Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Hul wen – harde werk lê nou voor
Vreugde by Eat Out se 2019-prysuitdeling

Suid-Afrika se beste restaurante is onlangs by die 2019 Eat Out Mercedes-Benz-restauranttoekennings aangekondig. Dit was een van my kulinêre hoogtepunte van die jaar en die geleentheid is afgeskop met die Ndlovu-jeugkoor. Ja!

Daarna is ons bederf met ’n asemrowende vertoning van fynproewerskos en kreatiewe drankies wat die 700 gaste in vervoering gehad het. Bravo en briljant!

Verlede jaar het The Restaurant at Waterkloof in Sowerset-Wes die ses jaar lange segetog van The Test Kitchen in Wood­stock gestuit, maar vanjaar is La Colombe in Constantia in die eerste plek as restaurant van die jaar aangewys. The Test Kitchen het die tweede plek vir die tweede agtereenvolgende jaar behou, en The Restaurant at Waterkloof het die derde plek ingeneem.

Ek was in vervoering oor die Ndlovu-jeugkoor se uitvoering aan die begin van die aand.

La Colombe het twee plekke opgeskuif van sy derde plek in die top-10 verlede jaar. ’n Verheugde Scot Kirton, sjef-eienaar van La Colombe, sê: “Ek is so trots op wat die sjef James Gaag en die span op die oomblik doen. Dit was ons droom vandat ons vyf jaar gelede na Silvermist geskuif het en ons het dit uiteindelik bereik. Die harde werk begin nou.”

Gaag (31) was nog besig om die groot oomblik te laat insink. “My span hou my op my tone en inspireer my elke dag. Ons word daagliks aangevuur deur ons strewe na uitnemendheid. La Colombe is my tuiste,” het hy gesê.

Bertus Basson: Sjef van die jaar.

Die sjef van die jaar is Bertus Basson van Overture en Eike. Bertus hou kleurryke, egte Suid-Afrikaanse kos lewendig en vertel op alle vlakke wonderlike plaaslike stories deur sy kos.

Die hoofbeoordelaar Margot Janse het gesê: “Suid-Afrika se kulinêre evolusie is ongelooflik opwindend en om so baie nuwe restaurante onder die top-30 te sien, getuig daarvan. Ons word omring deur uitnemendheid. Ek weet watter harde werk en deursettingsvermoë dit verg om elke unieke ervaring te skep en daarom voel ek so geëerd om Eat Out se hoofbeoordelaar te wees.”

Camphors at Vergelegen het die volhoubaarheidstoekenning ontvang as erkenning vir hul verbintenis tot die implementering van praktyke wat omgewingsvriendelik en sosiaal verantwoordelik is.

Die span van die restaurant van die jaar, La Colombe, vier hul oorwinning.

Die wenners:

Sjef van die Jaar: Bertus Basson

Restaurant van die Jaar: La Colombe

Top-20 restaurante:

1. La Colombe

2. The Test Kitchen

3. The Restaurant at Waterkloof

4. Wolfgat

5. FYN

6. La Petite Colombe

7. Eike

8 . Salsify

9. Restaurant Mosaic at The Orient

1 0. Chefs Warehouse at Beau Constantia

11. Camphors at Vergelegen

1 2. Overture

13. LivingRoom at Summerhill Estate

14. Chefs Warehouse at Maison

15. Greenhouse at The Cellars-Hohenort

16. Le Coin Français

17. La Tête

18. The Shortmarket Club

19. Tjing Tjing Momiji

20. Rust en Vrede

Voortreflike Diens : The Test Kitchen

Opkomende Ster: Katlego Mlambo van The Marabi Club

Nuwe Restaurant van die Jaar: Jewell’s Restaurant

Sjefs se Sjef-toekenning: Ivor Jones van Chefs Warehouse at Beau Constantia

Wyndienstoekenning: Joseph Dhafana van La Colombe

Toekenning vir ’n uitnemende bydrae tot dienslewering: Jennifer Hugé

Toekenning vir lewenslange prestasie: Annette Kesler

Volhoubaarheidstoekenning: Camphors at Vergelegen

Styltoekenning: FYN

Toekenning vir Innovering: The Test Kitchen

“Gamechanger”-toekenning: Ishay Govender-Ypma en Zayaan Khan van SA POC at the Table

Kosmedia-ikoon-toekenning: Dorah Sitole

Mielie-en-nacho-paptert

Nicole Snelling se mielie-en-nacho-paptert. Foto: Anél Potgieter

Een van my kollegas by Expresso, Nicole Snelling, het die heerlikste mielie-en-nacho-paptertresep ontwikkel en ek wil dit graag vandag met julle deel. Wat dit besonders maak, is die nacho-kaas-en-sprietuie-bolaag wat ’n ekstra umami-smaak en krakerige tekstuur aan die gereg gee. Dit is ’n besonderse weergawe van ons geliefde braai-bykos.

500 ml gaar stywe mieliepap, met vurk losgemaak

2 eiers, geklits

500 ml geblikte mieliepitte

250 ml cheddarkaas, gerasper

2-3 sprietuie, fyngesny

125 ml nachos, stukkend gebreek

sout en peper na smaak

Vir bediening

suurroom

Voorverhit die oond tot 180 °C. Plaas die gaar pap in ’n mengbak, voeg die eier by en meng goed. Roer die mielies by, geur na smaak en skep in ’n gesmeerde oondbak. Druk effens plat.

Meng die gerasperde kaas, sprietuie en fyngemaakte nacho-skyfies saam. Skep bo-op papmengsel en bak vir 10-15 minute of totdat die kaas-bolaag goudbruin is. Sny die tert en sit voor met ’n ruim skeppie suurroom.

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpot@telkomsa.net

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.