Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
RESEP: Hoe morsiger, hoe lekkerder

As dit kom by burgers, glo Errieda du Toit dat jy groot happe moet neem.

Die hamburger kan dalk beskou word as die universele simbool van gemorskors, maar ’n sappige burger, morsig van al die lekkerte, bly steeds een van die koswêreld se grootste uitvindsels.

Een van my grootste klein plesiertjies in die tyd van die koronavirus is om ’n ontbytburger by Jéan-deli op die wynplaas Klein Roosboom te gaan eet. Dan pols ek die sjef Lorianne Heyns oor goeie burgerskap.

“In ’n wêreld wat besig en duur geword het, en waar alles vinnig en maklik moet gebeur, bring die burger sy kant,” reken sy. “Dis bekostigbaar, vullend en ’n geduldige draer vir soveel variasie en geure.”

Die ontbytburger by Klein Roosboom. Foto: IAN DU TOIT

Vir haar is die perfekte burger gebalanseerd met ’n sappige, goed gegeurde pattie op ’n vars, bottersagte geroosterde rolletjie. “Ons patties bestaan uit net grasgevoerde beesmaalvleis van borsstuk (brisket), dikrib (chuck) en kortrib. Dit het die ideale vetgehalte vir sappigheid en geurigheid.”

Om die vleissmaak te laat seëvier, geur sy dit net met geroosterde koljandersaad en natuurlike sout en peper. Sy raai aan om liggies met die maalvleis te werk as jy dit meng, anders raak dit kompak. ’n Stukkie botter word in die pattie gedruk terwyl dit gaargemaak word vir ’n neuterige smaak en ekstra sappigheid.

Wanneer jy die burger aanmekaarsit is dit net so belangrik om te besluit wat jy gaan uitlaat, as wat jy gaan bysit. “Eenvoud bly koning, sodat die bykomstighede nie die smaak van die goeie vleis oordonder nie. Los dan bietjie ruimte vir kreatiwiteit met seisoenbestanddele.”

’n Paar kosspatsels is ’n aanduiding dat die burger super lekker is.

Sy verkies ongekompliseerde vulsels, soos beleë kaas, net reg gesmelt en loperig; of bros repies gerookte spek in die oond gebak met gekaramelliseerde uie en ’n eier wat sonkant na bo gebak is. Vars slaaiblare of peperige roket sorg vir die kraak.

Lorraine sal nooit tamatiesous uit ’n botteltjie op ’n burger eet nie, maar Anthony Bourdain, die legendariese sjef en reisiger, was nie puristies oor ketchup nie en het selfs geprosesseerde kaas verkies bo enigiets gourmet. Ek wonder wat hy sou sê oor Las Vegas se berugte $5 000-burger van wagyu-bief, foie gras en truffel-skaafsels.

Moet ’n burger noodwendig bult van al die toppings en souse om ’n triomf te wees? Bourdain het gereken dat die argitektuur van ’n burger deurslaggewend is vir ’n aangename eetervaring. Jy moet dit met die hande kan eet sonder dat dit uitmekaar skuif met elke byt en die helfte op jou klere laat beland.

Lorraine hou van dit sappig en morsig. “ ’n Paar kosspatsels is ’n aanduiding dat die burger super lekker is.”

Ek val ook in die kamp van hoe morsiger hoe beter, veral nadat ek die wenk by ’n burger-verslaafde tiener gekry het om ’n souserige burger om te draai en onderstebo te eet. Dan is die nat kant bo en keer dat die burger so maklik breek. Nog raad is om groot happe te neem en genoeg servette byderhand hou.

  • Besoek Du Toit se blog Huiskok.com vir nog resepte vir burgers, tamatieblatjang, sampioensous, guacamole, rissiesous, vinnige piekels, beettjips en soetpatattjips.
  • Besoek www.kleinroosboom.co.za vir inligting oor die besoektye van die Jéan restaurant en deli op die wynplaas.


Die ideale hamburger-rolletjie

Vars, sagte sesamrolletjies, briocherolletjies of Portugese rolletjies is ideaal omdat jy maklik daardeur kan byt. Die sagte tekstuur help om die souse te absorbeer en dis ferm genoeg om die vulsel te hou. Harde rolletjies soos ciabatta gee nie mee nie en druk die vulsel net te maklik uit.

Patties was aanvanklik op roosterbrood bedien tot Walter Anderson, ’n kok by ’n eetplek in Wichita, Kansas, in 1916 die eerste ware hamburgerrolletjie geskep het soos ons dit vandag ken. Kort daarna het hy die eerste hamburger-kettingrestaurante in die VSA begin. Die sesamsaadjies het eers later ’n beroemde kenmerk geword.


Bielie-burger 

Dis die resep waarop ek terugval as ek nie by Klein Roosboom kan uitkom nie en wanneer die burger-gier ons tref. Tamatieblatjang vervang die gebruiklike tamatieskywe.

Maak 4 burgers.

Wat jy benodig

Hamburgerfrikkadelle:

  • 800 g gehalte beesmaalvleis met 10% vet of meer
  • 15 ml fyngekapte pietersielie
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 1 suurlemoen se skil
  • 10 ml sout
  • 2,5 ml peper

Ekstras:

  • botter vir smeer
  • agurkies
  • slaaiblare of roket
  • tamatieblatjang of tamatieskywe
  • sterk kaas

Maak dan só

Voorverhit die oond tot 200°C.

Soteer die uie en knoffel in olie oor medium hitte tot sag. Laat afkoel.

Meng die maalvleis, gaar uiemengsel, suurlemoenskil, sout en peper liggies deur in ’n mengbak.

Vorm vier frikkadelle met klam hande: bring die vleis lossies bymekaar in balletjies en plaas op die werkvlak. Met jou handpalms om die kante roteer die koekie om en om tot die kante effens rond is. Druk liggies bo-op met jou handpalm. Elkeen moet sowat 2,5 cm dik wees. Om te keer dat die frikkadelle met ’n bult gaar word, druk ’n holtetjie in die middel van die rou burger met ’n lepel of jou duim.

Verhit olie in ’n pan en seël die frikkadelle albei kante oor hoë hitte tot bruin. Bak tot deurgaar in ’n warm oond.

Terwyl die frikkadelle behoorlik rus, smeer wit sesamrolletjies met botter en rooster dit liggies. Pak die burger met die res van die bestanddele.

Meer oor:  Errieda Du Toit  |  Resep  |  Hamburgers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.