), Nomonde Kubheka (wynopvoeder) en Francois Rautenbach (wynaankoper vir Singita).

Beyers Truter, die stigter en voorsitter van die Pinotage Assosiasie, het tydens die geleentheid gesê pinotage is nie meer dieselfde as in die verlede nie en dat die kompetisie daartoe bygedra het.

“Die prys van pinotage-wyne was altyd heelwat laer en mense het dus gedink die wyne is dan ook van ’n laer gehalte.

“Vandag hou pinotage kers vas by vele ander topklaswyne,” sê hy.

Volgens hom het die hoër pryse vir pinotage ook daartoe gelei dat meer mense daaruit baat, want dit beteken groeiers van dié druifsoort kry óók meer geld en kan dus vir hul werkers beter salarisse aanbied.

Die wenners van die Absa Top-10 Pinotage! Agter van links is Danie Steytler (Kaapzicht Steytler Pinotage 2015), Juandré Bruwer (Diemersdal Pinotage Reserve 2017), Clayton Reabow (Môreson The Widow Maker Pinotage 2015), Anri Truter (Beyerskloof Diesel Pinotage 2015) en Van Zyl du Toit (Allée Bleue Black Series Old Vine Pinotage 2016). Voor is Pierre Wahl (Rijk’s Reserve Pinotage 2014), Annette van Zyl (Fairview Primo Pinotage 2016), Abrie Beeslaar (Kanonkop Pinotage 2013), Mia Boonzaier (Flagstone Writer’s Block Pinotage 2016) en Danie van Tonder (Lyngrove Platinum Pinotage).

2018 Absa Top-10-wenners

Die 2018 Absa Top-10-wenners bestaan hoofsaaklik uit wyne wat geskep is deur wynmakers met ’n stewige pinotage-rekord, en almal met dieselfde doelwit voor oë, naamlik om die heel beste pinotage-“meesterstuk” te skep.

Truter het ook lof uitgespreek teenoor die wynmakers van dié spogwyne: “Pinotage-wynmakers is in voeling met die terroir en hulle toon oorspronklikheid in soveel verskillende style van pinotage.

“Hierdie wynmakers is nie bang nie, het groot harte en hou daarvan om kanse te waag.”

Verder sê hy die gehalte van pinotage neem baie toe en die mark groei daagliks.

Hierdie wynmakers werk hard om die aansien en sofistikasie van wyne wat in Suid-Afrika gemaak word, uit te bou. Die lewensduur van hierdie kompetisie het dit moontlik gemaak vir pinotage-pioniers om pinotage-legendes te word.
John Tshabalala, Absa se bestuurshoof vir die Wes-Kaap.

“As ’n mens na die gehalte van vanjaar se 20 finaliste kyk, is dit duidelik dat ons wynmakers beslis op die regte pad is om pinotage se gewildheid te laat groei. Hulle omhels nie net die druif se unieke eienskappe nie, maar leer ook hoe om die heel beste daaruit te haal in die wingerd en die kelder.

“Hulle is duidelik ook vasbeslote om pinotage se gehalte voortdurend te verbeter en om sowel Suid-Afrikaanse as buitelandse verbruikers in te lig en op te voed oor die uitmuntende wyne wat geskep word.”

John Tshabalala, Absa se bestuurshoof vir die Wes-Kaap, het die finaliste en wenners gelukgewens en gesê die groep is trots om saam met die Pinotage-vereniging hierdie belangrike en toonaangewende bedryfspryse te kan toeken.

“Ons wens al die trofeewenners, asook die finaliste, groot sukses toe in hul wynmaakreis en hoop hulle bly floreer in sowel die plaaslike as buitelandse markte.

“Die individue en wyne wat ons vandag vier, het ook ’n belangrike en merkwaardige bydrae gemaak tot die landbou-ekonomie en die ontwikkeling van die Wes-Kaap en Suid-Afrika,” sê hy.

“Ons is trots om die afgelope 22 jaar deel te wees van die pinotage-reis en ons sien uit na sommer nog baie jare saam. Absa bly toegewyd daartoe om die unieke en trots Suid-Afrikaanse wyne van pinotage-druiwe te bemark.

Vertroue en geloof

Die Absa Top-10 Pinotage-kompetisie het inderdaad ’n belangrike platform geword vir die erkenning van uitnemendheid in die wynmaakbedryf.

“Ons voortgesette betrokkenheid en ondersteuning van hierdie kompetisie word gedryf deur ons vertroue en geloof in die nuwe geslag Suid-Afrikaanse wynmakers.

“Hierdie wynmakers werk hard om die aansien en sofistikasie van wyne wat in Suid-Afrika gemaak word, uit te bou. Die lewensduur van hierdie kompetisie het dit moontlik gemaak vir pinotage-pioniers om pinotage-legendes te word.”

Tshabalala het bygevoeg dat Absa se voortgesette ondersteuning van die Pinotage-vereniging in lyn is met die bank se visie om ’n langdurige en positiewe impak te hê in die gemeenskappe wat hy bedien.


Só kry jy jou hande op top-10-pinotagewyne

As jy ’n liefde vir pinotage in jou hart dra, moet jy beslis jou kas volmaak met Absa Top-10 Pinotage se wenners. Suzaan Potgieter deel meer oor die wenwyne.

Slegs tien wyne ontvang jaarliks die eer om deel te vorm van die Absa Top-10 Pinotage se lys van wenners.

Vanjaar se wenners moes 161 inskrywings – die meeste tot nog toe – uitstof om die kroon te dra.

Kanonkop het geskiedenis gemaak deur vir die 13de jaar ’n posisie in die toptien te kry, terwyl Rijk’s hul 12de trofee ontvang het.

Beyerskloof het al agt trofeë in die kas, Flagstone het ses en Môreson het vyf.

Allée Bleue Black Series Old Vine Pinotage 2016 van die Piekenierskloof-wingerde is vanjaar die eerste wyn van die Old Vine Project wat ’n toptien-trofee ontvang het.

Diemersdal se wyn is die enigste van Durbanville, Fairview die enigste van die Paarl en Lyngrove en Kaapzicht wys dat Stellenbosch goeie pinotage maak.

Buiten bogenoemde, was die volgende wyne vanjaar se naaswenners:

  • Alvi’s Drift Reserve Verreaux Pinotage 2015
  • Badsberg Pinotage 2017
  • Diemersdal Pinotage 2015
  • Kaapzicht Pinotage 2016
  • Kanonkop Pinotage 2015
  • KWV The Mentors Pinotage 2016
  • Lanzerac Pionier Pinotage 2015
  • Meerendal Heritage Block Single Vineyard Pinotage 2016
  • Môreson The Widow Maker Pinotage 2015
  • Wellington Wines Duke of Wellington Pinotage 2017

Dís wat die wenwyne kos

  • Allée Bleue Black Series Old Vine Pinotage 2016

Die wynmaker Van Zyl du Toit se wyn is vir R350 by die proelokaal in Franschhoek beskikbaar.

  • Beyerskloof Diesel Pinotage 2015

Die wynmaker Anri Truter se wyn is by die proelokaal in Stellenbosch teen R750 beskikbaar.

  • Diemersdal Pinotage Reserve 2017

Die wynmaker Thys Louw se wyn is by die proelokaal in Durbanville teen R150 beskikbaar.

  • Fairview Primo Pinotage 2016

Die wynmaker Anthony de Jager se wyn is by die proelokaal in die Paarl teen R275 te kry.

  • Flagstone Writer’s Block Pinotage 2016

Die wynmaker Gerhard Swart se wyn is vir R275 by die kelder in Somerset-Wes beskikbaar.

  • Kaapzicht Steytler Pinotage 2015

Die wynmaker Danie Steytler se wyn is by die proelokaal in Stellenbosch teen R450 beskikbaar.

  • Kanonkop Pinotage 2013

Die wynmaker Abrie Beeslaar se 2013-pinotage is nie meer beskikbaar nie, maar die 2016-oesjaar is by die proelokaal in Stellenbosch teen R375 beskikbaar.

  • Lyngrove Platinum Pinotage 2016

Die wynmaker Danie van Tonder se wyn is vir R167 by die kelder in Stellenbosch beskikbaar.

  • Môreson The Widow Maker Pinotage 2015

Die wynmaker Clayton Reabow se wyn is vir R250 by die proelokaal in Franschhoek beskikbaar.

  • Rijk’s Reserve Pinotage 2014

Die wynmaker Pierre Wahl se wyn is by die proelokaal in Tulbagh teen R450 beskikbaar.

Die drie wenners van die museumklas was vanjaar De Wet Viljoen se Neethlingshof Lord Neethling Pinotage 2003, Abrie Beeslaar se Kanonkop Pinotage 2006 en Pierre Wahl se Rijk’s Private Cellar Pinotage 2008.

Kry al 10 wyne in een kis!

Die Pinotage Assosiasie saam met Wine-of-the-Month Club ’n aanbod wat die verkryging van die toptien-wyne vergemaklik.

Jy kan die Absa Top 10 Pinotage-kis aanlyn bestel teen R3 998 en dit sal binne vyf werksdae by jou afgelewer word.

Voorraad is egter beperk met net 360 kiste wat beskikbaar gemaak is. Gaan na die webtuiste www.wineofthemonth.co.za om jou boks te bestel.

Ouer wyne ook vereer

Pinotage-wyne wat ouer as tien jaar is, het vir die tweede jaar kans gekry om in te skryf vir die museumklas.

Luidens die beoordelaars was daar vanjaar ’n paar uitstekende wyne waarvan ’n paar byna perfekte punte behaal het.

Kanonkop, Neethlingshof en Rijk’s is vanjaar as die topdrie bekroon en Grangehurst en Neil Ellis was die naaswenners.

Die drie wenners van die museumklas:

  • Kanonkop Pinotage 2006 (wynmaker Abrie Beeslaar);
  • Neethlingshof Lord Neethling Pinotage 2003 (wynmaker De Wet Viljoen);
  • Rijk’s Private Cellar Pinotage 2008 (wynmaker Pierre Wahl).

Meer oor:  Stellenbosch  |  Wyn  |  Toekennings  |  Pinotage
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.